TEMA 25 – Oorledenes weet wie en waar hulle is

Sommige mense dink dat ons in die tussentydse hemel in ’n onbewustelike staat of slaaptoestand sal wees. Daar is verskillende duidelike bewyse in die Skrif dat dit nie so is nie.

Paulus sê in Filippense 1:23 dat dit sy primêre begeerte is om heen te gaan en by Christus te wees. Om by Christus te wees, spreek nie van ’n staat van onbewustheid of unconsciousness nie. Dis iets waarna Paulus uitgesien het, iets wat verreweg die beste is.

Die dood van die liggaam beteken nie die einde van ons bewustheid en ons eintlike menswees nie. Die mens is immers méér as sy liggaam. Die Bybel praat dan ook van die regverdiges na die dood as siele (Open. 6:9) of geeste (Heb.12:23).

Paulus sou nooit die woorde in 2 Korintiërs 5:8 gespreek het as hy na die dood in ’n onbewustelike of slaaptoestand sou verkeer nie. In ons eerste vyf minute in die hemel gaan ons by Christus wees en ons gaan dit wéét.

Op die vraag dus of ons bewustelike, intelligente wesens in die hemel sal wees, kan ons ondubbelsinnig “ja” sê. Natuurlik moet ons besef dat dit in ’n ander dimensie, op ’n ander vlak, sal wees.

Dit sal in ’n wêreld wees waar die dimensies van die fisiese, tyd en ruimte soos ons dit nou ken, nie noodwendig met ons huidige wêreld ooreenstem nie.

Die liggaam sterf, maar die gees en siel leef

Dit is belangrik dat ’n mens onderskei tussen wat met die liggaam en wat met die geestelike komponent van die mens (die gees en siel) ná die dood gebeur. Dis logies dat die liggaam nie in ’n slaaptoestand gaan nie.

Die liggaam keer terug na die basiese elemente van die aarde, na (kool)stof. Dit maak nie saak of die liggaam begrawe is en op ’n natuurlike wyse ontbind en of dit veras word en of dit deur wilde diere of visse verteer is nie. Die eindresultaat is basies dieselfde chemiese samestelling.

Met die Wederkoms van Christus sal die Heilige Gees die oorskot van elke gelowige opwek en verheerlik sodat ’n bonatuurlike liggaam met die gees en siel verenig sal word.

Hoekom dink sommige mense ons slaap na die dood? Die gedagte dat afgestorwenes in ’n soort sieleslaap verkeer, kom van die beeld wat dikwels in die Bybel gebruik word om na die dood as ’n slaap te verwys en na die dooies as ontslapenes.

Alhoewel dit op die oog af na ’n logiese afleiding klink dat dooies eintlik maar net slaap, weet ons uit talle voorbeelde in die Skrif dat die afgestorwenes nié in ’n soort onbewuste staat verkeer nie. Die 1983-vertaling het die woord ontslaap onderskeidelik met sterf of te sterwe kom vertaal.

Sedert die vroegste tye en tot vandag toe, word die woord ontslaap as ’n eufemisme gebruik. ’n Eufemisme beteken dat iets wat ’n bietjie hard en ongenadig klink, op ’n vriendeliker, sagter manier oorgedra word.

Dit was nie net ’n gebruik onder die Jode van die Ou Testament en die Christene in die Nuwe Testament nie, maar ook in die sekulêre Hebreeuse en Griekse geskrifte van daardie tyd.

Hierdie eufemisme en beeldspraak kom veral pragtig deur in Jesus se woorde aan sy dissipels waar Hy in Johannes 11:11 na Lasarus verwys wat slaap en vir wie Hy gaan wakkermaak.

’n Mens kan seker aan die fisiese oorskot van ’n geliefde dink in terme van slaap. In die hemel, in daardie nuwe wêreld, in hierdie ander dimensie, is hulle wat afgesterwe het, egter wakkerder as ooit.

Kan daar hoegenaamd van slaap sprake wees sonder ’n fisiese liggaam? Is slaap nie uitsluitlik ’n aktiwiteit (of gebrek daaraan) wat net aan die fisiese liggaam toegeskryf kan word nie?

Kyk maar weer na die verhaal van die ryk man en Lasarus in Lukas 16:19-31. Die ryk man kon onthou, hy kon dink, hy kon praat, hy kon redeneer. Lasarus het gesit aan die boesem van Abraham. Daar is geen aanduiding dat hy geslaap het nie.

Ons wat agterbly, kan gerus maar aan ons geliefdes wat in Christus heengegaan het, dink asof hulle slaap. In daardie nuwe wêreld, in hierdie ander dimensie, is hulle wat afgesterwe het, egter wakkerder as ooit.

Wat Openbaring 6:9-11 ons leer oor menswees in die hemel

Kyk kortliks saam met my na dit wat ons uit hierdie drie verse kan aflei. (Met erkenning aan Randy Alcorn: Heaven, Christian Art Publishers, 2005.)

