Dink jy aan vreugde wanneer jy aan die hemel dink? Of raak jy depressief wanneer jy aan die hemel dink – ’n plek waaroor jy glad nie ’n dringendheid voel om heen te gaan nie?
Is jy seker jy is lus vir die hemel?
Die hoofrede vir die deursnee-Christen se apatie oor die hemel lê ongetwyfeld in ons gebrekkige kennis, insig en begrip oor die hemel en wat ons daar gaan doen. Wees eerlik: Wat is ons tradisionele verwagtinge rondom die hemel?
Party dink aan die hemel as ’n plek waar daar onophoudelik kerk gehou gaan word. En baie van ons sentiment en herinneringe oor kerkdienste is nie juis van so ’n aard dat ons dag en nag daarmee besig wil wees nie.
Die gedagte dat ons saam met engele as ’n massakoor gaan sing en met ons hande in die lug die Here gaan aanbid terwyl die “hallelujas soos donderslae weerklink”, mag aanvanklik wonderlik wees, miskien nog vir ’n week of twee, maar onophoudelik, tot in ewigheid?
Is dit die hemel? Gaan dit nie later vervelig word nie? En dan voel ons skuldig as ons nie na die hemel verlang nie. Ons kan ons kwalik op aarde indink wat die hemel so bekoorlik maak.
Wat opmerklik is, is dat Bybelfigure, soos Paulus en Johannes, wat ’n openbaring of ’n voorsmaak van die hemel gehad het, daarna gesmag en verlang het.
Wanneer ons dink aan die hemel, kan ons dit nie bepaal en definieer volgens ons aardse begrippe en beelde van dit wat mooi, vreugdevol en plesierig is nie. Die hemel sal so gans anders, so ondenkbaar en onbeskryflik wees. Tyd, in soverre as wat dit nog bestaan, sal ’n heel ander betekenis hê as wat dit op aarde het.
Ons hoef dus nie te dink dat ons na 10 000 jaar moeg sal wees van die een of ander aktiwiteit wat aanvanklik dalk wonderlik sou wees nie. Verveeldheid is die één gedagte of woord wat nooit in die hemel sal opkom nie.
Die een deurlopende getuienis van mense wat ’n nadoodse of nabydoodse ervaring van die hemel gehad het, is dat dit wat hulle gesien, gehoor en beleef het, so onbeskryflik wonderlik, bonatuurlik en anders was, dat hulle net begeer het om daar te bly en deel daarvan te wees.
Ware verhale van mense se nadoodse ervarings
Wanneer ’n mens oor die eerste vyf minute in die hemel praat, is dit noodwendig dat jy ook sal dink aan die kwessie van nadoodse en nabydood-ervarings. Kom ons kyk weer daarna:
By die dood word daar inderdaad ’n grens oorgesteek – ’n dimensionele grens tussen die “hier” en die “hiernamaals”. As jy ’n geleerde term wil gebruik, sou jy kon sê dat daar by die dood ’n “transendentale migrasie” plaasvind.
Tydens hierdie “oorgang” of “migrasie” van die gees en siel van die mens wat oënskynlik in aardse terme korter of langer kan duur, gebeur dit volgens getuienis soms dat mense dinge beleef en waarneem van die “anderkant” terwyl hulle nog nie klinies dood is nie.
In leketaal kom dit daarop neer dat mense soms in hulle sterwensoomblikke vir ’n wyle deel van twee wêrelde kan wees.
Die merkwaardige is dat diesulkes – en veral kinders – engelewesens, ’n Goddelike wese of (volgens talle se beskrywing) Jesus sélf sien. In baie gevalle is die verhale verstommend omdat die beskrywings wat gegee word, nie toegeskryf kan word aan enige vooraf kennis of inligting wat die persone gehad het nie.
Baie vertel van ’n bo-aardse atmosfeer en skoonheid en veral ’n bonatuurlike belewenis van liefde, geluk en vrede wat hulle kwalik kan beskryf. Sommige skeptici beweer dat hierdie ervarings bloot toegeskryf moet word aan hallusinasies van die brein.
Hierdie bewering word egter weerlê deur die merkwaardige ooreenstemming van die belewenisse van mense uit verskillende plekke en agtergronde.
