[Uitdaging 5] Etenstyd tesame maak gesinne meer gelukkig

As ’n doelgerigte ouer is ek van mening dat ons oogmerk moet wees om ten minste een maal ’n dag saam om ’n tafel te sit en eet, net soos Jesus keer op keer saam met sy dissipels gesit en eet het. Maar ek weet dit is moeilik as jou kinders klein is of as jy, jou man of jou tiener eers laat by die huis kom.

Maak ’n plan! Eet saam! Vir nou, vir die seisoen waarin julle nou is. Miskien moet ons dit nie “etenstyd” noem nie, maar “tyd om saam om die tafel te sit en mekaar in die oë te kyk”, selfs al is dit net vir vyf minute. Met verloop van tyd, namate die kinders ouer word en vir langer tydperke by die tafel kan sit en langer kan uithou voordat hulle eet, sal dit makliker word.

Daar word gesê dat kinders van gesinne waar daar saam geëet word, 31% minder geneig is om te rook, te drink en dwelms te gebruik as hulle tieners is. Daar is ook ander fisiese, emosionele en sosiale voordele soos:

• Beter akademiese prestasie
• Groter selfvertroue
• Verhoogde veerkragtigheid
• Laer risiko vir depressie
• Verminderde moontlikheid tot eetsteurnisse
• Laer risiko vir vetsug

My gunstelingspeletjie vir etenstyd: “vertel my”

Ek is oortuig daarvan dat die moderne mens lui geraak het wanneer dit kom by praat met ander, connect en gesels. WhatsApp het die Suid-Afrikaanse kultuur oorgeneem. Ons stuur baie eerder gou ’n boodskap as wat ons die foon optel en die persoon bel.

As ouers moet ons doelgerig wees in die aanleer van kommunikasievaardighede en gesprekvoering met ons kinders, want dit gaan nie vanself gebeur nie. Wanneer ons gesprekke voer, word verhoudings gebou. Dit is wanneer ons “dans” tussen ek praat, dan praat jy, dan praat ek weer, dan praat jy dat ons ontdek wat in mekaar se harte en gedagtes omgaan.

En so leer ons mekaar ken. Werklik ken. Etenstye is ’n wonderlike geleentheid om gesprekvoering te oefen. Ek wil jou aanmoedig en sê dat jou kind nooit te klein of te groot is daarvoor nie.

Hier is drie geheime wat jy in gedagte kan hou volgende keer as jy en jou kind gesels:

1. Wees doelgerig. Stop, luister en reageer elke keer as jou kind vir jou ’n vraag vra. Sit die foon neer, draai jou lyf na jou kind toe en wys dat jy werklik belangstel in dit wat hy vir jou wil sê.
2. Delf dieper. As jou kind in staat is om die gesprek aan die gang te hou, moenie ophou nadat hy iets gesê het nie. Vra nog ’n vraag. Daar is altyd nog meer om te hoor as jy aanhou luister. Vra vrae soos: “Hoe het jy gevoel toe dit gebeur het?” “Kan jy vir my meer vertel?” “Wow, hoekom dink jy so?”
3. Moenie ’n oordeel vel nie. Selfs al stem jy nie saam met wat jou kind sê nie, moenie dadelik jou mening gee nie. Daar is niks wat ’n kind so vinnig laat ophou praat soos ’n ma wat hom alewig reghelp nie. Prys jou kind omdat hy die moed gehad het om sy gedagtes en gevoelens te deel.

Aandete is ’n heerlike tyd om te gesels

Maak seker jy vra die regte vrae, anders gaan jy net ’n “ja”, “nee” of “oukei” as antwoord kry. Moenie geslote vrae vra waarop jou kinders net “ja, nee, miskien” kan antwoord nie, soos: “Was dit ’n lekker dag?” Vra eerder oop vrae soos: “Wat het vandag gebeur wat jou gelukkig laat voel het?” Of: “Moes jy vandag ’n moeilike besluit neem?”

Ons kan selfs vir ons kleuters hierdie tipe vrae vra. Al is hulle antwoorde nie realisties nie en iets vanuit ’n sprokieswêreld of hulle eie fantasiewêreld, dit maak nie saak nie. Dit gaan oor die konneksie. Die verhouding. Die samesyn. Die gesprek. Die feit dat jou kind veilig genoeg voel om dit wat hulle dink en voel met jou te deel.

Hierdie tipe vrae kan in ’n lang, diep gesprek ontwikkel waartydens jy nie net vir jou kind lewenslesse kan leer nie, maar ook ’n kans gegee word om te hoor wat werklik in sy hart omgaan.

Soms kan tye om die etenstafel uitdagend raak, veral as ons moeg is na ’n lang dag. Almal wil gelyk praat, die een val die ander in die rede en dit raak ’n kompetisie oor wie wanneer kan praat en wie eerste sy sê kan sê. Of die teenoorgestelde kan gebeur – niemand is lus vir praat nie! Wanneer dit gebeur, is die lepeltegniek ’n wonderlike tegniek om te gebruik.

Gebruik ’n lepel of enige ander voorwerp wat in elk geval op die tafel is en gee dit vir die een wat praat. Terwyl jy die lepel in jou hand het, kan jy praat en dan moet die ander net luister. Sodra jy klaar gepraat het, kan jy die lepel in die middel van die tafel neersit of vir iemand anders gee, wat dan kan praat. So maak ons beurte om te praat en te luister.

In ’n groot langtermynstudie in Amerika oor die tydperk 1981-1997 oor gesinsaktiwiteite (Hofferth, 1999) is bevind dat daar ’n 33% vermindering in gesinsetes was met ’n byna algehele verdwyning van gesprekke in die gesin. Dit is vir my so ’n hartseer statistiek.

Dieselfde studie het bevind dat kinders se vrye tyd met 12 uur per week verminder het, met speeltyd wat slegs nege uur per week is. Maar aangesien ons almal 24 uur ’n dag het, wat het dan van die tyd geword? Dit word gevul met meer skoolwerk (50% meer) en gestruktureerde buitemuurse aktiwiteite.

Die navorsers is dit eens: Amerikaanse tieners wat vyf of meer etes per week saam met ’n ouer eet, het ’n groter kans op akademiese sukses en emosionele welstand, ’n laer kans vir alkohol- en dwelmmisbruik en ’n laer selfmoordrisiko. Almal wen as ons saam eet en saam gesels!