TEMA 8 – Die genade van regmaak hier en nou

Ons lewenspaaie verskil van mekaar. Party se pad is knaend vol dorings, opdraand, moeilik. Ander s’n lyk of dit van meet af met rose besaai is; hulle pad is gelyk en die wind is in hulle blaaie. Dis egter die laaste stukkie van die pad van ons lewe wat dikwels die meeste verskil.

Die pad van die lewe lyk ook so onvoorspelbaar soos al die paaie wat jy al gery het. Jy wéét dat die dood êrens op jou lewenspad vir jou wag – jy weet net nie waar en wanneer nie.

Jou dood is ’n geval van “nie óf nie maar hóé”. William Saroyan het kort voor sy dood in 1981 in ’n telegram aan Associated Press gesê: “Almal moet sterf, maar ek het altyd gemeen dat daar in my geval ’n uitsondering gemaak sal word.”

Uitsonderings word in hierdie opsig ongelukkig nie dikwels gemaak nie. Jou en my aardse pad gaan nie ad infinitum aanhou nie. Daar kom ’n laaste vyf minute. Die lewe is soos ’n reis. ’n Reis waar ons êrens, eendag, by die poort van die dood moet deurgaan. Feit is dat die dood hoogstens uitgestel kan word, nie afgestel nie.

Soos ’n bult of ’n boom langs die pad wat eers daar ver voor op die horison verskyn het, maar geleidelik en dan al hoe vinniger naderkom, maak die dood ook op die horison van ons lewe sy verskyning.

Ons probeer ons bes om die tekens van die ouderdom te verbloem en so lank as moontlik uit te stel. Die jare marsjeer egter onverbiddelik voort. Jou weerstand word al minder. Jou broosheid en kwesbaarheid neem toe. Die werklikheid van die dood kom al vinniger nader – soos ’n merker langs die pad al vinniger naderkom en al groter word.

Dodelike nuus kan ook soms genade aankondig

Somtyds egter, daag die dood heelwat vinniger op, kom dit as ’n onaangename verrassing – soos wanneer iets skielik na ’n draai in die pad of in digte mis voor jou opdoem. Ek praat van ’n siekte soos terminale kanker: ’n kwaadaardige gewas wat aggressief jou liggaam annekseer.

Hulle noem kanker mos soms die “genadige siekte”. Het jy al gewonder hoe kan ’n siekte wat tot jou voortydige dood lei, ’n “genadige” siekte genoem word?

Natuurlik is daar ook ’n stuk “ongenadigheid”, ’n koudheid, ’n hardheid, in die wete van ’n onverbiddelike, naderende dood – beide vir die “slagoffer” én vir die naasbestaandes. Maar die groot genade verbonde aan ’n terminale siekte (ten minste vir sommige mense), is dat jy ten minste wéét jou tyd op aarde is beperk en dat jy kans het om “reg te maak”.

Feit is: Baie mense, miskien die meeste mense, ongeag die onontkombaarheid van die dood, is nie gereed om te sterf nie! Is nie gereed om hulle Maker in die oë te kyk nie! ’n “Genadige siekte” gee vir jou ’n spesiale tyd om reg te maak wat reggemaak moet word.

Daar is níks wat mense so vinnig en maklik hulle prioriteite in orde laat kry nie soos die aankondiging dat hulle beperkte tyd op aarde oor het. Die meeste van ons laat belangrike dinge na ter wille van dringende dinge.

Hoe sal jy leef as jy nog ʼn week oor het?

As jy hierdie vraag eerlik beantwoord en dit sou beteken dat jy jou program vir die volgende week dramaties moet verander, is dit waarskynlik ’n aanduiding dat jou prioriteite nie in orde is nie. Dat daar belangrike dinge is wat jy agterweë laat bly het.

Nie almal kry hierdie vooraf “kennisgewing” van hulle naderende dood nie. Hulle jaag nog ongesteurd voort op die pad van die lewe, min wetende dat die dood dalk net hier voor om ’n draai wag.

Een van die eerste dinge wat vir baie mense in so ’n tyd skielik belangrik raak, is hulle verhouding met God. Ek dank die Here dat Hy ons so liefhet, dat Hy soms toelaat dat mense in so ’n noute in hulle lewe beland sodat hulle betyds hulle saak met Hom kan regmaak.

Groot getalle mense het hulle lewe met God reggemaak in die dal van doodskaduwee. Die risiko is net dat almal nie ’n vooraf waarskuwing van hulle sterfdatum kry nie. Daar is vir baie nie ’n geleentheid vir ’n sterfbed bekering nie!