Hierby kom ook die feit dat ’n substansiële deel van mense wat ’n nabydood-ervaring gehad het – positief of negatief – se lewe daarna radikaal verander en hulle in ’n nuwe en lewende verhouding met God kom.
Dit blyk dat daar by heelwat sterwendes wat so ’n ondervinding gehad het iets ongewoons gebeur, naamlik dat hulle lewenswil vervang word deur ’n sterwenswil. Anders gestel, dat dít wat hulle anderkant die dood beleef vir hulle so wonderlik is dat hulle nie wíl terugkeer na hulle aardse bestaan nie.
Jy kry dit veral in gevalle waar mense uit ’n skyndood of koma terugkeer, dat hulle met heeltemal ander oë na die dood kyk en ook sê dat hulle nie wou terugkom nie – die “anderkant” was net te wonderlik.
Daar is soveel egtheid en wonderlike misterie wat dikwels met die sterwensgebeure gepaardgaan, dat talle mense wat daarmee te make gehad het met nuwe oë na God en die lewe ná die dood kyk.
Wat beteken hierdie na-doodse verhale vir gelowiges?
Terwyl die nabydood-ervarings dikwels en vir baie mense troos bring, moet ons altyd besef dat sulke verhale nooit op dieselfde vlak as die openbaring van die Bybel gestel kan word nie.
Alhoewel hierdie waarnemings vir die persone self – en vir ander – van besondere betekenis mag wees, moet daar gewaak word om nie ons geloof, oortuigings en leerstellings oor die ewigheid en die hemel daarop te bou nie, al klink dit hoe wonderlik – behalwe waar hierdie ervarings en mededelings ooreenstem met die getuienis van die Skrif.
Die Bybel bly ons onfeilbare rigsnoer en maatstaf vir ons leer en lewe – vir die lewe hier én hierna. Terwyl jy dit in gedagte moet hou, kan hierdie ware verhale vir jou dalk troos en bemoediging inhou oor die werklikheid van die lewe ná die dood en ook van die misterie van die dood self.
Miskien is dit ’n stukkie van God se genade en liefde dat Hy, benewens die feit dat Hy deur sy Woord so duidelik met ons praat, ook nog deur sodanige getuienisse tot ons spreek. Dalk het jy hierdeur troos ontvang. Dalk het die Heilige Gees ’n toenemende onrustigheid in jou hart gebring.
Mense wat ’n kykie in die hemel gekry het, het almal daarna ’n grootse ervaring van dankbaarheid en getuig hoe lofwaardig God is. Hulle is opnuut en diep onder die indruk van die verlossing in Christus.
Daar kan geen dankbaarheid groter wees as dié van ’n verloste jeens die Verlosser nie. O, die wondergenade wat God aan ’n verlore mensdom bewys het deur sy Seun te stuur om in ons plek die straf en oordeel vir ons sonde te dra sodat ons vir altyd in die hemel by Hom kan wees!
Ken jy die verhaal van die swemkampioen, Florence Chadwick?
Sy is gebore op 19 Mei 1918 in San Diego en het reeds op tienjarige ouderdom kompeterend begin swem. Sy het gefokus op die uitdaging van swem oor langafstande – veral in die see.
So het sy in Augustus 1950 die vrouerekord oor die Engelse Kanaal gebreek toe sy dit in 13 uur en 20 minute afgelê het. Sy het verskillende ander moeilike swemuitdagings voltooi en ’n hele aantal rekords verbeter.
Die een waarna ek hier wil verwys, het op die 4de Julie 1952 plaasgevind toe sy gepoog het om die plus-minus 40 kilometers van Catalina Eiland na die vasteland van Kalifornië te swem.
Dit was nie ideale weer nie. Dit was koud en swaar mis het op die see gelê sodat sy beswaarlik die bote kon sien wat haar vergesel het. Talle haaie het om haar gesirkel en die bemanning moes herhaaldelik van gewere gebruik maak om die haaie te verdryf.
Die grootste hindernis was die digte mis wat haar visie totaal belemmer het. Dit het meegebring dat sy nooit ’n idee van haar vordering kon kry nie en allermins iets vorentoe kon uitmaak.