  • Hierdie gelowiges wat op aarde ter wille van die Here gemartel en doodgemaak is, word nou siele Elders (Heb.12:23) word diegene in die hemel ook geeste genoem.
  • Hulle identiteit in die hemel is duidelik. Dit is die mense wat hier op aarde vir Christus gesterf het.
  • Hulle persoonlike geskiedenis word dus direk verbind met hulle lewe op aarde. Daar is nie in die hemel enige onduidelikheid of verwarring oor wie ’n persoon op aarde was nie.
  • Mense in die hemel sal onthou word vir hul lewe op aarde. Vers 9 vermeld dat hulle onder andere onthou word vir die getuienis wat hulle gehad het.
  • Vers 10 sê hulle het uitgeroep. Dit beteken hulle kan hulself in die hemel hoorbaar uitdruk. Of dit impliseer dat mense in hierdie dimensie ’n vorm van liggaamlikheid deelagtig word, is nie duidelik nie.
  • Die feit dat hulle met ’n groot stem uitgeroep het oor ’n onreg op aarde, dui duidelik aan dat mense in die hemel rasionele, passievolle mense met emosies is.
  • Dis duidelik dat die martelare in die hemel by hul volle bewussyn is, rasioneel, bewus van mekaar, van God en van die toedrag van sake op aarde.
  • Hulle praat onbelemmerd met God en vra Hom om reg aan hulle te laat geskied.
  • Dis opmerklik dat hulle in die hemel bewus is van wat op aarde gebeur. Die martelare het geweet dat diegene wat hulle gemartel het nog nie deur God geoordeel is en hulle onskuldige bloed nog nie gewreek is nie.
  • Diegene in die hemel is meer as ooit bewus van God se eienskappe, naamlik sy heiligheid, getrouheid en heerskappy.
  • Diegene in die hemel bly onderskeibare indiwidue: En aan elkeen van hulle is wit klere gegee. Hierdie waarneming bevestig ook dat Johannes tydens hierdie besondere voorskou van die hemel die verlostes kon sien en onderskei.
  • God antwoord hulle vraag (v. 10). Dit bevestig dat daar vrye kommunikasie met God in die hemel is. Dit demonstreer ook dat ons nie alles in die tussentydse hemel sal weet nie.
  • Uit hierdie verse blyk dit dat tyd steeds sal bestaan – ten minste in die tussentydse hemel. Die martelare wou by God weet hoe lank voordat hulle bloed gewreek sal word. God antwoord hulle dat hulle eers nog ’n klein tydjie moes rus.

Dit alles impliseer tyd wat moet verloop. Daar is ook ander aanduidings in Openbaring van tyd, byvoorbeeld in Openbaring 8:1: En toe Hy die sewende seël oopgemaak het, kom daar stilte in die hemel omtrent ’n halfuur lank.

  • Die omvattendheid van die familie van Christus kom duidelik in vers 11 na vore. Die gelowiges wat nog op aarde is, word medediensknegte and broeders Al is ’n deel van die Here se kerk reeds in die hemel en ’n deel nog op aarde, is ons één liggaam (Ef. 4:4).

Hierdie teks bevestig dat daar ’n onverbreekbare verbintenis is tussen hulle wat reeds in die hemel is en ons wat nog op die aarde is. Ons is één familie met hulle wat reeds in die hemel is. Dit is ’n kosbare wete en vertroosting vir dié wat reeds geliefdes aan die ander kant het.

Kan mense in die hemel met ons kommunikeer?

Is dit moontlik dat ’n afgestorwene op die een of ander manier kontak kan maak met hulle wat op aarde agtergebly het?

Alhoewel dit vanuit die doderyk was, was dit juis wat die ryk man in Lukas 16: 27-28 probeer doen het. Hy wou ’n spesiale missie uit die doderyk laat stuur. Hy wou hê dat Abraham vir Lasarus moes stuur om ’n spesiale waarskuwingsboodskap aan sy broers te kommunikeer. Dit kon natuurlik nie toegelaat word nie.

Kommunikasie tussen die lewendes en afgestorwenes (en andersom) is onmoontlik en God verbied ook enige poging daartoe. Die enigste moontlike uitsondering was dié van koning Saul en die medium (heks) van Endor.

Maar dit was duidelik ’n uitsondering wat God, wat die mag daartoe het, toegelaat het om sy oordeel oor Saul te voltrek (1 Sam. 28:11-20).

Enige persoon wat beweer dat hy of sy met die dode in aanraking kan kom, is óf met blote bedrog besig óf met ’n onbybelse, okkulte praktyk wat deur demone beheer word. Om sulke persone te raadpleeg is ’n sonde en stel jou bloot aan die sfeer en invloed van die bose.

Wat wel waar is, is dat afgestorwenes mekaar aan die ander kant kan herken en met mekaar kan kommunikeer. So byvoorbeeld het Lasarus en Abraham mekaar herken in die verhaal wat Jesus vertel het.

Daar is voldoende bewys in die Skrif dat hulle in die hemel wel ingelig is oor gebeure op aarde. Abraham was byvoorbeeld op hoogte van die soort lewe wat sowel die ryk man as Lasarus op aarde gelei het (Luk.16:25).

Dit beteken egter nie dat ’n mens skielik na jou dood alwetend word nie – soos wat Openbaring 6:10-11 bevestig. Ons sal eers ten volle ken (1 Kor.13:12) in die finale stadium, as die volmaakte gekom het (1 Kor.12:10), en die Nuwe Hemel en die Nuwe Aarde.

JOERNAAL

Wat ’n wonderlike voorreg is dit om te kan sê dat ’n geliefde ontslaap het. Is jou verhouding met Christus so dat jou geliefdes dit van jou sal kan sê na jou dood? Sal jou vriende en familie na jou dood van jou kan praat as hulle geliefde in die hemel by Christus? Sal hulle daarna uitsien om jou daar te sien?