Versterk konneksie met jou kind

Was daar al dae dat jy gevoel het asof jy op ’n emosionele wipplank ry? Een oomblik lag jy saam met jou kind en kan jy nie help om te dink dat hy die oulikste ding in die wêreld is nie. Die volgende oomblik voel dit asof jy sy nek wil omdraai. Het jy al menigmaal gewonder hoe jy al die balle in die lug gaan hou en waarom niemand vir jou gesê het ouerskap is so uitputtend nie? Ouerskap daag ons uit. As ouers wil ons graag die beste vir ons kinders hê. Ouerskapstyle het in die afgelope paar dekades dramaties verander.

Besige skedules, die strewe na beter dinge, finansiële eise en tegnologie is maar net ’n paar aspekte van die moderne lewe wat ’n bedreiging inhou vir ons kinders se groei en ontwikkeling, sowel as vir ons konneksie met hulle en met mekaar. Om in die 21ste eeu ’n ouer te wees is ’n voorreg. Ons hoef nie meer te raai, te wonder of te filosofeer oor wat die beste manier is om kinders groot te maak nie. Studies in brein- en sosiale wetenskap gee ons die feite.

Elkeen van ons se ouerskapsreis is gevul met kosbare tye, uitdagende tye en die gewone dag-tot-dag-dinge tussenin. Hoekom alewig skuldig voel as jy nie genoeg individuele en gefokusde speeltyd in julle skedules inruim nie? Hoekom gebruik jy nie die tyd wat jy in elk geval by die kinders is en maak dit “gehaltetyd” nie?

Die volgende moet ons weet:

  • Navorsers vertel dat die eerste vyf jaar in jou kind se lewe ’n allerbelangrikste tyd is vir breinontwikkeling. Gedurende hierdie tyd vorm kinders die fondasie vir wat hulle die res van hulle lewe gaan leer. Die omgewing waarin jou kind grootgemaak word en die stimulasie waaraan hy blootgestel word, speel ’n rol.
  • Navorsing wys ook dat ’n brein groei en ontwikkel binne ’n intieme ouer-kind-verhouding. Wetenskaplikes stem heelhartig saam dat wat binne die ouer-kind-verhouding gebeur, ’n uitwerking het op ons kinders se fisiese en emosionele welstand – ten goede of ten kwade.
  • Die verdere goeie nuus is: Dit is nooit te laat nie! Al is die eerste paar jaar van jou kind se lewe deurslaggewend vir breinontwikkeling, weet ons ook dat die brein nooit ophou groei nie.

Neurowetenskaplikes gebruik die term plastisiteit. Ons breine is soos klei. Die fisiese argitektuur van die brein kan verander soos ons aan nuwe ervarings en interaksies blootgestel word. Dit wat ons sien, hoor, ruik, oefen, dink en oor gesels, word vasgelê. Ons weet nou dat jou ouerskapstyl, en meer spesifiek jou daaglikse interaksies met jou kind, jou kind se brein kan ontwikkel, probleemgedrag kan verander én sy brein so kan verander dat jy hom kan vrywaar teen depressie, angs en ander psigiatriese toestande.

In hierdie kursus sal daar padwysers wees om jou dag-tot-dag-interaksies met jou kinders doelgerig te maak sodat hulle groei en ontwikkeling gestimuleer word, julle verhouding versterk word en uitdagende gedrag sal verminder (of selfs verdwyn!).

Kyk nou die video: “Bou sterk verhoudings”.