Vyftien uur lank het sy moedig geswem, maar met die digte mis en die koue het sy al hoe meer begin twyfel of sy dit ooit sal maak. Sy het gesmeek dat hulle haar eerder moet uithelp, sy kon nie meer nie.
Haar moeder en afrigter wat in een van die bootjies naaste aan haar was, het haar probeer aanmoedig en oortuig dat sy amper die tog voltooi het. Vir nog ’n uur het sy met moeite probeer swem, maar met die mis wat haar uitsig versper het, het dit vir haar gevoel sy bly op dieselfde plek.
Fisies en emosioneel totaal uitgeput, het sy ophou swem en moes hulle haar uit die water op die boot help. Dit was eers toe sy op die boot was dat sy die kuslyn dofweg deur die mis kon uitmaak – slegs ’n paar honderd meter van haar af!
Haar hoër posisie op die boot het haar in staat gestel om verder en beter te kon sien. Dit was nie soseer haar fisiese onvermoë wat haar gekelder het nie, maar die onvermoë om die eindbestemming sommer hier naby haar te sien.
Sy het die volgende dag aan ’n verslaggewer gesê: “Look, I’m not excusing myself. All I could see was the fog … I think if I could have seen the shore, I would have made it.”
Sy het dit inderdaad daarna gedoen. Twee maande later, met die mis weer net so dig, het sy die afstand in minder as 14 uur afgelê en die 27 jaar oue rekord met meer as twee uur verbeter. Boonop het sy die eerste vrou geword wat die roete afgelê het.
Hierdie keer het sy egter nie teen die mis vasgekyk nie, maar as ’t ware die onsienlike gesien.
Hou aan glo, die hemel is werklik voor jou
Miskien het jy ook ’n moeilike stormsee wat jy besig is om oor te steek. Daar is ook golwe wat dit vir jou swaar maak. Dalk is daar ook allerlei “haaie” wat om jou sirkel en waarvoor jy bang is.
Maar die ergste is die “mis”. Daar is soveel dinge wat jou uitsig op die “goue strand” versper. Jou visie is versteur. Jy sukkel om die onsienlike te sien. Die duiwel en jou eie gedagtes oortuig jou dat jy dit nie gaan maak nie.
Met die verhaal van Florence Chadwick in gedagte, sou ek graag net ’n helper in die hand van die Here wil wees wat in een van die “helper-bootjies” deur middel van hierdie boek net langs jou vaar en jou bemoedig.
In Openbaring 2 en 3 het Jesus deur Johannes aan elkeen van die sewe gemeentes in Klein-Asië ’n brief geskryf. Hy eindig elkeen van die briewe met min of meer dieselfde woorde: “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee …”
Meer as een keer herhaal die Evangelies Jesus se woorde: “Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word” (Matt.10:22b).
Jy het te ver gekom om nou handdoek in te gooi. Die einde is in sig. Onthou Florence se woorde: “I think if I could have seen the shore, I would have made it.”
Ek wil jou graag ook aanmoedig: Die hemel is ’n werklikheid. Daar is ’n hemelse kus; daar is ’n plek, ’n hemelse paradys wat wag.
Maar die heel belangrikste: Die Een wat alles gemaak het, wat my en jou gemaak het en wat sy Seun ter wille van ons na hierdie aarde gestuur het, wag om jou aan sy boesem te ontvang.
As jy net in jou geestesoog die hemelse “kuslyn” in die oog kan kry, die plek wat Hy gegaan het om vir jou voor te berei, sal dit jou opnuut bemoedig en krag gee om aan te gaan. Dalk is dit nader as wat ons besef.
Miskien wil jy nog ’n keer Paulus se woorde in Filippense 1:23b bely: … ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste.
JOERNAAL
Het jy die vraag of jy regtig lus is vir hemel toe gaan regtig eerlik geantwoord? Is daar iets in jou lewensbeskouing en verstaan van geloof wat moet aanpas of verander? Waaraan wil jy nog werk om die vooruitsig na die hiernamaals te laat grondvat in ’n doelgerigte lewe hier en nou?