TEMA 7 – Jy kan gereedmaak vir die hiernamaals

Die dood is nie die einde nie, maar die poort waardeur die kind van die Here móét gaan om vir altyd in heerlikheid saam met Christus te wees.

In die laaste vyf minute voor die dood sal jy en ek ook ervaar wat Dawid en baie ander gelowiges ná hom ondervind het, dat die kind van die Here geen onheil hoef te vrees in daardie laaste vyf minute voor die dood, in die dal van doodskaduwee nie.

Die dood van die gelowige is ook nie regtig ’n oorwinning vir Satan nie. Dit impliseer immers dat hy jou lewe vir altyd verloor het – nooit weer kan hy jou versoek nie en smarte of trane bring nie.

Voor jou dood is Satan nog ’n rolspeler in die drama van die lewe; na die dood is dit net God. Ons moet onthou dat niemand ons uit sy hand kan ruk nie en niks ons van sy liefde kan skei nie.

Miskien het jy ’n geliefde aan die dood afgestaan – miskien voortydig. Troos jou daaraan dat die betekenisvolheid van ’n lewe nie gemeet word aan die veelheid van jare nie, maar die seën en betekenis wat dit vir ander ingehou het.

Ek lees van die man, sommer nog jonk, wat besig was om te sterwe. ’n Doodse vrees het hom aangegryp terwyl hy in die benouende greep van die dood verkeer. Sy moeder was by hom en het hom probeer troos en kalmeer: “Hou vas my seun, alles sal reg wees!”

 

Die jongman het wanhopig na haar gekyk en snakkend na asem uitgeroep: “Dis juis die moeilikheid, Ma – ek het niks om aan vas te hou nie!”

As jy dáár kom, in die dal van doodskaduwee, sal jy bly wees as jy die Rots van die eeue het om aan vas te hou – Jesus Christus.

JOERNAAL

Maak lysies van die betekenis wat iemand vir wie jy lief is en wat gesterf het, in jou lewe ingebou het. Kan jy troos hieruit put en vir God dankie sê vir hierdie persoon? Watter verskil dink jy maak jy in die lewe van ander? Is daar dalk ’n roeping wat die Here in jou hart plaas waaraan jy nog gehoorsaam moet wees?