Die mens in die tuin
Genesis 2:15-25
Die eerste ding wat hom tref toe hy wakker word, is haar oë. Dis anders as die ander oë wat hy al gesien het. Haar oë práát. Hulle vonkel ondeund terwyl sy hom met ’n grashalm al oor sy maag kielie. Toe hy haar aan die pols vasgryp om die gekielie te stop, is haar vel sag en glad teen syne. Verwonderd kyk hy na haar waar sy langs hom op die gras kniel. Hy draai op sy sy en stut hom op sy elmboog om haar beter te bekyk.
Sy los hom, dat hy kyk soos hy wil. Het sy dan nie self ook die afgelope ruk die slapende man van kop tot tone deurgekyk nie? Die uitwerking wat haar teenwoordigheid op hom het, laat haar glimlag, en sy staan op en rek haar lui uit. “Toe, jy het nou genoeg na my gestaar. Kom wys my eerder jou plek.”
Sy kan práát! jubel dit in hom. Haar stem klink soos die gemurmel van die stroom oor die klippe daar anderkant by die poel, en sy keel trek toe. “Ek het jou nog nie voorheen hier gesien nie,” sê-vra hy hees terwyl hy stadig orent kom. Sy oë bly vasgenael op haar.
“Dis oor ek maar nou net hier aangekom het,” lag sy, haar tande wit in die sonlig. Sy beduie met haar hand na die tuin om hulle. “Is dit joune?”
“Nee, dis God s’n. Ek moet dit vir Hom oppas. Dis lekker hier, veral noudat jy ook hier is.” Hy vat haar hand en gaan wys haar die tuin, die rivier, die blomme, die vrugte, die diere. Uiteindelik neem hy haar twee hande in syne sodat sy hom in die oë moet kyk. “Ek was baie alleen voor jy gekom het. Ek het niemand gehad om mee te praat nie, want daar was nie nog een soos ek nie. Maar nou het jy gekom. Ek is bly jy is hier.”
Haar oë lag saam met haar stem toe sy antwoord: “Ek weet.”
“Maar hoe … ? Waar kom jy vandaan?”
Sy vryf saggies met haar hand oor sy ribbekas. “God het my uit een van jou ribbebene gemaak terwyl jy vanmiddag so salig gelê en slaap het. Hy het my na jou toe gestuur sodat jy geselskap kan hê.”
Stadig skud Adam sy kop, en glimlag dan. “God is vol wonderlike verrassings. Maar hierdie keer het Hy Homself oortref. Jy is soos ek, maar tog so … móói!”
Sy kyk hom reguit aan en sê toe eenvoudig: “Ek is bly jy dink so.”
Die sondeval
Genesis 3:1-6
Sy het al ’n hele paar keer by dié boom kom staan. Sy vrugte lyk heeltemal onskadelik. Hoekom het God dan gesê hulle mag nie daarvan eet nie; dat hulle sal sterf as hulle dit doen? Versigtig steek sy haar hand na die vrug uit, maar raak tog nie daaraan nie. Sy wonder hoe dit sal smaak. Dit lýk baie sappig. Sy sluk onwillekeurig. Sy kan nie verstaan dat God nie wil hê dat hulle dié vrugte moet eet nie. Waarom nou die één boom in die hele tuin uitsonder? Die boom van alle kennis. Wat is so danig anders aan dié boom se vrugte?
’n Voëltjie kom sit op een van die boom se takke, kwetter vrolik en vlieg dan weer weg. Sy kyk die voëltjie agterna, en dan gaan haar oë terug na die boom. Die voëltjie het in die boom gaan sit en niks oorgekom nie! Dan is dit mos net soos die slang gesê het. Hulle sal nie doodgaan as hulle die vrugte eet nie. Hulle sal net soos God word omdat hulle alles sal kan ken. Is dit dan verkeerd? Om alles te wil weet? Is Gód nie die een wat verkeerd is omdat Hy nie wil hê hulle moet alles ken nie? Hoekom hou Hy van sy vrugte vir hulle terug? Hoekom bederf Hy hulle pret?
Toe sy die vrug pluk, lê dit koel in haar handpalm. ’n Rukkie hou sy dit net so vas. Dit ruik baie lekker. Hoe moet dit nie smáák nie! Haar hart klop vinnig toe sy die eerste hap vat. Dit ís lekker sappig en geurig, soos sy geweet het dit sal wees. Gretig vat sy nog ’n hap, en nog een, en nog een, totdat sy half verbaas merk dat haar hand leeg is.
Sy pluk nog een. Haar man moet ook hiervan proe. Sy glimlag as sy aan hom dink. Hy kan partykeer so versigtig wees. Sy wil-wil skuldig voel omdat sy nie eers met hom gepraat het voordat sy die vrug geëet het nie, maar dan gooi sy haar kop uitdagend agteroor. Sy sal haar nie deur hom laat intimideer nie. Die tuin is net soveel hare as wat dit syne is. En as hy eers die heerlike vrug geproe het, sal hy haar nog bedank. Sy moes dit lankal gedoen het!
