Dit is normaal om graag meer te wil weet oor die plek waarheen ons na ons dood gaan. Ons gaan immers ’n lang tyd daar deurbring. Wanneer ’n mens na ’n nuwe plek verhuis of selfs net êrens gaan vakansie hou, lees ’n mens daaroor op en vergewis jouself van jou nuwe woonplek.
Hoeveel te meer sal ’n mens nie graag meer wil weet van hierdie wonderlike plek wat hemel en paradys genoem word nie. Daar is geen betroubaarder inligting as wat die Bybel self aan ons verskaf nie.
Wanneer ons die woord “paradys” hoor, dink ons eerstens aan Eden. Eden was die volmaakte, wonderlike plek waar Adam en Eva gewoon het totdat hulle weens hulle ongehoorsaamheid aan God daar uit verdryf is.
Omdat die plek waar ons as gelowiges binne vyf minute na ons dood sal wees, ook die “paradys” genoem word, is dit sekerlik die moeite werd om meer daarvan te weet.
Die woord “paradys” kom van die Griekse woord paradeisos wat weer sy oorsprong uit ou Persië het. Dit het oorspronklik die betekenis gehad van ’n omheinde of ommuurde park of tuin.
In die Woord het die paradys eerstens sinoniem geword met Eden, waar die eerste mensepaar vir ’n onbepaalde tyd gewoon het (Gen. 2:8 e. v.). Ná die sondeval moes Adam en Eva hierdie idilliese woonplek verlaat. Later in die Ou Testament word die woord hoofsaaklik vertaal met “tuin” of “park”.
Eden moes ’n wonderlike plek vir Adam en Eva gewees het. Daar was genoeg skoon, vrylopende water, pragtige vrugdraende bome en diere wat in harmonie met mekaar gelewe het en geen bedreiging ingehou het nie. Die vrugte en sade was oorvloedig en gesond vir die mens om van te lewe.
Paradys beteken ons gaan in die hemel werk doen
Moenie dink dat Adam en Eva niks daar gedoen het nie! Selfs die mees idilliese plek en omstandighede raak vervelig as jy lank genoeg niks doen nie. Nee, hulle het ook verantwoordelikhede gehad, opdragte van God ontvang. En gewerk.
Hulle moes onder andere die tuin bewerk en versorg (Gen. 2:15). Daar was onversteurde harmonie tussen mens, diere en voëls tot so ’n mate dat die mens selfs gepaste name vir hulle kon gee.
Dis belangrik met die oog op ons uiteindelike bestemming, die hemelse paradys, dat ons nie daaraan sal dink as ’n vervelige, niks-doen-plek nie. Net soos in Eden sal ons verantwoordelikhede en werk hê om te doen. Uit meer as een verwysing in die Bybel (soos Matt. 25:21 en 23 en Luk.19:17) is dit duidelik.
Voordat jy hiervan terugdeins, is dit belangrik om daarop te wys dat werk eers ná die sondeval ’n negatiewe implikasie gekry het. Die sondeval het ’n vloek oor die aarde gebring wat aan werk ’n vermoeiende en frustrerende karakter gegee het.
Werk was egter van meet af ’n opdrag en ook ’n gawe van God. In sy werk behoort die mens van sy diepste vervulling te vind. Dis met die oog daarop dat God ons met sekere indiwiduele talente geseën het.
In die hemelse paradys sal werk weer sy volle vreugdevolle karakter terugkry. Die disharmonie in die versteurde skepping sal op ’n einde wees. Ons werk sal weer aan ons medeheerskappy saam met God uitdrukking gee.
Werk sal nie ons beloofde hemelse rus versteur nie. Net soos in Eden, sal vervelige leeglê nooit deel van die hemel wees nie.
Die paradys is deel van die hemel
In die Ou Testament word die plek waarheen die siele van die ontslapenes gegaan het, nie duidelik omskryf nie. Die indruk wat ’n mens uit die toepaslike skrifte kry, is dat dit ’n skaduagtige plek êrens benede was waarna ’n mens nie juis uitgesien het om te gaan nie. Dit is Sheol oftewel “doderyk” genoem.
In die paar honderd jaar voor die koms van Christus, het daar geleidelike ontwikkelinge gekom in die Ou-Testamentiese sienswyse oor die doderyk. Die oortuiging het ontstaan dat die doderyk twee gedeeltes het:
Hierdie twee gedeeltes is deur ’n onoorbrugbare kloof geskei. Hierdie beeld word duidelik oorgedra deur Jesus sélf in sy verhaal van die ryk man en Lasarus in Lukas 16:19-31.
Hierdie progressiewe ontwikkeling van die verblyfplek van die dode hou verband met die duideliker-wordende openbaring in die Ou Testament dat daar ’n opstanding uit die dode verwag kan word soos in Daniël 12:2-3 gesê word:
En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik. En die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos.
Ook Jesaja 26:19 verwys na ’n opstanding: U dode sal herlewe, my lyke sal opstaan …
Wat interessant én belangrik is om raak te sien ten opsigte van die paradys-begrip, is dat die begrip en verstaan daarvan nie vroeg in die Bybel reeds volkome duidelik was nie.
Die Heilige Gees het progressief meer daarvan bekend gemaak totdat Jesus sélf die duidelikste prentjie daarvan skenk in die verhaal van die ryk man en Lasarus in Lukas 16:19-31.
