[Week 1] Maandag

Gebed is ‘n verhouding met Hom

Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom. Psalm 139:1-2

Ons hou net eenvoudig nie daarvan om te wag nie. Ons is ongeduldige en haastige mense. Ons wil hê dinge moet vinnig gebeur en dit moet nóú gebeur en dit moet na ons sin gebeur.

Onbewustelik dink ons dat as ons met God praat dan moet Hy ook vinnig spring en reageer. As daar nie dadelik iets gebeur nie dan dink ons dat Hy nie omgee nie of dat Hy nie luister nie. Ons wil resultate sien!

Dalk voel dit nie vir jou of jy onmiddellik ’n antwoord kry op jou probleem nie, maar Hy is tóg besig met ’n meesterplan. Moenie ongeduldig raak nie, sy tydsberekening is volmaak.

Onthou, as jy jou geloof op gevoel bou, gaan jy ’n staan-en-val-geloof hê. Jou sekerheid lê in die beloftes wat jy in die Bybel kry en nie in hoe gelukkig of ongelukkig jy op die oomblik voel nie.

Ons dink baiekeer dat gebed soos ’n koeldrankmasjien werk. Met die druk van ’n knoppie val die koeldrank, of antwoord op my gebed, uit. Nee, gebed is nie net ’n klomp versoeke nie.

Gebed is om in ’n verhouding met Hom te staan en om sommer net lekker te gesels ook. Vertel Hom van die dinge wat jou bly of hartseer gemaak het vandag.

Somtyds dink ons verkeerdelik dat dit God is wat in ons diens staan, maar dis eintlik andersom. CS Lewis het gesê Hy is nie ons “Oupa” in die hemel wat maar net moet spring en vir ons pret gee en dan moet Hy uit die pad uit staan nie.

Jou omstandighede verander dalk nie onmiddellik nadat jy gebid het nie. Hy is egter besig om met jou te werk wanneer jy bid. Jy sal weet dit is besig om te gebeur, want jy sal vrede, insig, rustigheid en wysheid kry.