Daar is veral twee komponente van ons verlede waarvan ons moet probeer wegstap as ons gereed wil wees vir die beste ouerskap moontlik: Die ouerskapvoorbeeld van ons eie ouers en ons eie slegte ouerskapverlede.
Hoekom moet ek wegstap van my ouerskapvoorbeeld?
’n Huwelik is die begin van ’n nuwe gesin. Baie jong egpare sukkel egter om los te kom van hulle oorspronklike gesin. As ons nie op ’n gesonde manier van ons ouerhuise loskom nie, word ons groot kinders in plaas van ouers in eie reg.
As ons nog hoofsaaklik die rol van kinders vertolk, wonder ons later of ons hoegenaamd die reg het om op ons eie te gaan vakansie hou. Mag ons in Oupa se huis verwag dat ons kinders ons reëls gehoorsaam?
Mag ons vir Ouma vra om kleiner geskenke te koop of minder sjokolade vir die kleinkinders te voer? Daar ontstaan twee stelle grense. Dink net hoe verwarrend dit vir ons kinders kan wees. Wanneer dit by kinderdissipline kom, kan ons nie bekostig om meer as twee ouers met hulle eie opinies in die huis te hê nie!
Baie huise het reeds twee ouers wat nie kan saamstem nie. Voeg daarby die twee stemme wat elke ouer in sy of haar kop hoor oor wat sy of haar ma en pa onder die omstandighede sou doen, en daar is ses opinies en groot konflik onder een dak.
Is dit nie so dat ons soms besig is om ons kind te dissiplineer, en skielik ons pa of ma se stem uit die verlede klokhelder hoor inmeng nie? Party van ons het werklik vir Ouma of Oupa in ons huis, en dan is die stem nog moeiliker om te ignoreer wanneer dit aandring op meer toegeeflikheid of ’n swaarder straf.
Moet ek ook wegstap van ’n goeie ouerskapvoorbeeld?
In baie opsigte is die antwoord “ja”. Dié van ons wat mooi kindertydherinneringe en goeie verhoudings met ons ouers het, loop juis gevaar om steeds presies te probeer doen wat hulle gedoen het, en wat hulle sal gelukkig maak.
Ek noem dit ’n gevaar, want die ouerskapeise het in twintig jaar baie verander, en alhoewel jy baie by jou goeie ouers kon geleer het, kan jy nie hulle voorbeeld dupliseer nie, en selfs al sou jy kon, sou dit nie jou kinders vir vandag se wêreld voorberei nie. Om te doen wat hulle gedoen het, kan selfs onwettig wees!
Ongelukkig is dit bitter moeilik om ’n vaste oortuiging te vorm as ons gewond is. Ons moet gesond wees van alles wat dalk sleg was uit ons kinderdae. Ons moet ook gesond genoeg wees dat ons ouers se goedkeuring van ons ouerskapstyl minder belangrik is as ons eie oortuigings.
Wanneer ons die emosionele kan agterlaat en uit oortuiging begin dissiplineer en opvoed, het ons ’n nuwe visie – ’n vooruitsig wat ons help om doelgerig vorentoe te beweeg.
Goeie ouerskap is proaktief eerder as reaktief. Dit beteken dat ek my eie plan het, en nie net maak soos iemand anders gemaak het of eerder moes gemaak het nie. Ek moet verstaan waarom ek doen wat ek doen, en ek moet weet wat ek daarmee wil bereik.
Slaan ek nie want “dit is teen die wet”, of slaan ek nie want “ek glo dit leer my kind geweld”? Slaan ek wel “want die Bybel sê so”, of slaan ek “want die ander mense in my kerk glo almal daaraan”?
Daar is ’n tweede rede om nie maar net my ouers se goeie ouerskapvoorbeeld te dupliseer nie. Die gevare en eise in kinders se leefwêreld het oor die jare te dramaties verander.
Ons ouers kon ons laat TV kyk sonder om te vrees dat ons onskuld gesteel gaan word, ons alleen kafee toe laat stap toe ons ses jaar oud was en ons na enige skool toe stuur met die seker wete dat ons daar ’n goeie opvoeding gaan ontvang.
