[Week 1] Dinsdag

’n God-oomblik

Die telefoon lui. “Is u die predikant?” vra die persoon in Engels. “Ja?” antwoord ek. “Ek het blomme vir die kerk. En ’n blompot wat julle kan gebruik.”

Heel verward vra ek: “Is daar ’n funksie of iets by die kerk?”

“Nee – ek het dit beloof. Ek is nou hier voor die kerk.”

Ek jaag af kerk toe en probeer rustig lyk. Hy staan op die trappies en skeur ’n pakkie preserveermiddel vir rose uit. Gooi dit in die water. Druk die dosyn plus geel rose in ’n geel blompot.

“Dankie dat jy gekom het,” sê ek. Hy lyk strak.

“Jy kan vir vyf minute alleen hier binne wees as jy wil. As jy wil praat, is jy ook welkom.”

Hy bly vir vyf minute. Ek kom haal hom en wys ek moet ongelukkig gaan. Hy lyk anders. Stilword saam met God doen dit mos aan ’n mens. Stil-gelate loop hy uit en knik sy dankbaarheid.

Twee vreemdelinge. Maar ek kon vir hom ’n God-oomblik gun. En ek word ook daardeur aangeraak.

Ek wil graag vanjaar saam met jou dag vir dag, sulke God- oomblike beleef. Ons is twee vreemdelinge. Maar God ken ons. En daarom kan ons saam hierdie oomblikke beleef.

Die geheim van ’n God-oomblik is om te glo dat God in so ’n oomblik wel ís. Soos die man wat geglo het Jesus het sy kind genees. Toe hy terugkom het sy werksmense vir hom tegemoet gekom en vertel sy kind is gesond.

“Die pa het toe besef dat dit op dieselfde oomblik was waarop Jesus vir hom gesê het: ‘Jou seun lewe.’ En hy en sy hele huisgesin het tot geloof in Jesus gekom” (Johannes 4:53).

Glo dat God vandag vir jou ’n God-oomblik gaan gee.

Mag jou God-oomblikke die vuurhoutjies wees, wat jou geloof vanjaar brandend hou.