[Week 1] Maandag

Vlieg met arendsvlerke

“Ek wil af!” sê die dogtertjie. Sy was tot dusver met stokstywe armpies en verstarde oë tevrede om die ervaring van die draaiende mallemeule te verduur. Maar nou het sy genoeg gehad. Sy wil afklim. Soos baie ander mense.

Mense soos jy wat al alles probeer het om die gejaagdheid van die mallemeule-lewe hok te slaan. Al die produktiwiteitskursusse en DIY-boeke het nie hul beloftes van tydskepping gestand gedoen nie. So ook nie die missiestelling en strategiese beplannings nie. Jy is leeg getap. Totale kwaliteitsmeting het jou eerder na kwantiteit laat jaag.

Dis nie asof jy jou met die ‘verkeerde’ goed besig gehou het nie, maar tog het die gejaag en die doen van die oënskynlike ‘regte’ goed ’n groeiende donker gat in jou binneste gedolwe. Jou verhoudings het hieronder gely. By die huis én by die werk. En jy is moeg. Tot die dood toe. Jy het jou lewe in jou werk ingestort en dit bring vir jou geen vreugde of vervulling nie.

Jy kan jou vereenselwig met die eerste deel van Jesaja se woorde: “Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val…

Maar lees dan verder: “maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie. (Jesaja 40:30, 31).

Vind jou vreugde en krag in God vanjaar. Ontdek Hom opnuut. Vra Hom: “Here – gee asseblief vir my U arendsvlerke!”

Geen produktiwiteitsghoeroe se ’n DIY-plan kan vir jou hierdie arendsvlerke gee nie. Net by Gód kan jy hierdie krag vind.