TEMA 9 – Genade strek tot by die sterfbed

Dit is die evangelis Lukas wat ons van die besondere oomblikke en gesprek van die rower aan die kruis vertel. Nie net van Jesus se laaste oomblikke nie, maar ook dié van die twee kriminele wat saam met Hom gekruisig was.

Wat presies hulle misdade was, weet ons nie – hulle word “rowers” en “kwaaddoeners” genoem. Die woord wat deur Lukas in die grondtaal gebruik is, word hoofsaaklik vir ernstige en halsmisdadigers gebruik, mense wat met die dood gestraf is.

Dit is dus logies om af te lei dat hierdie twee manne, anders as Jesus, geswore misdadigers was. Ook hulle laaste minute op aarde het aangebreek. Hulle reaksies in die ekstreme omstandighede aan die kruis, was uiteenlopend:

 En een van die kwaaddoeners wat opgehang is, het Hom gesmaad en gesê: “As U die Christus is, verlos Uself en ons.” Maar die ander een antwoord en bestraf hom en sê: “Vrees jý ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is? – ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie” (Luk. 23:39-41).

Op die een of ander manier het hierdie kwaaddoener tot die besef gekom dat hierdie man wat hier langs hom hang, nie maar net nog ’n veroordeelde misdadiger is nie. Het hy dit uit Jesus se woorde en reaksies vóór en tydens die kruisiging afgelei?

Was dit herinneringe uit sy kinderjare en opvoeding wat nou weer iets in hom wakker gemaak het? Was dit die Heilige Gees wat ’n hart gevind het wat ontvanklik en broos is? Hoekom het die ander rower nie tot dieselfde oortuiging gekom nie?

Die hartseer ironie is dat al twee hierdie kwaaddoeners ewe naby aan Jesus was – hulle was immers weerskante van Hom gekruisig. Al twee was ewe naby aan die hel, ewe naby aan die deur na die paradys. Albei kon met Jesus praat; albei kon bid en vra. Jesus kon albei red.

Tog is dit net die een wat hartstogtelik roep: “Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom” (Luk. 23:42). En hy hoor die mooiste woorde wat enige mens ooit kan hoor – veral ’n paar minute voor jou dood: “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met my in die Paradys wees” (v. 43).

Dit was dalk sy laaste woorde op aarde, maar dit was die belangrikste woorde wat hy ooit geuiter het. En die laaste ding wat Jesus gedoen het voordat Hy gesterf het, was om ’n slegte mens, ’n kwaaddoener, ’n verlore sondaar, ’n soekende, berouvolle mens, soos ’n brandhout uit die vuur te ruk.

 Hoop vir elke mens – selfs minute vóór die dood

Daar ís iets soos ’n laaste minuut-bekering, ’n sterfbed-bekering. Dit is egter een van die grootste dwaashede van die lewe om uit te stel en op ’n laaste minuut-bekering peil te trek. Géén mens kan daarop reken nie. Niemand weet hoedanig sy of haar laaste vyf minute gaan wees nie.

Gaan jy by jou positiewe wees? Gaan jou verstand benewel wees deur medikasie, pyn, koors of doodsangs? Gaan jy in ’n koma wees? Hoe is dit om die dood in die oë te kyk? Kan ’n mens dit waag om die belangrikste besluit van jou lewe uit te stel tot die laaste vyf minute wanneer die onseker mistige newels van die dood jou oorval?

Tereg het Augustinus, die groot kerkvader van die einde van die vierde eeu, opgemerk dat die Bybel vir ons genadiglik van hierdie rower aan die kruis, van hierdie “sterfbed-bekering” vertel sodat ons nie moedeloos moet word nie – maar net die één, sodat ons nie ’n kans moet waag nie!

Jy lees nou hierdie woorde. Jy wéét waar jy met God staan.

As jy een is wat tot nog toe uitgestel het om die grootste besluit van jou lewe te maak en jouself in die verlede gesus het met die moontlikheid van ’n “noodbekering” as dit die dag nou lyk asof die einde daar is, is dit nóú die tyd om jou saak met jou Maker reg te maak.

Jy weet dit mos. Bid sommer nou hierdie gebed uit jou hart. Die risiko’s is doodeenvoudig te groot om uit te stel!

Here, ek kom na U toe in die Naam van Jesus Christus.

Ek erken en bely dat ek nie gereed is om te sterf nie. Ek aanvaar dat ek nie in staat is om myself te red nie, maar dat Jesus ook vir my aan die kruis gesterf het.

Ek bely my sondes voor U en vra dat U elke sonde van my sal vergewe. Ek neem U aan as my Verlosser, my Here en my God.

Op grond van die waarheid van u Woord aanvaar ek nou dat U my as u kind aanneem en dat ek deur u genade vergewe en gered is.

Ek loof en aanbid U nou dat ek ook by u familie ingesluit kan wees en myself u kind kan noem. Ek bid dat U my sal vashou elke oomblik van my lewe en dat U met my sal wees as ek eendag ook deur die poort van die dood moet gaan.

In die Naam van Jesus Christus.

Amen

As jy reeds weet dat jy verlos is en nie in vrees vir die dood hoef te leef nie, kan jy hierdie gebed bid:

Here, ek kom in hierdie oomblik na U toe – net soos ek is. Ek bely dat U al met my gepraat het. Ek loof U vir die genade om saam met die Heilige Gees u roepstem in my lewe te gehoor het en te gehoorsaam het.

Al glo ek met my hele hart dat ek gered is, is ek nie sondeloos nie. Ek bely met berou my sondes voor U. Vergewe my, asseblief.

Dankie, dankie dat Jesus my Verlosser en Redder is. Dankie dat U my volgens u Woord in Johannes 1:12 een van u kinders maak en dat ek kan glo dat U ook nou my vergewe. Dankie dat U my naam ken – omdat ek een van u familie geword het.

En nou wil ek U dank en loof met my hele hart en hoe ek lewe voor ek huis toe gaan.

Amen.

JOERNAAL

Watter gebed praat met jou? Watter een of soortgelyke een het jy gebid? Gaan jy wag tot later of gryp jy nou die kans? Skryf die datums neer wanneer jy bid en ook wat jy voel en beleef. Kom gereeld terug na jou inskrywings en sien hoe God getrou aan jou is.

Bid ook vir ander mense en nooi hulle uit as jy die vrymoedigheid het en gelei voel deur die Gees.