[Week 1] Tiener Issues

Kimi 1

“Glo jy aan liefde met die eerste oogopslag?” vra Kimi, wat kruisbeen op die buite-asblik voor hul agterdeur sit.

“As ek met jou vriende is, is ek seker semi-verplig om daaraan te glo! Jy is so ’n sucker vir romance,” sê haar vriendin Lisa. Sy woon langsaan en hulle is al vriende sedert hul geboorte. Kimi se ouers, die Marees, en Lisa se ouers, die Kleingelds, woon van lank voor hulle twee se geboorte af reeds langs mekaar.

“So as jy ook daaraan glo, het jy seker ook dadelik vir Juan geval?” vra Kimi nuuskierig.

“Jammer om jou bubble te bars, madam, maar ek en Juan is net goeie maatjies!” sê Lisa meerderwaardig.

“Maatjies met voordele, sou ek sê. Ek groet nie al my maatjies met intense, soppy soene nie,” maak Kimi ’n vermakerige stelling en kyk spottend na Lisa. “Jy het darem jou bad-boy maatjie, maar ék wat aan romanse en cupids en al daardie dinge glo, is steeds sonder ’n ou.”

“Ek dink jy is bietjie te picky, vriendin. Jy kon al baie ouens gehad het,” sê Lisa.

“Soos wie?” vra Kimi uit die hoogte.

“Soos Wicus en Arrie. Hulle is albei mal oor jou!” antwoord Lisa.

“Wicus Vosloo!” roep Kimi verontwaardig en val byna van die asblik af. “Jy is seker nie lekker nie. Hy is dan so … so … sê maar ‘net nie cool nie.’ Hy praat dan nooit. Nee man, Lisa!” Sy skep asem en sê-vra dan: “Ag ellende, en het jy gesê Arrie? Hy hou so baie van homself, ek glo hy drink sy eie badwater!”

“Oukei, maar die feit is jy kon al ’n ou gehad het! Is ek reg?” vra sy.

“Ja, as ek glad nie standaarde gehad het nie!” erken Kimi teësinnig.

“I rest my case!” sê Lisa tevrede.

“Lisa, my ouma sê ’n meisie verlaag nie haar standaarde nie, die regte ou sal kom … En my ouma is ’n slim vrou!” sê Kimi en glimlag.

“Toemaar, ek weet jou ouma is cool en ek het ook nie gesê jy moet jou standaarde laat daal nie, maar jy kon iemand gehad het. Anyway, hoekom sê jy Juan is ’n bad-boy maatjie?” vra Lisa skielik verontwaardig.

“Jy moet erken hy is nie die soetseuntipe nie. My ma waarsku my teen ouens soos Juan!” sê Kimi.

“Nonsens. Hy is nie so bad nie. Miskien nie die gewone prettyboy-tipe nie, maar eintlik is hy cute,” verdedig Lisa.

“Oukei, ek sal nie met jou stry nie!” antwoord Kimi tegemoetkomend, en vervolg dan: “Dit gee my nou ’n wonderlike idee. Ek soek nog iets funky vir die skoolblad. Help my, dan stel ons ’n klompie punte op van wat meisies in ’n ou soek. Kom ons gaan sit in my kamer en stel die lys op,” en sy spring van die asblik af.

“Kom ons kry eers sap en iets te ete.”

“Hier is fudge,” stel Kimi voor.

“Dodelik. Te soet. Ek ril sommer,” antwoord Lisa.

Kimi rol haar oë. “Lisa, jy kan soms ’n massiewe pyn wees! Jy is lekker vol fiemies. Wat dan van ’n Provita met kaas?” vra Kimi.

“Mmmm. Dit klink vir my lekker!” sê Lisa.

