[Uitdaging 4] Speeltyd bevorder kreatiwiteit en kritiese denke

Ons as ouers meen dikwels dat ons kinders op ’n konstruktiewe manier gestimuleer moet word. Ons ry hulle van die een aktiwiteit na die ander aan met die hoop dat hulle vaardighede ontwikkel sal word.

Maar daar is iets wat jou kind se kreatiwiteit, kritiese denke en veerkragtigheid baie beter sal ontwikkel as enige stimuleringsklassie. Boonop is dit gratis en verniet! Daardie “iets” is speel

Hoekom speel so goed en opvoedkundig van waarde is

In die 21ste eeu heg bestuurders waarde aan werkers wat vindingryk is, in ’n span kan werk en probleme kan oplos. Daar is min ander dinge wat hierdie vaardighede so ontwikkel soos wanneer kinders speel. Wat meer is, die navorsing toon dat wanneer ouers saam speel, verhoudings versterk word en kinders beskerm word teen die negatiewe gevolge van stres en trauma.

As kinders speel, en as ons saam met ons kinders speel, hou dit die volgende voordele in:

• Dit bou en versterk die verhouding tussen jou en jou kind en ook tussen broers en susters.
• Dit help kinders om stres beter te hanteer en traumatiese ondervindings te verwerk (of dit nou ’n hondjie is wat dood is, ’n trek na ’n nuwe dorp en skool, ’n egskeiding of lewensbedreigende siekte).
• Dit verminder uitdagende gedrag soos aggressie, angs en vrese.

Kinders gebruik spel ook om “groot” emosies te verwerk, soos angs (ek is bang vir die donker), jaloesie (ek wil ook met daardie karretjie speel), vernedering (ek het van my fiets afgeval voor al my maats), teleurstelling (my Lego het gebreek) en frustrasie (ek wil nog speel, maar Mamma sê ek moet oppak). Wees daarom doelgerig en maak tyd vir jou kind om te speel.

My gunstelingaktiwiteit vir speeltyd: Rowwe spel

Lekker ou rough-and-tumble! Of jy nou met ’n matras by die trappe afgly, ’n kussinggeveg hou, stoei op die mat, afspring van die bed af en in ’n hoop kussings induik of deur jou pa in die lug opgegooi word – hierdie speletjies het ’n paar goed gemeen.

• Dit is spontaan en het min reëls – ons kan kreatief en oorspronklik raak en allerhande lawwe goed aanvang.
• Dit is fisies – daarom kan jy dit nie sommer met jou spykerhakskoene en snyerspak doen nie.
• Dit bevorder ons en ons kinders se fiksheid sowel as motoriese vaardighede, soos balans en koördinasie.
• Dit is interaktief – dit bou ’n sterk band en verhoudings binne die gesin.
• Dit verlaag spanning – omdat ons lekker lag en die voelgoedhormone vrygestel word.

Die idee van rowwe spel is om weerstand te bied, fisies en emosioneel. Fisiese weerstand bied proprioseptiewe en tas- en bewegingstimulasie, wat fantasties is vir ontwikkeling en regulering. Op ’n emosionele vlak bied stoeispeletjies kinders die geleentheid om aan groot emosies uiting te gee, soos woede, angs, frustrasie, kommer, mislukking en ekstase.

Boodskappe wat jy vir jou kind gee as jy lekker rof met hom speel:

• Ek hou daarvan om met jou te speel en pret saam met jou te hê.
• Ek kan sterk en sagkens speel.
• Ons maak beurte – soms wen ek, soms wen jy – en dis reg so.
• Ons maak mekaar nooit met opset seer nie.
• Ons gaan ons bes probeer om nie seer te kry nie, maar soms kan jy per ongeluk seerkry. Dan is ek daar om jou te troos.
• Ek sal jou help om kalm te word as ons klaar gespeel het.

Navorsing het bewys dat kinders wat dikwels rof speel, fisies, sosiaal en emosioneel beter ontwikkel en vaardiger is as kinders wat nie so speel nie. Wanneer kinders rof speel, aktiveer dit die afskeiding van ’n chemiese stof in die brein (brain-derived neurotrophic factor, BDNF), wat op sy beurt weer die groei van breinselle stimuleer.

Dit maak die brein meer aanpasbaar, meer kreatief en gereed om te leer. Dit ontwikkel veerkragtigheid (resilience) en deursettingsvermoë (grit) – eienskappe wat ons wil koester.

Jou kind leer hoe om sy lyfie te reguleer, hoe om meer aktief te word en hoe om te kalmeer. Kom ons veronderstel dat jou kind se lyfie soos die enjin van ’n kar is. Soms moet die enjin aangeskakel word en vinnig loop (ons praat van enjins wat op reguleer). Ander kere moet die enjin weer af reguleer en stadiger loop.

So is dit soms in sekere omstandighede oukei om opgewonde te wees en rond te hardloop en hard te praat, maar ander kere moet ons ons af reguleer en rustiger praat, stadiger beweeg of stil sit en luister. Net so moet hulle ook leer hoe om hulle emosies te reguleer. Tydens rowwe spel bly ons kalm en verwelkom ons die kind se emosies (of dit nou woede of frustrasie is).

Die omgewing wat ons skep, die manier waarop ons hulle en die spel benader sowel as die spel self dien as ’n houer vir die kind se groot emosies wat hulle soms kan oorweldig. Kinders kan deur rowwe spel leer dat daar ’n verskil is tussen speel-speel aggressie en werklike aggressie.

Rowwe spel werk nie lekker as een heeltyd wen, sterker of beter is nie. Suksesvolle rowwe spel is amper soos ’n dans tussen ouer en kind. Dit is belangrik om in voeling te wees met mekaar. Dit gaan oor ’n vertrouensverhouding waar ons saam werk, beurte maak, regverdig speel en pret het.

Rowwe spel maak kinders gelukkig, ontwikkel hulle selfvertroue en bou ’n sterk band tussen jou en jou kind.