[Week 1] Woensdag

Net daar waar jy is

Jou reis begin by jouself. Net waar jy nou is. Dalk is dit ’n diep hunkering na meer betekenis wat jou dring om op jou geestelike intelligensie te wil fokus. Jy is dalk net nuuskierig. Omstandighede laat jou miskien dink: “Daar móét meer in die lewe wees.” Wat jou rede ook mag wees – die reis begin waar jy nou is…

Neem ’n oomblik en som jou gevoelens op. Hoe voel jy vandag? Wat is jou deurlopende emosie die afgelope tyd? Wat is besig om jou al hoe meer te irriteer? Genot te verskaf? Is daar ’n diep verlange wat by jou opkom? Wat druk swaar op jou hart en dreig om jou te verskeur?

’n Eerlike selfondersoek laat jou toe om jou situasie in die oë te staar. Waar jy jouself tans bevind te definieer. Waar jy met al jou innerlike gevoelens en remmende bagasie is, is gelukkig nie die eindpunt nie. Jy hoef nie in jou huidige situasie te bly nie. Dis bloot jou vertrekpunt. Dis die lanseerbasis om met vlerke van geloof te vlieg na ’n hoopvolle toekoms!

Simon, ook Petrus genoem, en Andreas was besig om ’n werpnet in die see uit te gooi toe Jesus daar verbykom. “Hy sê toe vir hulle: ‘Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.’ Hulle het dadelik die nette gelos en Hom gevolg. (Matteus 4:19, 20).

Ek weet nie of hulle lankal reeds die hunkering na ’n Godsontmoeting gehad het nie. Wat ek wel lees, is dat hulle reis net daar en dan begin het. Hulle was nie eens in ’n kerk toe God hulle genooi het nie. Beleef jy dalk só “iets” wat jou nooi na ’n lewe van méér betekenis? Dis Hy…

Jou geestelike reis begin vandag. Net daar waar jy is.