[Week 1] Dinsdag

Liefde verander die hardste hart

Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik. 1 Johannes 4:12

Ek het gehoor van ’n dogtertjie wat gesit en teken het terwyl haar mamma kook. Die mamma is toe nuuskierig en vra: “My skat, wat teken jy?” En sy sê: “Ek teken vir God.” Die mamma was heel verbaas: “Maar niemand weet hoe lyk Hy nie!” En die klein dogtertjie antwoord baie in haar skik met haarself: “Nou sal hulle weet hoe Hy lyk.”

Ek het lekker geglimlag toe ek hierdie verhaaltjie hoor. Dit is presies wat Johannes hier vir ons sê. Wanneer ons ander liefhet, dan weet mense sommer ook hoe God lyk, want Hy is mos liefde!

In die Bybelse tyd, veral toe Paulus sy briewe geskryf het, was die wêreld, veral die Romeine, baie wreed. Hulle het die mense daar in die Colosseum laat veg tot die dood toe, tot groot vermaak van die skare. Daar is die Christene ook vir wilde diere gegooi om verskeur te word.

Dit was vir daardie gewelddadige mense heeltemal onverstaanbaar dat daar ’n God van liefde kan wees wat nie beïndruk word deur offers nie.

Die Romeinse afgode moes die hele tyd gelukkig gehou word. Jy moes vir hulle allerhande offers bring want hulle was baie wispelturig en kon jou sommer straf as hulle wou. En hier moet hulle hoor dat hierdie God net liefde vra.

Weet jy wat? Liefde is vandag nog die genesende salf wat die wêreld nodig het. Niks anders kan die wêreld regtig verander nie. Geen regering, nuwe wette, menslike planne, niks het die impak wat opregte naasteliefde het nie.

Het jy al agtergekom, niemand kan liefde teenstaan nie?

Dit verander die koudste, hardste mens se hart. Kom ons deel vandag liefde uit vir almal om ons en wys vir die wêreld hoe ons Skepper regtig lyk.