TEMA 6 – Naby-dood-ervarings bevestig die waarheid

Ons moet onthou dat die sterwensgebeure as sodanig in groot misterie gehul is. Wanneer presies is ’n mens dood? Is dit wanneer jy ophou asemhaal, jou hart ophou klop, daar geen breingolwe meer is nie?

Die realiteit is dat mense nie op ’n eenvormige manier sterf nie. Vir party kom die dood in ’n oogwink. By ander kan jy nie van ’n spreekwoordelike sterwensoomblik praat nie, maar eerder van ’n sterwensuur. Dit skyn of sommige stadiger “oor die grens” beweeg.

By die dood word daar inderdaad ’n grens oorgesteek – ’n dimensionele grens tussen die “hier” en die “hiernamaals”. In leketaal kom dit daarop neer dat mense soms in hulle sterwensoomblikke vir ’n wyle deel van twee wêrelde kan wees.

In Amerika is navorsing gedoen wat daarop dui dat tot soveel as 30% van mense by hulle dood bonatuurlike geestelike ervarings het. By kinders is dit so hoog as 70%.

Wat hierdie belewenisse verdere geloofwaardigheid gee, is dat die sterwendes uit verskillende tye, plekke en omstandighede ooreenstemmende ervarings en belewenisse het. Benewens die bonatuurlike hemelwese(ns) wat hulle sien, sien die meeste ’n onbeskryflike en heerlike lig – dikwels aan die einde van ’n lang tonnel.

Baie vertel van ’n bo-aardse atmosfeer en skoonheid en veral ’n bonatuurlike belewenis van liefde, geluk en vrede wat hulle kwalik kan beskryf.

Sommige skeptici beweer dat hierdie ervarings bloot toegeskryf moet word aan hallusinasies van die brein. Hierdie bewering word egter weerlê deur die merkwaardige ooreenstemming van die belewenisse van mense uit verskillende plekke en agtergronde.

Hierby kom ook die feit dat ’n substansiële deel van mense wat ’n naby-dood-ervaring gehad het – positief of negatief – se lewe daarna radikaal verander en hulle in ’n nuwe en lewende verhouding met God kom.

Die ander kant is soveel heerliker as hierdie kant

 Dit blyk dat daar by heelwat sterwendes wat so ’n ondervinding het, iets ongewoons gebeur, naamlik dat hulle lewenswil vervang word deur ’n sterwenswil. Anders gestel, dat dít wat hulle anderkant die dood beleef vir hulle so wonderlik is dat hulle nie wíl terugkeer na hul aardse bestaan nie.

Jy kry dit veral in gevalle waar mense uit ’n skyndood of koma terugkeer, dat hulle met heeltemal ander oë na die dood kyk en ook sê dat hulle nie wou terugkom nie – die “ander kant” was net te wonderlik.

’n Interessante verskynsel wat sterwensbegeleiers teëkom en wat met bogenoemde verband hou, is dat veral kinders gewoonlik geen vrees ervaar wanneer hulle besig is om te sterwe nie.

Daar is soveel egtheid en wonderlike misterie wat dikwels met die sterwensgebeure gepaardgaan, dat talle mense wat daarmee te make gehad het met nuwe oë na God en die lewe na die dood kyk. Daar is heelwat voorbeelde dat selfs dokters wat vroeër ongelowiges of agnostici was, tot bekering gekom het as gevolg van sommige van hulle pasiënte se sterfbed-ervarings.

Terwyl die naby-dood-ervarings dikwels en vir baie mense troos bring, moet ons altyd besef dat sulke verhale nooit op dieselfde vlak as die openbaring van die Bybel gestel kan word nie.

Alhoewel hierdie waarnemings vir die persone self – en vir ander – van besondere betekenis mag wees, moet daar gewaak word om nie ons geloof, oortuigings en leerstellings oor die ewigheid en die hemel daarop te bou nie. Al klink dit hoe wonderlik, hierdie ervarings en mededelings het net waarde in soverre hulle ooreenstem met die getuienis van die Skrif.

Die Bybel bly ons onfeilbare rigsnoer en maatstaf vir ons leer en lewe, vir die lewe hier én hierna.

Kyk nou die video, Meer oor naby-dood-ervarings, en kliek hier.

JOERNAAL

Vra die Heilige Gees om jou te help soek na ʼn boek of film oor naby-dood-ervarings wat gelowiges versterk en bemoedig. Praat met ander mense hieroor en skryf neer wat jy nuut geleer het, maar ook wat jou Bybelse beskouings verdiep het.