[Week 1] Dinsdag

Die gat in jou binneste

Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak.

Psalm 139:23

Soms voel dit of jou lyf met een groot fabrieksfout uitgekom het. Jy het sommer ’n seer holte in jou hart. En dan probeer jy dit met kos en allerhande lekkernye toestop.

Hierdie kosbevrediging is net ’n vinger lank, want daarna begin die kringloop van selfverwyt, angstigheid, skuldgevoelens, weer eet, weer selfverwyt …

Jy is wat jy eet … Jy kán hierdie Bose en verslawende kringloop breek – met jou beste Vriend se hulp. Jy kán kies om jou eetgewoontes aan te pas by ’n realistiese teikengewig wat pas by jou lengte en ouderdom. Kry gerus raad by ’n dieetkundige.

Fokus op ’n nuwe lewenstyl met hierdie slagspreuk: “Ek wil gesond leef en eet!”

Besluit om op al die terreine van jou lewe te groei. En as jy nie weet hoe nie, gaan praat met iemand wat jou kan help.

Hou aan probeer totdat jy die regte leefstyl vir jou unieke persoonlikheid aangekweek het. En wanneer jy misluk, onthou tog dat dit nie die einde is nie. Jy hoef mos nie van voor af te begin nie. Daar was maar net ’n kort onderbreking in jou plan – nes met beurtkrag!

Jannie le Roux