Verder is daar Jesus se merkwaardige belofte aan die berouvolle rower langs Hom aan die kruis in Lukas 23:43b: “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met my in die Paradys wees.” Hiermee bevestig Hy dat die paradys die woonplek van die verlostes na hulle dood sal wees – selfs vir dié wat soos hierdie rower ter elfder ure tot bekering sou kom.
’n Treffende verwysing na die paradys wat bevestig dat dit sinoniem met die
hemel is, vind ons in 2 Korintiërs 12:2-4. Paulus verwys hier waarskynlik na homself as hy sê:
Ek weet van ’n man in Christus, veertien jaar gelede – of dit in die liggaam was, weet ek nie, of buite die liggaam, weet ek nie, God weet dit – dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel.
En ek weet van so ’n man – of dit in die liggaam of buite die liggaam was, weet ek nie, God weet dit – dat hy weggeruk is in die Paradys en onuitspreeklike woorde gehoor het wat ’n mens nie mag uitspreek nie.
Paulus sê nie hier spesifiek of hy die Here Jesus gesien het nie, alhoewel dit redelik algemeen aanvaar word. Dit dien as bevestiging dat afgestorwenes reeds by Jesus in die paradys is wanneer Paulus in Filippense 1:23b sê: … ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste.
Daar is egter ’n verdere ontwikkeling in terme van die paradys-begrip wat ná Jesus se hemelvaart geopenbaar word. Dít skemer deur in Openbaring 2:7b: Aan hom wat oorwin, sal ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne-in die paradys van God is.
Daarvolgens blyk dit dat die paradys op die een of ander wyse deel gaan wees van die Nuwe Aarde wat die uiteindelike bestemming van God se volk sal wees.
Wat verder in hierdie teks opval, is die verwysing na die boom van die lewe. Die oorspronklike paradys, die tuin van Eden, het ook die boom van die lewe gehad.
Nadat Adam en Eva gesondig het, het God dit gelukkig geag dat hulle nie van hierdie boom geëet het nie: “As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie!”
Vir dié wat oorwin en uiteindelik in hierdie volmaakte woonplek saam met God sal wees, word die belofte in Openbaring 2:7 gemaak dat Hy aan diesulkes van die boom van die lewe sal gee om te eet .
Ons weet dat die paradys waarna in Openbaring 2:7 verwys word, deel van die finale, ewige dispensasie is, omdat Openbaring 22:2 ook na die boom van die lewe verwys: In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke maand sy vrugte gee.
Dis dan hoe ons die paradys moet verstaan
Die eerste paradysbelewenis was die voorreg van Adam en Eva. Daarna vind ons die paradys as die plek waar die saliges vertoef tussen hulle dood en die opstanding – die sogenaamde tussentoestand of tussentydse hemel. Die derde fase van die paradys vind ons as deel van ons finale bestemming op die Nuwe Aarde – ná die Wederkoms en die opstanding uit die dode.
Dit beteken nie dat daar meer as een paradys is nie, maar eerder opeenvolgende stadiums daarvan in die geskiedenis: eerstens die woonplek van die mens vóór die sondeval;
tweedens die plek waar alle regverdiges vertoef tot met die Wederkoms van Christus;
en daarna deel van ons ewige tuiste.
Alhoewel daar net drie keer in die Nuwe Testament spesifiek van die paradys melding gemaak word, is daar vele verwysings na die voortbestaan van die regverdiges ná die dood, byvoorbeeld in Matteus 22:23 en verder, asook die parallelle gedeeltes, Lukas 16:9 en 16:19 en verder Openbaring 6:9-11 en 7:9-17.
Die detail oor ons toekomstige woning is nie altyd klinkklaar en duidelik nie. Tog is daar die herhaaldelike bevestiging in die Nuwe Testament dat daar vir dié wat in Christus sterf ’n lewe ná die dood is. Dit word gewaarborg deur die opstanding van Jesus (1 Kor 15:16-20).
Daar is ’n menigte Skrifte wat hierdie waarheid bevestig. Dink maar aan Stéfanus se seker verwagting om saam met Jesus te wees tydens sy laaste oomblikke: “Here Jesus, ontvang my gees!”
Jesus se triomfantelike stelling oor die boom van die lewe in die paradys (Open. 2:7) verklap iets van die heerlike herstel wat Hy teweeg gebring het. Die eerste Adam het deur sy ongehoorsaamheid die hele menslike geslag die heerlikheid van die paradys ontsê.
Nou het die Laaste Adam deur sy gehoorsaamheid en plaasvervangende dood die poorte van die paradys weer oopgemaak. Hy het die swaard verwyder wat dit vir die mens ’n verbode plek gemaak het (Gen. 3:24).
Dit is helder en duidelik die boodskap wanneer Hy sê: “Aan hom wat oorwin, sal ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne-in die paradys van God is” (Open.2:7b). Alles wat die Tuin van Eden vir Adam en Eva ingehou het, en nog meer, wag vir die gelowige in die hemel.
JOERNAAL
Hou jy van jou werk? Of jy nou ’n beroep beoefen of nie – hou jy van jou daaglikse take en verpligtinge? Kan jy jou indink hoe dit moet wees om hemelse werk te doen? Wat kan jy hier en nou doen en oor bid om voor jou sterfdag ook meer van die ware (Goddelike) vreugde in jou dagtake in te werk?