Kimi maak gou vir hulle ’n paar Provitas en ruim die kombuis weer op. Sy probeer altyd die huis netjies hou, anders moet haar ma sukkel om dit reg te kry as sy by die huis kom. Sy is ’n onderwyseres by die laerskool, maar is baie keer in die middae nog by die skool besig. Haar ouers is twee jaar gelede geskei en haar pa bly in die Kaap. Sy kuier af en toe ’n naweek by hom. Broer Len is twee jaar ouer as sy en in die koshuis op Stellenbosch. Hy is ’n tweedejaar en kom net so een keer per maand vir ’n naweek huis toe. Sy voel baie dae alleen. Dit is nou as Lisa nie hier rondhang nie, dink Kimi. Gelukkig gebeur dit baie. Anders kuier sy by die Kleingelds. Lisa het twee ouer sussies wat ook al swot. Chloe is twee-en-twintig en Tenique is twintig. Nie een van hulle bly meer in die huis nie en albei swot in die Kaap. Sy en Lisa is gewoonlik mekaar se geselskap.

Hulle verskuif na die kamer, elkeen met ’n bord vol Provitas met kaas en agurkies en ’n glas sap waarin die ysblokkies rinkel.

“Esna is baie jaloers omdat jy die redakteur van Die Tommie is. Sy het gebrand om dit te word,” skinder Lisa terwyl Kimi pen en papier soek. Die skoolkoerant se naam is Die Tommie. Omdat die skool Tom Meyer Hoërskool is, is dit ’n gepaste naam.

“Ek het myself nie verkies nie. Sy kan nie vir my verkwalik nie,” sê Kimi vies en vervolg: “As sy net haar artikels betyds ingee, sal die onderwysers dalk ook van haar hou.”

Wat is uitstaande kenmerke waarvan meisies in ouens hou … skryf Kimi bo-aan die blaai. “Toe nou, Lisa gooi al daardie nonsens wat jy altyd kwytraak op die tafel, sodat ons dit vir die nageslag kan neerpen!” por sy.

“Watse nageslag? Dink jy ons kinders sal Die Tommie lees? Hulle sal hulle vrek lag. Onthou jy hoe lekker het ons oor jou ma se skooljaarblad gelag?” vra Lisa.

“Ja man, kom ons maak nou net ’n lys. Jy praat te veel,” sê Kimi saaklik.

“Ek hou van ouens wat skoon lyk en ruik. Veral skoon, blink hare doen dit vir my,” sê Lisa.

“Sarel Speld is mooi skoon,” giggel Kimi.

“Ag Kimi, ons praat nou van oulike skoon ouens, nie die skoonste nerd in die skool nie! Shame, hy is erg slim, maar grillerig … Het jy al gevoel sy hande is altyd so koud? Slangerig … jig!” sê Lisa en ril.

“Nee, ek maak dit nie my mission om te voel of Sarel Speld soos ’n slang voel nie. Ek het ander dinge om met my tyd te doen,” sê Kimi en vervolg: “Weet jy, hulle sê navorsing het bewys nerdy ouens word die hubaarste mans. Hulle word groot, gebruik daardie oormaat intelligensie om hope geld te maak en as hulle met hul sportmotors ry en duur Armani-pakke dra, val dieselfde poppies wat so geril het vir hulle!” vertel Kimi en wys vir Lisa vinger.

“Sarel Speld kan die nuwe James Bond word en ek sal nog sê nee dankie,” verklaar Lisa vasbeslote.

“Oukei, waar is ons nou? Wat trek jou nog aan in ’n ou?” vra Kimi.

“As ’n ou gentle en caring is. As hy byvoorbeeld jou tas kom dra as jy gehuil het oor Ou Jas jou uitgevreet het omdat jy nie jou opstel geskryf het nie. Juan was daardie dag só sweet!” Lisa kry ’n dromerige kyk in haar oë as sy terugdink aan die insident van die opstel. “Regtig vriendin, dit is ’n definitiewe ja! As ’n ou met sagte hande aan my hart vat, dan het hy my!”

