Hoewel daar baie is wat jou kan motiveer, is die mees basiese motiveerders óf plesier, óf pyn. In die meeste gevalle is pyn die grootste motiveerder. Dis pyn in die vorm van vrees vir straf, vrees vir seer, vrees vir verlies, vrees vir gebrek, vrees vir verwerping. Hierdie vrese word gevoed deur jou vorige ervarings.
Telkens was daar vanaf jou geboorte assosiasies met pyn en seer. Jy stamp jou toon, of jy mag nie dadelik iets kry nie, of jy word gestraf vir die een of ander misdryf. Nou is die vraag: Gaan jy jou laat onderkry deur die pyn van jou huidige situasie of gaan jy toelaat dat dit jou help om die reis na geestelike intelligensie aan te durf? Moenie toelaat dat die vrees vir die onbekende jou vandag weerhou van ’n betekenisvolle lewe nie!
Wanneer pyn oorvloei in ’n latere ervaring van genot, onthou mens nie die pyn nie. Om ’n ou gewoonte af te leer, moet mens ’n nuwe een aanleer en as die ou gewoonte geassosieer word met pyn en die nuwe met genot – baat dit jou geweldig. Dink ’n oomblik na oor wat dit jou sal baat as jy geestelik intelligent is? Hoe sal dit jou lewe verryk? Watter verskil sal jy maak? Watter betekenis sal die lewe vir jou hê? Na watter beter toekoms hunker jy? Waarop hoop jy?
Ek glo die twee mense wat Jesus begin volg het, het gehoop op ’n lewe van meer betekenis. Meer genot. “Toe Jesus omkyk en sien dat hulle Hom volg, vra Hy vir hulle: ‘Wat soek julle?’ en hulle het Hom geantwoord: ‘Rabbi’—dit beteken leermeester—‘waar gaan U tuis?’ Hy sê toe vir hulle: ‘Kom saam, dan sal julle sien’” (Johannes 1:38, 39).
God nooi jou saam.
Vind jou genot by God.