[Week 1] Donderdag

Plaas jou fokus op die regte plek!

Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.” “Kom!” sê Hy. Petrus het uit die skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom. Matteus 14:28-29

Wat gaan gebeur as jy ’n WhatsApp probeer stuur terwyl jy bestuur? Jy sal onbewustelik duisende foute maak. Jy gaan nie konsentreer op iemand wat van voor af aangery kom nie. Jy gaan dalk nie die hond sien wat oor die pad hardloop of die fietsryer wat hier langs jou ry nie. Jy gaan baie makliker in ’n ongeluk beland.

Daar is selfs al bewys dat al praat jy met jou selfoon deur middel van ’n hands free kit, is jou volle aandag nie op die pad voor jou nie. Vroue kan wel multi-task, maar ek dink nie dit is wys nie!

Dit werk net so in jou geestelike lewe. Soveel dinge haal jou fokus van Jesus af: bekommernis, konflik, teleurstellings, moegheid, verkeerde keuses, skuld, vrees. Jou kop kan so besig wees om aan oplossings te dink, dat die klein, spesiale oomblikke by jou verbygaan.

Moenie dat vrees jou lamlê en jou laat twyfel of onlogies laat optree nie. Moenie dat jou bekommernisse jou vreugde steel nie.

Vervang jou vrees met fokus, soos Petrus toe hy op die water geloop het. Wanneer jy op Hom fokus, kry jy kalmte en rustigheid en insig. Dan kan jy makliker ’n kreatiewe oplossing kry vir jou probleem en aangaan.

Partykeer fokus ons so op hoe hoog die berg is in plaas daarvan om te fokus op die Een wat berge kan versit. Dit beteken nie dat jy nie oor jou probleme mag dink nie en soos ’n volstruis jou kop in ’n gat moet druk nie. Jy moet jou verstand gebruik sodat jou probleme nie jou fokus raak nie.

Ons as Christene besef nie altyd wie en wat ons is in Christus nie. Jy kan wonderlike dinge regkry saam met Hom! Ek wil jou sommer vandag uitdaag om jou vrees in fokus te verander en die eerste tree te neem met jou hand in syne.