[Week 1] Donderdag

Eerder 100% vir een ding

“Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.”

Romeine 10:11

Tel gou al jou buitemuurse aktiwiteite, jou sosiale program van die week ingesluit. Jy gaan dalk uit vingers uit “hardloop” en met jou tone begin! Die nasleep van te veel is baie erger as wat jy dink.

Wat is die punt van buitemuurse aktiwiteite nou eintlik? Doen jy dit omdat almal dit doen, omdat dit lekker lyk, of net doodeenvoudig ’n moet is?

Buitemuurs beteken “in jou lewe in bou”. Dit gee die lewe daai ekstra bietjie opwinding en stimuleer jou. Soos atletiek oefening of klavierspel dissipline vra, so kan jy jou nie sonder sulke oefensessies verbeter nie.

Oppas net om jou bord te vol te maak en jou kers aan albei kante te brand. Dis presies wat ons soms doen. Ons vul ons lewe met soveel doendinge, skoolwerk en al die res, dat ons nie meer cope nie. Op die ou end maak jy niks klaar nie. Jy begin soveel dinge, maar dit raak net te veel en jy los alles.

Besluit watter aktiwiteite jy regtig nodig het. En los die res! Jy sal soveel meer me time hê, soveel meer goed actually klaarmaak! Gee eerder 100% vir een ding, as 1% vir 100 goed.

Melissa Bam