[Week 1] Vrydag

Liefde bring jou huis toe

Maar sy pa roep sy werksmense: ‘Maak gou! Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan; sit vir hom ’n ring aan sy vinger … laat ons eet en feesvier!’”

Lukas 15:22-23

Wat sou jy sê as jou seun, aan wie jy ’n groot erfporsie gegee het, eendag terugkruip huis toe nadat hy letterlik al sy geld op ’n losbandige leefwyse uitgemors het?

In die verhaal van die verlore seun het die pa nie een woord gesê oor sy seun se spandabelrigheid nie. Hy het sy seun se terugkoms aangegryp as ’n kans om te wys hoe lief hy hom het en aan hom te vergoed wat hy verloor het. Hoe mooi is dit nie?

Selfs as jy, soos die verlore seun, ver van jou Pa af is of voel jy het Hom teleurgestel, hoef jy jou nie te bekommer nie. Die oomblik dat jy na Hom hardloop, gooi Hy onmiddellik die kleed van eer oor jou skouers, trek nuwe skoene aan jou voete, en glip ’n pragtige ring aan jou vinger. Jou posisie as kind in die huis word herstel.

Slawe het nie mantels, ringe en sandale gedra nie. Jy is familie, nie ’n werker of slaaf nie. Geliefde, in jou Pa se huis kom jy nie net onder sy volle beskerming nie, maar geniet ook sy onuitputlike voorsiening en onvoorwaardelike liefde. Dis sy liefde wat ons huis toe bring na Hom.

Simoné Nortmann