[Week 1] Vrydag

Ken jy jou man se liefdestaal?

Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking. Jakobus 5:16

Die huweliksberader, Floris Knouwds, sê ’n mens trou meestal met die idee dat die huwelik jou gelukkig gaan maak. Jy plaas die las vir jou eie geluk vierkantig op jou maat se skouers!

Maar dit moenie so wees nie. Dis miskien hoekom mense deesdae makliker skei. Die oomblik dat jy agterkom dat jy ongelukkig is, al is die oorsaak binne jouself, blameer jy jou man. Jy begin net sy foute raaksien en later glo jy hy is die oorsaak van jou ongelukkigheid. Jy dink julle persoonlikhede verskil te veel en dat julle liewer nooit moes getrou het nie.

Dis interessant dat die Bybel nie so geïnteresseerd is daarin of jy die regte huweliksmaat gekies het of nie. Dis eerder jou gehoorsaamheid binne die huwelik wat tel. Liefde is ’n werkwoord.

Die vraag is eerder: Hoe leef ek binne die huwelik nadat ek my verbind het tot iemand? Bou ek daardie persoon op? Het ek selfopofferend lief? Gee ek myself ten volle vir hom?

Martin Luther het gesê voor die huwelik kan jy die een kies wat jy wil liefhê, na die huwelik moet jy die een liefhê wat jy gekies het. Dis so waar!

Die liefde is soos ’n vlammetjie wat partykeer hoog brand en ander kere brand dit dowwer. Maar dis in daardie tye wat ons ’n wilsbesluit moet neem om aan te hou liefhê.

Dalk voel dit vir jou jou hart is koud teenoor jou huweliksmaat, of dalk is dit andersom. Vra die Here om sy liefde in julle harte uit te stort. Hy kan nuwe lewe in jou huwelik blaas. Moenie die krag van gebed onderskat nie!

Jy weet tog jou maat het soms koestering nodig, of tyd saam, of erkenning of ’n geskenkie. Praat sy liefdestaal! Kies om elke dag te belê in jou huwelik. Elke dag se klein keuses kan groot resultate oplewer.