“Ek is met jou op daardie een,” sê Kimi. “Wat nog?”

“Ouens met mooi monde. Ek is ’n sucker vir ouens met mooi monde! Dink jy ouens met mooi monde soen lekkerder?” fluister Lisa en trek haar oë stout.

“Ek maak ’n aantekening dat ons dit moet toets,” sê Kimi en bars in ’n lagbui uit. “Hierdie lys is doodgebore!”

“Nonsens, ons vorder goed. Ons het al ’n skoon, nice ou met ’n mond wat mooi is en lekker kan soen,” lag Lisa.

“Wat van ouens met mooi oë? Soos daardie Jaco in Graad 10. Sy oë hipnotiseer ’n mens! Het jy al mooi na sy oë gekyk? Beautiful,” sê Kimi en kou haar pen se punt nadat sy dit ook as ’n goeie kenmerk aangeteken het.
“Jou ma het net sulke mooi oë,” sê Lisa en kyk dan van naby in Kimi se oë. Jy ook eintlik,” sê sy.

“Die lys, Lisa. Ek en my ma se oë help niks!” roep Kimi en sug gemaak moedeloos. “Jy is uitputtend.”

Haar ma kom by die kamer ingestap. Sy lyk, soos altyd, goedversorgd, dink Kimi. Sy het ’n ligblou rok, donkerblou serp en wit sandale aan. Haar hare is in ’n kort bob gesny met sonstrepies. Sy is steeds ’n pragtige vrou.

“Hallo julle twee meisies. Wat doen julle?” vra sy vriendelik.

Lisa vertel dadelik van die lys en sê wat alles daarop staan.

Haar ma lag en vra: “Wat van mooi hande? Ek kyk eerste vir ’n man se hande!”

“Ma is reg, ek hou ook van ’n ou se hande,” sê Kimi en skryf dit dadelik neer.

Haar ma onthou: “Weet julle, ek het eenkeer gelees wat van ouens meisies laat tiek. As ek reg onthou is dit iets soos …” en sy dink diep:
“1. As hy die lekkerruikgoed aanhet wat jy vir hom gegee het.
2. As hy aan jou hare raak.
3. As hy jou trane wegsoen. Dit is my persoonlike gunsteling,” sê haar ma terloops en gaan voort …
“4. As hy voor sy vriende maak of jy die heel mooiste meisie in die wêreld is.
5. As hy altyd bekommerd is of jy honger of koud is.
6. As hy glimlag met daardie dit-is-net-vir-jou-glimlag.
7. As hy vir jou ’n liefdesbriefie skryf en jy weet hy dink dit is ‘so uncool’ om so iets te doen.
8. As hy jou raaksien tussen ’n groep en jy sien hy luister nie meer wat sy vriend langs hom sê nie. Hy kyk net vir jou!” sluit haar ma af.

“Wow, dink Ma ek kan dit ook in die koerantjie sit?” vra Kimi.

“Ek dink nogal so. Dit is so oulik,” antwoord haar ma en vra dan: “Terloops, dink jy ek kan vir ons vis bak vir aandete?”

“Dankie, dit klink lekker, Mamma,” sê Kimi.

“Ek moet gaan. Ek dink jy kan nou ’n nice artikel skryf, Kimi. Ek moet nog ’n paar goed gaan doen voor môre,” sê Lisa en staan op om te loop.

