[Week 1] Maandag

Wanneer God ver vóél

Wees sterk en hou moed! Moenie vir hulle bang wees nie! Die Here julle God sal met julle wees. Hy sal julle nie in die steek laat nie en julle nie verlaat nie.

Deuteronomium 31:6

Wanneer jy iemand liefhet, wil jy graag daardie persoon sien, voel en mee praat. Jou hart klop sommer opgewonde as jy sy stem hoor of jou maag gee sulke draaie as jy hom hoor lag.

Jou hele menswees kan na hom verlang. Augustinus het lankal gesê dat ons ook so ’n verlange na God het. “Die hart van die mens is vir God geskep en dit sal geen rus vind sonder God nie,” meen hy. Daarom raak ons benoud as dit vir ons voel of God ver is.

Wanneer God ver vóél, beteken dit nie dat Hy ver ís nie. Oral in die skepping kan mens God se skaduwee sien wat jou herinner dat Hy wel by jou is. Iemand se glimlag herinner jou aan God wat só goed is vir jou. Iemand se arm om jou skouer herinner jou aan God wat vir jou omgee en jou wil troos.

As jy na God se skepping kyk en vir Hom dankie sê dat Hy hier is en Sy Bybel lees as sy liefdeswoorde, sal jou gevoel weer verander sodat Hy weer naby jou voel. Hy het mos so beloof.

Jannie le Roux