[Week 1] Woensdag

’n HugSelfie

Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering.

Psalm 139:14

My beste vriend én my grootste vyand is albei iemand wat ek baie goed ken. Ekself!

As jy dink jy is die enigste jonge dame wat ’n kilometer lange lys foute agter haar aansleep, wil ek jou gerusstel. Jy en seker 90% van al jou vriende voel presies nes jy.

Hoekom? Die antwoord is eenvoudig. Ons almal wil wees dít wat ons sien in iemand anders van wie ons hou: hul gesig, lyf, talent, punte, geld en meer.

As jy vóél jou vriendin is mooier, beter, slimmer of cooler, of het beter smaak en is meer confident as jy, dan wil jy dit ook wees. En omdat jy nie kán nie (want almal kan net hulself wees), begin jy ’n wanpersepsie, ’n verkeerde beeld, van jouself skep. Jy raak jaloers en voel dat jy iets kortkom.

Dit beteken jou brein, siel en inner child hou dan nie meer van mekaar nie. Dit is ongelooflik skadelik! Staan nou dadelik op en stap na die naaste spieël. Gee jouself ’n groot druk en sê jy is jammer dat jy daardie kind binne jou so sleg behandel het.

Dis die heel eerste stap tot selfaanvaarding. Kom ons noem dit ’n HugSelfie!

Joe Foster