Ná aandete kyk Kimi vir ’n rukkie saam met haar ma TV. Sy hou baie van al die intriges in Binnelanders. Dan gaan sy kamer toe om die res van haar huiswerk te doen. Sy doen haar Wiskunde gou-gou klaar en skryf haar opstel, wat sy in die Afrikaanse periode begin het, klaar. Sy is eintlik mal oor skryf. Dis dié dat sy ook by die skoolkoerantjie betrokke is. Sy sal graag eendag nog ’n boek wil skryf. Sy sien al haar naam op duisende buiteblaaie …

Dan verval sy in ’n droomwêreld. Sy sien haarself tussen ’n skare mense. Hulle verdring mekaar om haar handtekening te kry. Almal hou boeke na haar uit om haar naam daarin te teken. Mense verdring mekaar om ’n spreekbeurt met haar te kry. Almal wil haar nooi om hulle te kom toespreek by een of ander funksie. Moeg gaan sy later in haar sportmotor huis toe en stop voor haar splinternuwe Toskaanse huis. Haar Spaanse bediende kom uitgehardloop en sê dadelik: “Mevrou, daar is nog ’n sak bewonderaarspos. Ons kan nie voorbly nie, ons sal nog iemand moet aanstel.”

Sy sug, gooi haar duur Louis Vuitton-handsak op die bank neer en sak in ’n stoel neer. Dan kom haar man by die deur in. Hy is bruingebrand van ure in die son en sy songestreepte hare hang syerig in sy nek. Beste kolwer in die wêreld, noem die koerante hom …

“Kimi, wil jy ook sap hê?” verbreek haar ma haar dagdrome as sy uit die gang roep.

“Dit sal vreeslik lekker wees, Mamma,” sê Kimi en sug. Dit sou so amazing wees as al haar drome maar waar kon word.

Haar ma bring die sap, weifel ’n oomblik in die deur en sê-vra: “Jy moet lekker slaap. Is jou huiswerk klaar?”

“Ek is amper klaar met my opstel, dan gaan ek slaap. Nag Ma.” Sy spring op van agter haar lessenaar en gaan gee haar ma ’n drukkie. “Sweet dreams, Mamma,” sê sy met ’n glimlag.

’n Rukkie later klim sy, skoongebad, in die bed. Fila was vanoggend hier om te kom huisskoonmaak en was, en die lakens is vars en skoon. Kimi ruik die blommegeur van die wasgoedversagter. Dit ruik so lekker. Sy sal altyd onthou dit is hoe haar ma se huis ruik – skoon en soos blomme. Haar ma sit graag oral in die huis potte met blomme.

Haar gedagtes dwaal terug na die tyd toe haar pa en boetie nog in die huis was. Eintlik moet sy erken, dit was nie altyd baie lekker nie. Sy onthou meestal net hoe haar ouers baklei het. Haar pa het ’n hele paar jaar gelede in die Kaap begin werk en slegs naweke huis toe gekom. Sy onthou die naweke as stormagtig. Haar pa stil, haar ma kwaad. Haar boetie Len wou nie eintlik daaroor praat nie, maar sy wou graag agter die waarheid kom en beter verstaan wat aangaan. Tog, as sy eerlik is, het sy seker maar geweet drank is die oorsaak van al die ongelukkigheid.

Haar pa wou nêrens gaan nie en het elke naweek met ’n glas in sy hand in die woonkamer gesit en sport kyk. Soms het hy gebraai en dan het hy en sy glas na die braaiplek verskuif. Haar pa en ma het heeltyd baklei en was nooit meer net gemaklik saam nie. Hy was gelukkig nooit lelik met hulle, soos om hulle te slaan of te vloek nie. Hy was net nie deel van hul lewens nie. Dit is maar al.

Sy mis hom baie en gaan kuier nou en dan by hom in sy meenthuis in die Kaap. Dit is altyd lekker, want hy drink reeds ’n hele ruk nie meer nie, en sy dink hy probeer opmaak vir verlore tyd. Hulle kyk saam rugby of krieket en redeneer tot laataand oor spelers se nut in die span.

Kimi wonder of sy eendag ’n goeie huwelik sal hê? Om ’n kind te wees van ’n huwelik met soveel botsings en ongeluk is nie maklik nie. Sy hoop tog dat sy eendag die perfekte persoon sal kry en vir altyd en altyd gelukkig sal kan wees. Of is dit nie moontlik nie? Daar is mos sulke huwelike, redeneer sy.