[Uitdaging 1] Alledaagse roetine bou verhoudings én breine

Ons weet dat konsekwente en positiewe interaksies met ons kinders hul stres verminder, hulle beter laat slaap, hul emosionele intelligensie ontwikkel en hulle akademiese vordering verbeter. Elke genotvolle interaksie met jou kind ontwikkel sy brein en hulle leer positiewe eienskappe aan.

Ek glo dat empatie een van die eienskappe is wat die wêreld ’n beter plek maak, ons meer soos Jesus maak en ons nader aan God bring.

Empatie is die vermoë om te verstaan hoe iets lyk en voel vanuit ’n ander persoon se perspektief: om saam met mense te voel, om as’t ware in iemand anders se skoene te gaan staan. Empatie kan aangeleer word. Hoe meer keer jy dit doen, hoe meer gevestig raak dit as ’n gewoonte.

Wanneer ons vir kinders empatie wys, ervaar kinders hoe goed dit voel om gehoor en verstaan en aanvaar te word. Met verloop van tyd wil ons hê dat hulle moet leer hoe om dié gevoel vir ander te gee. Kinders se vermoë om te empatiseer begin in hul vroeë kinderjare ontwikkel en raak verfyn namate kinders ouer word. Hulle leer met oefening hoe om empatie te toon.

Wat nodig is vir goeie konneksie-oomblikke

Wees beskikbaar: Streef na ’n balans tussen oorbeskikbaarheid en onderbeskikbaarheid. Somtyds trap ons in die lokval en is ons té beskikbaar, amper versmorend, en ontneem ons ons kinders die kans om self besluite te neem, self probleme op te los en dalk self foute te maak.

Aan die ander kant moet ons daarteen waak om afgestomp en onbetrokke te wees. In albei gevalle is dit nadelig vir jou kind se ontwikkeling en sal julle ouer-kind-verhouding benadeel word. Navorsing het bewys dat kinders meer stres ondervind wanneer ouers konstant nie beskikbaar is nie of, aan die ander kant, versmorend is.

Sit jou foon neer en skuif fisies nader aan jou kind. Maak seker dat jy hom kan sien en hoor. Wees doelgerig om “in die oomblik” te wees en vergeet vir eers van jou doenlysie. Onthou, ons praat hier net van ’n oomblik, daardie paar minute voor skool, wanneer julle in die kar ry, die tyd saam om die etenstafel en geselstyd voor jy jou kind ’n nagsoentjie gee.

Maak beurte: Oor-en-weer interaksies tussen jou en jou kind is ’n uiters belangrike manier waarop sy brein ontwikkel. Navorsers het bevind dat interaksies met ons kinders die argitektuur van hulle brein verander, net soos wanneer ons op ’n wipplank ry.

Gedurende ons interaksies met ons kinders maak ons beurte – dan doen jou kind iets, dan doen jy iets, dan sê jou kind iets, dan sê jy iets. Dit is ’n heen-en-weer dans van gebare, gesigsuitdrukkings en woorde wat nuwe breinkonneksies vorm.

Maar wees bedag op wat jy doen. Ons is somtyds gou om ’n speelding (of ’n skerm) in ons kind se hand te stop, of om ’n voorstel te maak van wat hy moet doen of waarmee hy moet speel, in plaas van om terug te sit en te kyk waarmee hy in elk geval besig is, waarin hy belangstel.

As ons dit doen, ontneem ons ons kinders belangrike breinbou-oomblikke, soos om self die probleem op te los deur aan iets te dink om te doen. Wag ’n bietjie, staan terug, kyk en luister.

Bou en versterk: Kinders se breine word gebou en ons verhouding met hulle word versterk wanneer ons dit wat ons kinders alreeds doen, uitbrei. Ons kan dit doen deur die interaksie langer uit te rek, deur vrae te vra wat hulle moet laat dink of uit te brei op wat hulle sê of doen. Vra vrae soos: Wat? Waarom? Wat? Hoe? en Hoekom?

“Ek wonder …?” vrae is ook ’n wonderlike tegniek om te bou en te versterk. Vra: “Ek wonder wat ons moet aantrek as dit skielik nou vriesend koud buite raak?” “Ek wonder hoe jy sal voel as julle môre die wedstryd verloor?”

Hou jou ook soms dom. As jou kind vra hy wil die boek lees wat bo op die boekrak staan, dan sê jy: “Sjoe, dis hoog. Ek kan nie daar bykom nie. Hoe moet ons nou maak?” Natuurlik kan jy dit bykom, maar deur jou dom te hou, rek jy die interaksie ’n bietjie langer uit en bou jy jou kind se probleemoplossingvaardighede.

Die geheime bestanddele vir konneksie (beskikbaar, beurte en bou) is gegrond op sosiale en breinwetenskaplike beginsels. Dit is deur duisende professionele persone en ouers getoets. As jy hierdie riglyne in gedagte hou wanneer jy met jou kind speel en kommunikeer, kan jy verseker wees van die volgende:

• Julle verhouding word versterk

• Jou kind se brein ontwikkel

• Jou kind se uitdagende gedrag verminder

Met jou daaglikse konneksie-oomblikke vra jou af:

• Is ek beskikbaar?

• Maak ek beurte?

• Bou en versterk ek my kind se breinontwikkeling, denke en taal?