Die grootste genade van die lewe is wanneer ’n verlore mens – hoe goed of sleg hy/sy ook al gelewe het – die verlossing van Jesus Christus in sy/haar lewe aanvaar en deur God se groot liefde gered word.

Of jy daarna slegs ’n kort tydjie of nog lank op aarde gaan wees, is eintlik ’n bysaak – wat regtig saak maak, is: Waar gaan jy die eerste vyf minute na jou dood jou oë oopmaak?

Vriend of vriendin, as jy ook reken dat dit belangrik is om jou saak met God reg te maak voordat jy die doodsjordaan binnegaan, en dat jy kan verstaan dat mense dit doen as hulle besef dat die dood vir hulle nie meer ver is nie, is jóú saak met Hom al in orde?

Is jý gereed om jou Maker te ontmoet? En indien dit so belangrik is, waarom het jy dit nog nie gedoen nie? Is dit die moeite werd om so ’n risiko te loop?

Wat is jou nalatenskap vir jou geliefdes?

Verhoudings met ander mense moet ook aandag geniet. Die meeste mense, as hulle wéét hulle gaan sterwe, wil nie deur die poort van die dood gaan met slegte verhoudings nie. Waarom sou mense op hulle sterfbed hulle gebroke verhoudings betyds wil regmaak? Waarom word dit dan skielik vir hulle so belangrik?

En as dit die geval is, waarom wag ons, stel ons uit om vergifnis te vra en vergifnis te gee? Sê nou maar net jou of my dood kom té skielik en daar is geen tyd om reg te maak nie?

Daar is sommige wat afgeleef is, wat moeg is van swaarkry en pyn, wat na die dood uitsien en dit verwelkom. Vir baie ander kom die dood op ’n ongeleë tyd, ’n ongepaste tyd.

Hoe gaan dit gebeur? Wat gaan jou (of my) laaste herinneringe wees? Dit bly ’n onbeantwoorde vraag, ’n misterie, daardie laaste vyf minute voor die dood … En dan?

Party van ons gaan wéét – daar is nog net ’n paar minute oor, of dalk ure, of miskien ’n paar weke … Ander gaan niks voor die tyd weet nie.

Baie van ons gaan vyf minute voor ons dood blakend gesond wees. Die tragiese van die lewe is immers dat dit nie net siek mense is wat doodgaan nie; nie net ou mense nie. Daar kom vir ons elkeen ’n laaste vyf minute – daaroor is daar geen onsekerheid nie. Die vraag is net: Hoe en wanneer? En dan: die Groot Afspraak.

Die dood is maar net die poort waardeur jy moet gaan om by Hom uit te kom. Dit is ’n afspraak waar jy sal moet kom, net soos jy is. Die groot probleem hieraan verbonde, is egter die risiko dat jy dalk nie kort vóór daardie afspraak ’n wake-up call gaan kry nie.

Vandag is die regte tyd om wakker te word uit jou doodslaap, om jou tot die Here te bekeer; nóú, terwyl jy sy stem, hoor. Die dag as die Here met ’n mens praat, is die dag om te reageer.

Daar is soveel maniere waardeur die Here met ons praat. Het jy al God se wake-up call gehoor – en daarop gereageer? Indien jy nog nie daardie vaste sekerheid het nie, moet jy daaraan dink dat hierdie kursus waarskynlik God se manier is om jou wakker te maak en vir jou te sê: “Maak jou klaar om jou God te ontmoet!”

Wanneer jou lewe onbedreig is en jy in beheer is; voel jy gerus, veilig en onbesorg. Maar wat as … Wat as dit vir jou helder oordag skielik nag word?

Kan ek vir jou sê: Nie die grootste polis van vele miljoene rande, sal na jou dood vir jou geliefdes dieselfde waarde en betekenis hê as dat hulle kan weet jy was ’n kind van die Here nie. Dat jy nou by Hom is, by die Een wat jou liewer as hulle almal het, in daardie wonderlike huis wat Hy vir jou voorberei het nie.

En net so belangrik: Daar is die heerlike vooruitsig dat julle mekaar wéér gaan sien, dat die huidige skeiding net tydelik is. Daar is niks, géén geld, wat daardie troos en vrede kan koop nie. Dít is die grootste erfenis wat jy vir jou dierbares kan agterlaat!

JOERNAAL

Wat is die erfenis wat jy by geliefdes wat jou vooruit gegaan het na die hemelwoning gekry het? Wat gaan jou nalatenskap wees? Is daar iets wat jy in jou geloofsverhouding en verhoudings met ander moet verander? Het jy al met die proses van vergifnis begin?