[Uitdaging 3] Rytyd is ideaal vir stories en gesels

Ek wonder hoeveel tyd die gemiddelde Suid-Afrikaanse ma en kind in die kar deurbring … Die motor is ’n wonderlike plek om die konneksie tussen ons en ons kinders te versterk.

Vir sommige kinders is die omgewing waar hulle jou nie in die oë hoef te kyk nie en die feit dat hulle kan ophou praat sodra die kar stilhou, ’n fantastiese geleentheid om oop te maak en dalk oor die dieper en moeiliker onderwerpe te praat.

Aan die ander kant is dit nie net ’n plek waar diep gefilosofeer kan word nie, maar ook ’n plek waar ons kreatief kan wees, grappe kan maak en herinneringe kan vorm.

Die kosbaarste aktiwiteit vir ry: vertel ’n storie

Stories was nog altyd deel van die mens. Wie hou nou nie van ’n goeie storie nie? Eeue gelede is rotstekeninge gebruik om stories uit te beeld. Dit was ’n vorm van kommunikasie. Oupas en oumas, ouers, onderwysers en pastore gebruik stories om konsepte te illustreer, lesse te leer en waardes vas te lê.

Jesus het ook stories vertel. Hy het gelykenisse gebruik om vir sy dissipels ’n punt te illustreer en te verduidelik wat Hy bedoel. Wanneer Hy saam met sy dissipels alleen was, het Hy mooi vir hulle verduidelik wat Hy met die verhale bedoel. – Markus 4:34 (Die Boodskap)

Hoekom gebruik selfs iemand soos Jesus stories? Jesus weet dat die menslike brein deur stories aangetrek word. Ons leer, ons onthou en verwerk inligting beter wanneer ons stories hoor. Stories aktiveer die emosionele sowel as die denkende deel van die brein.

Dink maar aan ’n interessante praatjie of preek waarna jy onlangs geluister het. Dit is gewoonlik die stories wat die aanbieder vertel wat ons aandag hou en wat ons later help om dit wat gesê is, te onthou.

Die wetenskap en navorsing oor stories en hulle effek op die mens het in die afgelope jare ontplof. Vandag gebruik suksesvolle advertensiemaatskappye stories in hul bemarking. Die topverkopers in fiksie, films en TV-programme is dié met stories wat ’n mens intrek en wat jou sterk emosies laat voel, soos spanning, hartseer en genot.

Ons dink dikwels dat stories lank en kompleks moet wees, maar dit is nie altyd so nie, veral as dit kom by ’n jong kind wat dalk nog nie so lank kan aandag gee nie en ook nog nie al die ingewikkelde taal kan verstaan nie. Eenvoudige stories is makliker om te onthou.

Wanneer jy stories vir jou kinders vertel, gebruik eenvoudige taal en moenie die storielyn te ingewikkeld maak nie.

Stories kan op baie verskillende maniere gebruik word …

• Jy kan stories vir jou kinders vertel.
• Jou kinders kan vir jou stories vertel.
• Jy kan die begin van ’n storie vertel en vir jou kind vra om die res te vertel.
• Jy kan stories wat jy alreeds gehoor het, of tradisionele sprokies vertel. Jy kan stories van werklike gebeure vertel of jy kan stories opmaak. Jy kan as’t ware jou drome met jou kinders deel of stories gebruik om jou kinders se kreatiwiteit en verbeelding te prikkel.
• Jy kan stories letterlik enige plek vertel.
• Jy kan ook vir jou kinders ’n storie-CD opsit of ’n potgooi met ’n storie aflaai.

Verstaan hoe stories werk en wat hulle waarde is

Daar is verskillende tipes stories:

• Tradisionele stories en fabels soos Rooikappie, Gouelokkies en al die ander.
• Daaglikse stories. “Vandag was jy by die tandarts. Hy het die coolste stoel met ’n magic lig wat aangaan sonder dat hy daaraan vat. Jy was so dapper en het dadelik in sy stoel gaan sit. En toe tel die tandarts 10…9…8…7… en toe hy by blast off kom, wat het toe gebeur?” En dan kan jy jou kind aanmoedig om die res van die “storie” te vertel.
• Terapeutiese stories is ’n tegniek wat gebruik word om sekere terapeutiese doelwitte te bereik. Ons gebruik dit om vir kinders sosiale vaardighede te leer, hul interne motivering te aktiveer, empatie te ontwikkel en angs en spanning te verlig.

’n Goeie storie en een wat jou kind se hele brein sal aktiveer, is gewoonlik soos volg uiteengesit:

• Daar is ’n hoofkarakter en dié het gewoonlik ’n probleem.
• Dan ontmoet hy iemand wat hom help en vir hom ’n plan gee.
• Daardie plan slaag of misluk.

As ons stories opmaak of vertel, kan ons hierdie struktuur gebruik om hulle aandag te behou, want hierdie storiestruktuur aktiveer die hele brein. En wat meer is, ons kan hulle deel maak van die storie en sodoende hul probleemoplossings- en besluitnemingsvaardighede verder ontwikkel.

Wanneer julle by die probleemfase van die storie kom, vra vir jou kind wat hy sou gedoen het, wat hy dink die beste manier is om die probleem op te los, hoe hy dink die karakter gevoel het, hoe hy voel noudat hy die storie hoor.

Buiten dat Jesus stories gebruik het as illustrasie en verduideliking, het Hy dit ook gebruik om verhoudings te bou, veral met sy dissipels. Hoeveel maal het die dissipels nie by sy voete gesit en gevra: “Meester, vertel ons …” En dan het Jesus ’n volgende gelykenis, vergelyking of storie vertel.

Net so is stories iets wat die verhouding tussen ons en ons kinders kan bevorder. Kinders is gewoonlik mal daaroor as hul ouers vir hulle stories vertel. Stories – veral daardie stories wat julle as gesin en familie uniek maak – laat kinders veilig voel.

Navorsing het bevind dat hoe meer kinders van hulle familiegeskiedenis weet, hoe beter is hulle selfbeeld en hoe meer veerkragtig is hulle.