[Week 1] Geloofs artikel

Die Ewigheidswaarde van Mense en Verhoudings

Ek voel hoe die sand tussen my tone kriewel. Die sout van die seelug prik my lippe. Ek ruik die varsheid. Ons twee oudste dogtertjies trippel nader: “Mamma, kan ons as-se-blief nou sandkastele bou?”

Wat is die punt as die tyd dit net weer wegspoel?

Ek lig my neus moeisaam uit die boek. Het so pas begin lees. Toe wonder ek: Wat is die punt, as daardie sandkunswerk uiteindelik heeltemal deur ’n brander verswelg gaan word? Dan is al ons harde werk mos verniet.

Uiteindelik gee ek in en kom orent. Bêre die boek waar ek dink die branders dit nie sal bykom nie. Ons begin grou vir klam sand en pak die emmers vol.

Pappa spring ook in. Hy help om ’n keersloot vir beskerming te grawe. Boeta maak seker dat die sand se samestelling reg proe. Ons bou vinnig en groot en hoog.

Dit lei tot vrae oor die lewe hier binne my.

As ek gelukkig is, het ek agt of nege dekades om mee te werk. Of ja, die meeste van ons het heelwat minder tyd oor. Ons bou gesinne, loopbane en prestasies om op trots te wees.

Dit is maklik om te wonder: wat is die punt? Hoekom eens probeer? Dit gaan in elk geval nie vir ewig bly nie. Die branders van die tyd wat uitkalwe, sal uiteindelik wen.

Dalk is dit opwindend om te sien wat ek alles kan vermag voordat die gety inkom. Miskien is dit net lekker om trots oor die klein oorwinnings te kan voel. Dis soos wanneer die keersloot nog ’n keer ’n opstuwing water insluk.

Wat het regtig waarde om te behou en bou?

Ek merk ons oudste dogtertjie hou my fyn dop. Sy wil sien hoe ek gaan reageer. Dalk val een van die torings om. Of: ’n muurtjie trek skeef. Só besef ek dat elke aksie en reaksie van my af vir haar beïnvloed.

Dit help my om te sien dat die sandkastele, waarmee ek myself besig hou, eintlik saak maak. Dit gaan immers oor saam met wié ek dit bou – ons bou aan ’n verhouding.

Wat ons as belangrik en waardig beskou, bepaal wat ons sê, dink en doen. Die wêreld het sy eie idees oor wat waardevol is. Ongelukkig kan ons hierdie dinge nie na die ewigheid oordra nie.

Dinge met ewigheidswaarde is per definisie vir altyd waardevol. Ons tyd op aarde is baie kort. Tog, wat ons hier doen, sal ons toestand in die ewigheid beïnvloed. Die dinge van hierdie wêreld gaan verby.

God se groot gebod weerspieël dit: Wees lief vir God en vir mense (Matt 22:34-40). Moenie verlief raak op of jou verkoop aan die skemas en waardes van die wêreld nie.

Slegs God en mense het ewigheidswaarde. Dít motiveer die toestand van ons hart, ons optrede en ons pogings. Die fokus is om God en mense lief te hê.

Wat, kan ons regtig vertrou, sal vir ewig hou?

Wanneer ons hieroor nadink, is die vraag: Hoe vergelyk dit met die wêreld se waardes?

Geld of besittings: Rykdom is vlugtig; ons gaan dit nie tot in ewigheid kan behou nie. Geld dien die groot gebod: om God lief te hê en te aanbid. Geld kan dit moeilik maak om Christus te volg (Mark 10:23). Dit kan ook gebruik word om ander te dien (Hand 9:36).

Status of mag: Wêreldse respek en mag laat ons soms waardig voel. God se siening van respek is anders. Ons streef na ander se respek, sodat God geëer en ander na Hom toe getrek word.

Opleiding of kennis: God het self aan Salomo wysheid gegee (1 Kon 3:5-12). Aan Daniël en sy vriende wetenskap en verstand in allerhande geskrifte en wysheid gegee (Dan 1:17). Die verskil is: Hulle het dit gebruik om God te eer en mense te dien.

Sekuriteit of gemak: Daar is niks fout mee om veiligheid of gemak te soek nie. Dit tel immers ook as seëninge.

Ons kan nie heeltemal onaangeraak wees in hierdie wêreld nie. Tog, as ons lyding verdra wanneer ons goed doen deur God en ander lief te hê, is dit genade by God (1 Pet 2:20).

Nalatenskap: Dis die naaste wat ons aan dinge van ewige waarde op aarde kan kom. Dis ons invloed op die wêreld wat voortduur. Maar selfs dít is vlugtig. Salomo se magtige tempel is heeltemal in ruïnes gelaat.

Watter dinge kan ons die ewigheid inneem? Dis ons verhouding met God en die mense wat ons met die evangelie bereik het. Dinge op hierdie aarde is slegs instrumente om vir die ewigheid voor te berei.

As ons dít kan onthou, sal ons dinge met ewige waarde versamel. Dit is ons getuienis, nie ons rykdom nie.

Terug op die strand … die branders het uiteindelik gewen. Die keersloot het oorstroom. Die grafies en emmers is sommer saam die see ingetrek. Meegesleur is my nuwe boek, met ongerepte bladsye, waternat.

Ons kinders was glad nie teleurgestel nie. Rondom die verwoesting van die mini-fratsgolf roep die tweede oudste met genot uit: “Kyk, dis ’n lekker swembad!”

Onthou, jy het min beheer oor die golwe en getye van die lewe. Jy kies saam met wie jy sandkastele bou. Elke oomblik saam met God en die mense wat Hy oor jou pad bring, het waarde vir ewig.

Alida Norden