Vrees, angs en paniek

Kyk nou die video: “Stage Fright”

Angs kan ’n voorloper vir depressie wees. ’n Mens moet die verskil tussen vrees, angs en paniek verstaan. Mense vrees spesifieke dinge soos leeus, slange of oorlog.  Angs is ’n onaangename gevoel van afwagting. Jy weet iets gaan gebeur, maar jy kan nie presies sê wat dit is nie. Angs kan gerig wees op iets wat nie werklik gevaarlik is nie (soos om ’n toespraak voor mense te maak) of dit kan ’n los, swewende gevoel sonder ’n spesifieke rede of fokus wees.

Simptome

hartkloppings

droë mond

prikkels in hande

oormatige sweet

lighoofdig

Angsaanvalle is dikwels ’n reaksie op iets wat jou gespanne maak. Met ’n angsaanval kan mense vreesbevange en angstig voel, asof hulle hartkloppings kry of kortasem is, maar dit is van korte duur. Wanneer die stressor verdwyn, verdwyn die angs. Mense met algemene angsversteuring ervaar ’n ernstige, buitengewone en chroniese vorm van angstigheid, dermate dat hulle sukkel om daaglikse aktiwiteite te hanteer.  Angs is soms ’n voorloper of vroeë simptoom van depressie. ’n Mens kan terselfdertyd angstig en depressief wees. Hulle vererger in hul gedagtes  die móóntlike negatiewe uitkoms van enige saak.

 “Haal asem”. Dit reguleer jou hartklop, werk angs- en paniekaanvalle teen, en dit help om in sport te presteer. Wanneer jy reg asemhaal, sal dit jou kalmeer en help om te fokus op dit wat in daardie stadium belangrik is: Asem stadig in deur jou neus. Hou vir drie tellings. Asem stadig uit en ontspan die spiere in jou gesig, kakebeen, skouers en maag.

Tel en kalmeer. Sit gemaklik. Maak toe jou oë en haal diep asem.  Asem die lug uit terwyl jy in jou gedagtes “ontspan” sê. Haal 10 keer ná mekaar diep en gemaklik asem.  Fokus elke keer wanneer jy asemhaal op enige spanning in bv. jou kakebeen, skouers of maag;  trek die spesifieke spier(e) styf saam, hou dit vir ’n paar tellings en ontspan.

Staan op en doen iets

’n Eenvoudige taak is oorgenoeg, bv. doen strekoefeninge, stofsuig jou kamer, hang wasgoed op of speel met jou hond.  So kan jy met min moeite jou angs verminder, want jy beweeg weg van die situasie of die omgewing wat jou angstig maak en jy voel goed omdat jy iets opbouends gedoen het.

Besluit of jy as onderwyser die riglyne vir angstige leerders kan gebruik.

  • Stel ’n ruimte beskikbaar waarheen die leerder kan gaan wanneer hy nie die angs kan beheer of hanteer nie.
  • Gebruik alternatiewe metodes om die leerder se aandag af te lei van dit wat hom angstig maak.
  • Gee die leerder aan die begin van die skooldag/periode ’n paar minute om net rustig te raak.
  • Gee die leerder voor die klas begin reeds ’n idee van wat gedurende die les gedoen gaan word.
  • Praat met die leerder en vind uit wat hom angstig maak, wat die simptome is en wat die beste manier is om dit te hanteer.
  • Leer die asemhalingstegniek van stadig en diep asemhaal vir die hele klas. Wanneer die leerder angstig raak, kan die onderwyser ’n speletjie daarvan maak dat almal moet reg asemhaal.
  • Stel voor dat leerders wat afwesig is weens hul angstigheid net vir ’n paar uur per dag skool bywoon. Die leerders sal dan hul vrese makliker hanteer, want hulle weet dat hulle dit net vir ’n paar uur moet hanteer.
  • Laat leerders toe om sommige mondelinge opdragte met hul selfone tuis op te neem, video’s daarvan te maak of plakkate te gebruik.
  • . ’n Skielike verandering kan ’n paniekaanval by angstige leerders tot gevolg hê.
  • Wanneer leerders lang take moet uitvoer, kan die onderwyser dit in onderafdelings verdeel en die angstige leerders help om hul tyd daarvolgens in te deel sodat die taak betyds ingegee kan word.
  • Doen oefeninge in die klas. Staak alle klasaktiwiteite en doen vir ’n paar minute strekoefeninge.

Hanteer jou eie angstigheid beter

  • Besoek jou huisdokter vir ’n deeglike ondersoek.
  • Sluit aan by ’n ondersteuningsgroep
  • Vra jou familie vir ondersteuning.
  • Leer tegnieke aan om te ontspan en gefokus te bly.
  • Oorweeg aërobiese oefening, bv. draf, fietsry of swem.
  • Vermy kafeïen, dwelms of verkouemedisyne wat oor die toonbank gekoop kan word. Dit kan die simptome van die angsversteuring net vererger.
  • ’n Kombinasie van terapie en medikasie kan help om die angstigheid beter te beheer.

Paniek

‘n Paniekaanval is nie ’n reaksie op ’n stressor nie. Dit is onvoorspelbaar. Iemand word oorweldig deur buitengewone vrees en angs dat iets verskrikliks kan gebeur. Dit voel vir hom of hy gaan sterf, beheer verloor of ’n hartaanval gaan hê. Borspyn,  kortasemigheid, duiseligheid en naarheid is van die simptome wat ervaar kan word. Mense begin ook plekke vermy waar hulle ’n paniekaanval gehad het.

Beheertegnieke

Bly in beheer gedurende paniekaanvalle. Gebruik die tegniek genaamd A.W.A.R.E. wanneer paniek jou wil lamlê:

  1. Acknowledge & Accept [Erken en aanvaar die werklikheid waarmee jy gekonfronteer word. Aanvaar dat jy op daardie oomblik bang is.]
  2. Wait & Watch (& Work) [Wag, dophou, en werk. Moenie onmiddelik iets probeer doen nie. Wanneer jy wag, gee dit jou tyd om te fokus sodat jy weer helder(der) kan dink. Gebruik die geleentheid om te sien hoe jy reageer wanneer jy paniekerig raak. Wanneer jy iets fisieks doen, kan jy wag maar steeds voortgaan waarmee jy besig is]
  3. Actions (om jouself gemakliker te maak) [Aksie. Praat met jouself in jou gedagtes oor dit wat op daardie oomblik gebeur en wat jy daaromtrent kan doen. Fokus op jou liggaam. Fokus op die liggaamsdele wat erg gespanne is. Trek die spiere styf saam, behou die spanning vir ’n paar tellings en ontspan dit weer. Liggaamsdele waar spanning meestal voorkom, is jou kakebeen, nek, skouers, rug en bene.]
  4. Repeat [Herhaal die verskillende stappe totdag jy weer in beheer voel]
  5. End [Eindig. Sê vir jouself die aanval is verby. Dit sal ophou ongeag hoe jy daarop reageer.]

In die praktyk:

Angs kan ‘n voorloper vir depressie wees. ‘n Mens moet die verskil tussen vrees, angs en paniek verstaan.

Kliek hier vir jou selfdoen-werkbladsye: “Vrees, angs en paniek”