TEMA 3 – Waarhede oor doodgaan wat moed gee

Is ons elkeen se “streep getrek” en as jy die dag daar uitkom, is dit verby met jou ongeag wat jy doen of hoe jy lewe? As ’n mens glo dat jou streep getrek is, kan dit natuurlik ’n stuk fatalisme bring.

Dis dan wanneer jy mense hoor sê: “As jou tyd gekom het, het dit gekom, as jy nie doodgaan weens kanker nie, gaan ’n dronk man jou doodry of ’n dwaalkoeël gaan jou tref of jou vliegtuig gaan val, of ʼn nuwe virus gaan jou oorweldig, maar jou tyd is jou tyd.”

Dit kan meebring dat sommige ’n onverantwoordelike lewenswyse het of aan lewensgevaarlike aktiwiteite deelneem met die eenvoudige filosofie: As jou tyd gekom het, gaan jy in elk geval sterf.

Hierdie siening bring ongelukkig ook dikwels mee dat God die Outeur van alle sterftes gemaak word. Selfs die voortydige dood van ’n kind word dan vierkant voor God se deur gelê.

Dan worstel jy soms met die “maklike” vertroosting van sommige: “Dit was seker maar haar tyd.” Of ander kere wanneer iemand in ’n lewenskrisis beland en teen alle aanduidings lewend daaruit kom, sal mense sê: “Dit was seker maar nog net nie sy tyd nie.”

Wanneer ’n mens oor die dood praat of skryf, moet jy altyd besef dat die dood in misterie gehul is. Die realiteite van ons gebroke wêreld, van lyding en dood, en aan die ander kant van God en sy wil, laat die slimste onder ons dikwels woordeloos.

Wanneer jy oor die dood dink, praat of skryf, kom daar tye wat jy dom is, sprakeloos, en besef dat daar baie is wat ons nie verstaan nie. Tog is daar sekere beginsels wat jou kan moed gee.

  • God is Lewe … die Bron, die Gewer van lewe

Soos die sonde, is die dood nie uit God nie. Die dood is ’n vreemde, ongoddelike mag. Terwyl God mag het oor lewe en dood, assosieer ’n mens as ’n reël lewe met God en dood met sonde en die duiwel. Lewe behoort aan God.

  • Die dood is die vyand – maar deur Jesus verslaan

Die dood in die Bybel word as vyand van God gestel. ’n Vyand wat ook deur Jesus aan die kruis oorwin is. Jesus Christus het die dood oorwin!

In antieke tye kon ’n koning, wanneer hy sy vyand oorwin het, hom doodmaak of hom sy dienskneg maak. Wanneer mens sê dat Jesus die dood oorwin het, beteken dit nie dat die dood nou nie meer bestaan nie, maar wel dat God die dood ook nou in sy diens kan gebruik.

Alhoewel Jesus die Here is – ook oor die dood – beteken dit nie dat God die Een is wat agter die dood van mense sit nie. Hy is nie ’n moordenaar nie. Die dood is ’n oorwonne vyand. En soos ’n oorwinnaar van ouds, kan God die dood in sy diens en tot sy eer gebruik.

Die gedagte dat God sy vyande, ja, ook die dood en selfs bose geeste in sy diens kan gebruik om sekere take te verrig, is nie vreemd in die Bybel nie. Sy oppermag noodsaak selfs die duiwel en sy demone om Hom te gehoorsaam.

Daarom moet ons dit nie vreemd vind dat God ook die dood in sy diens en tot sy eer kan gebruik nie. Hý is die Here!

  • Die dood wag vir almal na hulle aardse lewe

Ons almal moet sterwe. Dit is ongelukkig die uitkoms van die lewe op ons sondegebroke aarde. Die dood is permanent teenwoordig in die lewe van alle mense. Die dood is in ’n sekere sin die uitkoms van ’n lewenslange proses.

Daar vind gedurig en ongemerk ’n aftakeling in jou liggaam plaas. Hoe ouer jy word, hoe sneller gebeur dit. Daar is geen ontkoming aan die dood nie. Die vraag is net: Wat gaan jou longe die laaste keer laat asemhaal en jou hart die laaste keer laat klop?

Tog glo ek dat God wil hê dat ons ’n vol, gelukkige en vervulde lewe op aarde sal geniet – ’n optimum lewe! Alhoewel baie faktore ’n rol kan speel in elke indiwidu se uiteindelike ouderdom, kan dit as ’n beginsel aanvaar word dat God ons ’n optimale aantal jare op aarde wil gee.

Terwyl ons onthou dat God die Gewer van lewe is en sy heerskappy ook die dood insluit, is daar verskillende faktore wat jou sterfdatum kan beïnvloed. Die belangrikste van ons lewe is egter nie op watter ouderdom ons gaan sterf nie, maar of ons die Here as ons Verlosser aangeneem het en of ons sy doel en plan vir ons lewe verwesenlik het.

  • God weet alles van jou lewe en sterwe

God is alwetend. Daar is níks wat Hy nie weet nie – ook wat die toekoms betref. Daar is niks wat sal gebeur wat vir Hom ’n verrassing sal wees nie. As die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde, is die toekoms vir Hom net so bekend soos die verlede.

Dit impliseer dat Hy by voorbaat weet wat en wanneer alles met ons elkeen sal gebeur – ook wanneer en hóé ons tot sterwe sal kom. Moeilike vrae kan hiermee saam gevra word, soos byvoorbeeld: As God dan alles by voorbaat geweet het, waarom het Hy sekere dinge toegelaat? Waarom voorkom Hy nie dat onskuldige mense sterf nie?

Ons moet aanvaar dat daar nie vir al ons vrae antwoorde beskikbaar is nie. As gelowige kan en moet ek my daarby berus dat alle dinge ten goede meewerk vir dié wat God liefhet. Feit is dat daar baie dinge in hierdie wêreld gebeur wat nié God se wil is nie – al het Hy geweet dit gaan gebeur.

Net so is daar niemand wie se dood vir God ’n verrassing is nie, maar dit beteken nie dat Hy in elke geval die streep getrek het en dat almal op ’n datum te sterwe kom wat Hy vir hulle bepaal het nie. Dit alles gesê, kan die gelowige ten minste daaraan vashou dat sy/haar lewe in die hand van die Here is.

JOERNAAL

Het jy al die waarheid oor jou eie sterflikheid in die oë gekyk? Hoe voel jy hieroor? Kan jy met God hieroor gesels en met ander mense? Kan jy in vrede voluit leef sonder antwoorde op al jou vrae? Het jy dankbaarheid in jou hart vir wat Jesus gedoen het sodat jy nie jou sterfdag hoef te vrees nie? Kan jy hierdie troos en versekering vir ander mense oordra?