God kondig sy straf aan
Genesis 3:7-24
“Gou, hier kom die Here. Ons kan agter daardie bosse daar wegkruip!” Hy gryp haar aan die arm en wag nie vir ’n antwoord nie. God is die laaste Een wat hy nou wil teëkom. Nie só, met hierdie aanmekaargerygde vyeblare om sy onderlyf nie.
Toe hulle veilig agter die bome is, kyk hy na sy vrou waar sy uitasem langs hom op die grond neersyg. Haar vel is rooi en opgehewe waar die vyeblare haar gekrap het. Hy is sommer vies vir haar. Vir wat kon sy nie die boom van alle kennis uitlos nie?
“Dis alles jou skuld,” brom hy. “Kyk nou net in watse gemors is ons.”
“Jy het net so lekker geëet soos ek, so, hou jy maar jou mond,” kap sy terug, maar diep in haar hart lê daar ’n groot hartseer. Vandat hulle van daardie vrugte geëet het, het dinge nog net verkeerd geloop. Hulle twee sit oor alles vas. Vat nou maar hierdie belaglike vyeblare. Sy wou vir hulle skorte van gras gevleg het, maar hy het gesê dit sal te lank vat om te maak. En as sy dit net waag om hom teen te gaan, kap hy haar met die vrugtestorie. Hy sal nooit weer na haar luister nie, het hy al seker ’n honderd keer gesê. Sy wens sy het nie daardie vrugte geëet nie. Sy wens sy het nooit na die slang geluister nie!
“Waar is julle twee?” roep God, maar Hy kyk reguit na die bosse waar hulle skuil. Hy weet presies waar hulle is. Sy stem klink vandag anders; daar is ’n diep hartseer in wat die vreugde en warmte van vroeër verdryf het.
“Kom, dit help nie ons kruip vir Hom weg nie, dit maak alles net erger,” sê sy en trek hom agter haar aan. “Hier is ons, Here.”
“A! Nou hoekom kruip julle dan vandag vir My weg?”
“Ons het U gehoor kom, toe gaan kruip ons weg, want ons kan tog nie só voor U verskyn nie,” antwoord die man en beduie na die vyeblaarvoorskoot om sy lyf. “Ons is dan kaal.”
“Hoe weet julle wat ‘kaal’ beteken? Dit het julle nie vroeër gepla nie.” Toe hulle nie antwoord nie, vra God vir die man: “Moet net nie vir My sê julle het van die boom in die middel van die tuin se vrugte geëet nie. Ek het tog uitdruklik gesê julle mag nie daarvan eet nie.”
Die man knik, en hy kyk af grond toe. “Ons het daarvan geëet, ja, Here. Maar dis hierdie vrou wat U vir my gegee het. Dis alles haar skuld!”
“Hoe so?”
Die man se vinger wys beskuldigend na die vrou, wat bedremmeld skuins agter hom staan. “Dis sy wat die vrugte vir my aangedra het, Here! Ek dag U het haar gemaak om my by te staan, en kyk nou watse gemors het sy veroorsaak!”
Toe draai God na die vrou. “Wat het jy aangevang?”
Sy laat haar kop sak. “Ek het na die slang se stories geluister. Hy het my om die bos gelei. Dis dié.”
Met oë wat soos vuur vlam, sê God vir die slang: “Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die diere. Jy sal van nou af op jou pens seil en stof eet, jou lewe lank. Tussen jou en die vrou, en tussen jou nageslag en haar nageslag, sal daar nooit vrede wees nie. Julle sal mekaar wil uitroei. Haar nageslag sal jou kop pap slaan, en jy sal hulle in die hakskeen byt.”
Die slang se tong flits in en uit by sy bek, maar hy sê niks en seil weg. ’n Rilling trek teen die vrou se rug af toe sy die slang se koue ogies sien.
Toe draai die Here God na die vrou. Daar is oneindige weemoed in sy stem toe Hy sê: “Ek sal jou baie swaar laat kry met jou swangerskappe. Jy sal met pyn kinders in die wêreld bring. Jou lewe sal altyd om jou man bly draai, en hy sal oor jou baasspeel.”
Ook die vrou sê niks; sy laat net haar kop in skaamte en skande sak, dankbaar dat sy nog leef.
Vir die man sê God: “Omdat jy na jou vrou geluister het en saam geëet het van die vrugte wat Ek julle uitdruklik verbied het om te eet, is die aarde nou vervloek; jy sal net met ’n geswoeg uit die aarde ’n bestaan kan maak, jou lewe lank. Die aarde sal nie meer sommer maklik vir jou kos gee nie; nee, dit gaan dorings en dissels oplewer, en jy sal in die veld jou kos moet gaan soek. Net deur harde werk sal jy kan eet, totdat jy terugkeer na die aarde toe, want daaruit is jy geneem. Jy is uit stof gemaak, en jy sal weer stof word.”
Die volgende dag sit hulle op die vlakte; God het hulle uit die tuin geskop. Hy het darem vir hulle velklere gegee om hulle teen die wind en weer te beskerm, en ’n hand vol saad om in die grond te sit.