TEMA 5 – Die vrede en steun van geloof

Ek ken ’n hele paar mense – familie en naby vriende wat ’n geliefde deur die dood verloor het. Daar is van hulle wat met my gepraat het tot vlak voor die dood. Ek wil na twee van hierdie gevalle verwys om vir jou aan te toon watter verskil dit vir die naasbestaandes maak om te weet: My geliefde was gereed om die Here te ontmoet.

Maar kliek eers hier vir die video, Hoe dink ander gelowe oor die dood, en lees dan die twee verhale.

“Ek wil huis toe gaan … nie my aardse huis nie”

Oom Pieter de Jager, beter bekend as oom Pietjie, was in sy leeftyd seker die bekendste persoon in die Suid-Kaapse vissers- en vakansiedorp, Witsand. Dis egter nie oor sy legendariese hengelloopbaan wat oom Pietjie die meeste bekend was nie. Dit was oor sy Christenskap.

Hy was nog een van die ou soort. Daar was nie baie grys areas in sy lewe nie. Tot by sy dood was sy grootste passie om mense by die Here te kry. Hy het tydig en ontydig getuig.

Oom Pietjie het 88 jaar oud geword. Hy was nog redelik gesond tot 20 minute voor sy dood, wat skielik en pynloos gekom het. Ek wil jou eintlik net vertel van daardie laaste paar minute, en van die erfenis wat hy nagelaat het.

Hulle was die dag in Worcester in die kerk met ’n begrafnisdiens van ’n vrou wat hy jare vantevore na die Here toe gelei het. Die dominee was besig om te preek toe hy aan tannie Gas stamp en sê: “Mamma, ek is naar.”

Sy het gou besef dat iets ernstigs verkeerd is. Hulle het hom uitgevat buite toe. Daar het hulle besef hulle moet hom so gou as moontlik by die hospitaal kry. Daar het seker kwalik 15 minute verloop vandat hy in die kerk naar geword het, totdat hy op die smal hospitaalbedjie in die ongevalle afdeling lê.

Hy het na haar gekyk en gesê: “Mamma, ek wil huis toe gaan.” Sy het vir hom gesê: “My man, ons kan nie nou huis toe gaan nie, Witsand is 90 kilometers van hier af!” Sy het nie geweet dat sy laaste vyf minute op aarde aangebreek het nie.

Hy het geantwoord, en dit was sy laaste woorde: “Mamma, ek praat nie van daardie huis nie.” ’n Paar oomblikke later het hy sy laaste asem uitgeblaas. Dis wonderlik dat Christene kan glo aan ’n huis aan die “ander kant”.

Geen wroeging, geen worsteling en onsekerheid, sy lewe was so duidelik uitverkoop aan Jesus Christus dat niemand enigsins wonder waar oom Pietjie is nie.

Sommige sinici en diegene wat hard probeer om hulleself en ander te oortuig dat God en ’n lewe na die dood sommer wensdenkery is, sal dalk ’n verhaal soos hierdie as soetsappige sentiment aflag. Maar wag maar, dalk praat ons weer as jou eie lewensskadu’s lank rek.

Vir so ’n persoon wil ek vra: Waaraan gaan jou geliefdes vashou na jou dood? Watter erflating gaan jý laat? Waarheen moet mense na jou dood gaan om jou weer te sien? Maar net in jou voetspore volg?

“Veilig in die hand van die Een wat liefde is”

Mariska was my vrou se susterskind. Sy was ’n pragtige, begaafde 19-jarige student. Sy het reeds vroeg in haar lewe die Here as haar Verlosser aangeneem en haar lewe het daarvan getuig.

Sy was op pad na die universiteit toe ’n man onder die invloed van drank oor ’n rooi verkeerslig gery en teen hulle motor gebots het. Sy is bewusteloos in die hospitaal se hoësorgeenheid opgeneem met ernstige breinbeserings. Daar is vir 12 dae tevergeefs om haar lewe geveg.

Ek het ’n paar minute voor haar dood by haar bed gestaan. In my eie gemoed het ek gestoei met die vrae wat hulleself aan jou opdring. Dit is deel van die lewe se normale verloop dat kinders hulle ouers begrawe, maar vir ouers om hulle kinders te begrawe … ?

Daar is mos nie baie vrae wanneer iemand afgeleef en oud sterf nie. Maar so jonk en mooi, met haar lewe wat belowend voor haar uitgestrek het – en nou het sy haar laaste paar minute betree weens die stommiteit van ’n man wat onder die invloed van drank agter ’n motor se stuurwiel geklim het.

Die volgende dae, weke en maande het ons, al was dit net tot ’n mate, die seer, pyn en smart van hierdie twee ouers gevoel en gedeel. Hulle is al twee volwasse gelowiges met ’n innige verhouding met die Here.

’n Mens moet egter verstaan dat Christenskap nie beteken die dolk van rousmart nie ook jou siel kan deurboor en jy nie ook die trane, smart, pyn en die verskillende fases van rou beleef nie.

Tog het ons wat naby aan hulle leef, in hierdie smartvolle tyd kon sien watter verskil God in sulke tye in mense se lewe maak. Watter troos is daar nie om te weet daar is ’n groter prentjie en ’n groter storie as net hierdie ondermaanse smart nie!

Wat hulle deurgedra het, was die wete dat Mariska aan die Here behoort het en die geloof in Hom gehad het.

Dit was vir my eintlik ’n wonderlike getuienis om te sien en te hoor hoedat hierdie twee mense, ten spyte van hierdie onbeskryflike smart en hartseer, weer hulle kop kon optel en met hulle lewe kon aangaan.

En soms op spesiale dae tussen hulle trane deur, versterk en bemoedig kon word deur die troosvolle wete dat hulle as gelowiges na ’n herontmoeting, eendag, by Hom kan uitsien.

JOERNAAL

Skryf die storie van jou pad na sterwensvrede neer. Doen dit stukkie vir stukkie en maak seker jou geliefdes kry dit eendag as troos vir hulle wanneer jy nie meer hier is nie. As jy nie hou van skryf nie, kan jy stemopnames maak en dit in digitale formaat bewaar. Onthou – dis ʼn reis en nie iets wat jy dadelik of spoedig hoef te finaliseer nie … Maar moenie te lank uitstel nie!

As jy in jou familie of vriendekring getuienisse het soos die twee wat jy gelees het, kan jy dit ook bymekaarmaak en op skrif of as ʼn opname bêre en deel met mense wat troos benodig.