Kyk nou die video: “Ontdek die geheime bestanddele”.
Mens kan goed onthou toe kinders klein was en mens daardie sieldodende aandroetine moes doen nadat mens al van vyfuur af wakker was, die een doek na die ander aangesit het, een maaltyd na die ander gemaak het en een speelding na die ander weggepak het. Die oggende voordat almal in verskillende rigtings spat, die middae as almal by die huis kom, die etenstye en die tussen-deur-dit-alles-tye gedoen met die oog daarop om dit so gou moontlik afgehandel te kry – voor ons ons kom kry, word hierdie tye eentonig en soms selfs uitdagend.
Hierdie tye met ons kinders, as ons dit reg hanteer, kan net soos goud wees. Net so kosbaar en waardevol soos goud. As ons dit reg benader, kan ons en ons kinders skitter. Dit sal iets wees wat ons vir niks ter wêreld sal wil verruil nie.
Daar word gesê dat ma’s omtrent 60 minute per dag gehaltetyd met hulle kinders deurbring en pa’s 30 minute. Hoe gemaak as ons weet dat die verhouding wat ons met kinders het, belangrik is en die tyd so kort is om die verhouding te bou? Dit is waar goue oomblikke inkom. Gebruik die tye wat ons saam met kinders het en verander dit in tye wat skitter. Ons staan elke dag op, ons ry in die kar, ons kom weer terug huis toe, ons het hopelik tyd vir ’n bietjie speel, gesels en lag, dan eet ons en daarna maak ons reg om te gaan slaap. En môreoggend gebeur alles weer van voor af. Hierdie dinge gebeur elke dag.
So, kom ons wees doelgerig wanneer dit kom by dié tye van die dag – wat ons doen en hoe ons met ons kinders omgaan. Die volgende sal gou-gou gebeur
Konsekwente en positiewe interaksies met ons kinders verminder hulle stres, laat hulle beter slaap, hul emosionele intelligensie ontwikkel en hulle akademiese vordering verbeter.
Soek vir die blink in jou kind se oog, die skelm glimlag, die lekker saam-lag-oomblik – want elke genotvolle interaksie met jou kind ontwikkel sy brein. So verander eentonige, alledaagse take skielik in pret en plesier.
Mens wil graag vir jou kinders die volgende leer (en dit self oefen)
Een van die beste oefenvelde vir hierdie eienskappe is jou eie huis. Jy het geen spesiale toerusting, duur speelgoed of tegnologie nodig nie. Bring net jou tyd, jouself, jou geduld en jou glimlag en siedaar! Jou kind leer en ontwikkel hoe om vir ander om te gee.
Empatie is die vermoë om te verstaan hoe iets lyk en voel vanuit ’n ander persoon se perspektief: om saam met mense te voel, om as’t ware in iemand anders se skoene te gaan staan.
Empatie kan aangeleer word. Hoe meer keer jy dit doen, hoe meer gevestig raak dit as ’n gewoonte. Met verloop van tyd wil ons hê dat hulle moet leer hoe om dié gevoel vir ander te gee. Kinders se vermoë om te empatiseer begin in hul vroeë kinderjare ontwikkel en raak verfyn namate kinders ouer word. Hulle leer met oefening hoe om empatie te toon. Voor die ouderdom van ses jaar kan kinders sien dat hul maatjie ongelukkig is, maar hulle tree dan steeds op uit simpatie omdat hulle steeds die wêreld vanuit hul eie perspektief sien.
Tussen ses en nege jaar sal kinders empatiseer met mense en dinge binne hulle eie verwysingsraamwerk en omgewing, soos hul familie en maats wat hulle goed ken. Kinders tussen 10 en 13 jaar is in staat om te empatiseer met mense buite hul onmiddellike omgewing, oor verskillende kulture, ouderdomme en tydsgrense heen.
Maar dan word jou kind ’n tiener en begin jy wonder of hulle al ooit van die woord empatie gehoor het. Onthou, tieners se breine is so bedraad dat hulle in hierdie stadium van hulle ontwikkeling geneig is om selfgesentreer te wees as gevolg van die selfontdekkingstadium wat deel van hul emosionele ontwikkeling is. Dit is nie omdat hulle nie empatie het nie. As jy doelgerig aan hierdie vaardigheid gewerk het toe jou kinders kleiner was en as jy steeds ’n goeie voorbeeld in jou huis stel, sal jy sien dat jou tiener wel oor die vaardigheid beskik om nie net aan hulleself te dink nie, maar ook aan ander te dink.