[Uitdaging 6] Bedtyd bevorder fisiese en emosionele groei

Vir ons almal, kan die tyd voor slaaptyd uitdagend wees, want ons is uitgeput. Ons moet egter besef dat dit ’n wonderlike tyd is om die konneksie met ons kinders te versterk. Die doel van hierdie tyd is om kinders voor te berei vir die nag en om te gaan slaap.

Ons kan nie van ’n ontwikkelende brein verwag om net so af te skakel nie. Dit neem tyd en die regte tipe interaksies, omgewing en aktiwiteite sodat jou kind reg kan wees om te gaan slaap. Fokus daarop om alles stemmig, rustig, sag en stadig te maak. Slaap is onontbeerlik, want belangrike dinge gebeur:

• Nuwe netwerke of senuweetakke word in die brein vasgelê. Die chemiese stof (neurotrofien) wat vir breingesondheid verantwoordelik is, word vrygestel slegs as ons slaap.
• ’n Ander chemiese stof (kalpaïen) se taak is om die breinselle wat oud is en nie geruik word nie, te laat afsterf. Dit word ook afgeskei as ons slaap. Die ongebruikte breinselle word dus vernietig wanneer ons slaap. Ons moet goed slaap sodat ons brein kan vorm, herstel en gesond bly.
• Tydens slaap word dit wat ons deur die dag geleer het, in die brein vasgelê, met ander woorde die brein vorm nuwe netwerke. Wanneer ons iets leer, word proteïenmerkers neergelê. Hierdie merkers se lewensduur is 18 uur. Wanneer ons slaap, word die proteïenmerkers gebruik om nuwe netwerke te vorm.

Wanneer ’n kind nie genoeg slaap nie, het dit ’n uitwerking op die fisiese, emosionele en kognitiewe funksionering en ontwikkeling van die kind. Chroniese slegte nagrus lei tot vetsug, moegheid, gebrek aan konsentrasie, frustrasie, impulsiwiteit en buierigheid.

Babatjies kan van 10 tot 18 of selfs 20 uur ’n dag slaap. Kinders van 1 tot 3 jaar benodig 12-14 uur per nag en ’n voorskoolse kind (3-5 jaar) benodig 11-13 uur. ’n Laerskoolkind (5-10 jaar) benodig 10-11 uur per nag en jong tieners (11-14 jaar) benodig ten minste 10 uur. Tieners (15-19 jaar) benodig 9-10 uur per nag.

Wenke wat vir almal werk vir gesonde slaapgewoontes

Besluit op ’n reeks aktiwiteite wat julle tydens bedtyd gaan volg. Dit is nie nodig om die aktiwiteite altyd volgens die horlosie te laat verloop nie (alhoewel jy dit ook so kan doen), maar besluit op ’n paar goed wat julle gaan doen voor slaaptyd. Doen dit dan konsekwent elke dag. Skakel elektroniese en visuele toestelle 1½ uur voor slaaptyd af.

Maak seker dat jou interaksies met jou kind rustig, stadig en ontspanne is. Maak seker daar is tyd vir fisiese aanraking tydens die bedtydroetine. Sit styf langs jou kind as julle die bedtydstorie lees. Gee stywe drukkies. Vryf jou kind se rug of sy voete. Gee vir hom ’n handmassering.

Skep ’n omgewing wat rustig en ontspanne is en die brein vir slaap sal regkry. Maak seker die omgewing is veilig, voorspelbaar en snoesig; donker; sit die hooflig af en skakel die nagliggies of dowwer ligte aan; ’n gemaklike temperatuur en sonder enige elektroniese en visuele toestelle.

My gunstelingaktiwiteite vir bedtyd: lees en haal asem

Ons almal weet dat lees taalvaardighede ontwikkel en vroeë geletterdheid bevorder. Maar daar gebeur meer wanneer kinders lees en ons saam met hulle lees. Navorsing wys dat wanneer ons saam lees, dit dele van die brein stimuleer wat die konneksie tussen ons en ons kinders versterk.

Langtermynstudies het getoon dat gereelde saamleestye tussen geboorte en vyf jaar die potensiaal het om uitdagende gedrag soos aggressie, hiperaktiwiteit en aandagafleibaarheid te bekamp. Daarom is saamlees ’n wonderlike aktiwiteit en iets wat ons doelgerig deel van ons roetine behoort te maak.

Wanneer ons saam met ons kinders lees, gaan dit gewoonlik gepaard met lekker cuddles, oogkontak en oomblikke wat ons emosies deel soos ons lag vir die karakters of nuuskierig word oor wat volgende gaan gebeur. Binne hierdie gedeelde oomblikke leer ons kinders baie.

Ons sien dat kinders die vermoë ontwikkel om emosies te identifiseer en te benoem. Emosionele intelligensie ontwikkel, wat beteken dat jou kind met verloop van tyd groot emosies soos woede of hartseer kan reguleer en hanteer. Lees saam met jou kind al is hy ’n baba of ’n tiener. Kinders is nooit te klein of te groot om baat te vind by hierdie aktiwiteit nie.

Dink ook ’n bietjie hieraan: Moet jy jou longe daaraan herinner om in en uit te asem? Nee, ons dink meestal glad nie daaraan nie. Dankie tog, want blykbaar haal ons gemiddeld 20 000 keer per dag asem. Ongelukkig haal die oorgrote meerderheid van ons verkeerd asem!

Toe ons babas was, het ons reg asemgehaal. Babas haal deur hulle neuse asem en nie deur hulle monde nie (behalwe as hulle siek is). Babas se magies bult uit soos die lug ingeasem word en dan word dit weer kleiner en sak terug soos die lug uitgeasem word.

Maar iewers in die proses van grootword verloor ons die vaardigheid om korrek asem te haal. Ons haal te vlak en vinnig asem. En dit is nadelig vir ons gesondheid en welstand. Navorsing het bewys dat diep asemhaling ons emosionele gesondheid, aandag, konsentrasie en geheue verbeter.
Diep asemhaling is soos vitamiene vir die liggaam en dus ook die brein.

Dit word diafragmatiese asemhaling genoem, want wanneer ons so diep asemhaal dat die lug vanaf ons longe tot in ons abdomen gaan, aktiveer ons die diafragma. Die diafragma beweeg op en af, wat die vagus-senuwee stimuleer. Dié senuwee aktiveer weer die parasimpatiese senuweesisteem, wat die ontspanningsrespons aktiveer en die stresrespons verminder.

Sodoende verlangsaam ons hartklop, daal ons bloeddruk en skop die voelgoedhormone in. Diafragmatiese asemhaling laat ons ontspan.

Dit is waardevol om ons kinders te leer om diep asem te haal. Noem dit ballonasemhaling en speel julle blaas ’n ballon op. Die ballon is in ons magies en ons maak dit vol lug. Ons magies word groter soos die lug daarin gaan en kleiner soos ons die lug uitblaas. Leer jou kind só om reg asem te haal. Dit is ’n lewensvaardigheid wat hulle vir die res van hulle lewe kan gebruik.