Ons ouers het ons grootgemaak in ’n wêreld sonder aborsiewette, die Internet, selfoonpornografie, okkultiese kaartspeletjies, dwelmhandelaars op die straathoeke en regstellende aksie.
Ons opgawe met ouerskap is vandag soveel anders dat ons eenvoudig ons benadering moet aanpas! Ons moet ’n baie groter aktiewe rol speel. Ek glo nie dat baie van ons dit doen nie …
Hoe kan ek oorbegin as my ouerskapgeskiedenis sleg lyk?
Ons moet ons eie ouerskapfoute kan agterlaat as ons van plan is om met visie vorentoe te beweeg. As ons tot nou toe baie mislukkings beleef het, en van voor af begin, moet ons seker maak dat ons ons regtig losmaak van wat agter ons lê.
Amper alle ouers wat voel asof hulle misluk het, voel so weens een of meer insidente van konflik met hulle kinders. Dit beteken iemand is skuldig, iemand is kwaad, iemand is spyt, iemand is hartseer of iemand is eensaam.
Al hierdie emosies laat die probleem dikwels groter voel as wat dit is. Ons het dus regtig perspektief nodig – iets waarvoor ons moet bid voordat ons die klip uit die pad begin rol.
Ons moet nie probeer om ’n reuse bloekomboom met ’n lepel uit te spit nie, maar ook nie om ’n klein brandneteltjie met ’n skopgraaf uit te grawe nie.
Ernstige ouerskapflaters soos fisieke of emosionele mishandeling of verwaarlosing moet met ’n “skopgraaf” hanteer word, wat beteken dat ons professionele hulp moet inroep. As ons egter net op ’n dag ons kind by die skool vergeet het, kan ons die probleempie met ’n “lepel” uit die weg ruim.
’n Fout is nie noodwendig gelyk aan swak ouerskap nie. Ons moet regstel wat ons kan, maar ook weet dat ons nog baie foute gaan maak, en dat daar in ouerskap ruimte is daarvoor.
As ons met nuwe visie wil vorentoe beweeg, moet ons die insidente identifiseer wat gelei het tot ons gevoel van mislukking, en dit so bevredigend moontlik oplos. Geen boek of kursus kan ons help as ons foute by ons en ons kinders spook nie.
As hierdie dinge onder die mat ingevee is, sal ons dit ongelukkig daar moet gaan uithaal. Die hartseer en skuldgevoel of bitterheid sal nie weggaan voordat ons dit alles hanteer het nie.
Soms is dit net ons wat nog onsself moet vergewe – iets wat ons biddend kan leer doen – maar dikwels moet ons saam met ons eggenoot en ons kinders die verlede se seer deurwerk. Daarna moet ons ons gedagtes dissiplineer om nie aanhoudend daarnatoe terug te gaan nie.
Onthou dat ’n kind se groot blaps nie noodwendig te wyte is aan mislukte ouerskap nie. Ons sou alles reg kon doen, en steeds moet toekyk hoe ons kinders die verkeerde pad kies. Dit is ongelukkig die realiteit van ’n vrye wilskeuse. Ons kinders kan “ja” of “nee” op ons ouerskap antwoord.
Daarom hoef ons nie soos mislukkings te voel wanneer ons kinders ’n ander pad kies nie. Natuurlik gaan dit ons baie seer maak, en natuurlik is dit ’n teleurstelling, maar selfs die Vader van alle vaders moes deur die eeue tot vandag toe vrede maak met kinders wat “nee” antwoord. Ons kan seker nie verwag om beter te doen nie?
As ons nog nie ons kind vir verkeerde optrede vergewe het nie, moet ons dit ook leer doen, en leer om elke dag van voor af te begin met die geduld waarvan ons in Hosea 11 lees. Ons ouerliefde moet altyd triomfeer oor ons kinders se verkeerde gedrag.
Die bitterheid oor die verlede kan ons vernietig. As ons ons dus werklik sal los maak van die verlede van ons en ons kinders se foute, is daar hoop en nuwe visie vir ons!
Sal jy jouself en jou kinders toelaat om voor te begin? Die Here staan vir seker gereed om jou deur sy Gees by te staan.