TEMA 24 – Jy gaan jou oorlede geliefdes herontmoet

Die Here het ons gemaak om in verhouding met mekaar te staan. Daarom was die paradys, die Tuin van Eden, nie volkome voordat daar nie vir Adam ’n maat was met wie hy in verhouding kon lewe nie.

’n Groot deel van die sin, vreugde en bekoorlikheid van die hemel sou vervaag indien ’n mens daar as anonieme wesens sou bestaan en niemand sou herken nie. Vir die gelowige is een van die troosrykste gedagtes oor die eerste vyf minute in die hemel, die wete dat daar ’n blye weersiens gaan wees.

Hoe sal ek mense in die hemel kan herken?

Wanneer ons aan die kwessie van herkenning dink, is dit verstaanbaar dat ons hoofsaaklik aan die fisiese dink – aan iemand se gelaatstrekke, stem, ensovoorts. Ons is immers nou deel van, en beperk tot, hierdie wêreld wat ons met ons vyf sintuie kan waarneem.

Ons kan byvoorbeeld nie met hierdie aardse beperkinge beskryf hoe lyk ’n gees of ’n siel nie. Dit beteken egter nie dat hierdie geestelike realiteite nie deur ander geestelike wesens waargeneem kan word nie.

Dit is duidelik uit die Bybel dat engele en ook demone (wat ook geeste is) herkenbare en onderskeibare persone met persoonlikhede is en selfs name het.

In die tussentydse hemel gaan ons nie (tydelik) ʼn liggaam nodig hê om mekaar te herken nie. In die geestesdimensie is ons geeste/siele net sulke onderskeibare identiteite as wat ons liggaam hier op aarde is. (Ná die Wederkoms en op die opstandingsdag sal ons natuurlik met ons verheerlikte liggaam op die Nuwe Aarde wees.)

Kyk weer na Lasarus. Ons het uit Jesus se verhaal in Lukas 16 geleer dat direk na jou dood, sien jy jou geliefdes wat reeds aan die ander kant is.

Alhoewel ons nie weet of hy enige familielede of vriende aan die ander kant gehad het nie (die Bybel swyg daaroor), was daar één persoon wat aan elke gelowige Jood bekend was: Abraham, die vader van die Jode, maar ook die vader van die gelowiges (vgl. Gal. 3:7). Hy was die één bekende wat daar was, en Lasarus was by hom.

Hoe ouer ’n mens word, hoe groter word jou familie- en vriendekring in die hemel. Hier dink ons nie net aan ouer geslagte wat ons vooruit gegaan het nie.

Speel lewensfase, ouderdom en geslag ’n rol?

 Ek het geen twyfel dat ma’s wat hulle babas vóór geboorte, byvoorbeeld deur ’n miskraam, verloor het, hulle dáár weer sal sien én sal herken nie. Dieselfde geld vir kinders wat gesterf het voordat hulle die ouderdom van onderskeiding bereik het en waar hulle self bewustelik op die roepstem van die Here in hul lewe kon reageer.

’n Vraag wat dikwels opkom, is: In watter stadium (watter ouderdom) van ons lewe sal ons in die hemel wees? Sal dié wat as bejaardes gesterf het, daar steeds bejaard wees? Sal babas steeds babas wees?

Hieroor wil ek nie spekuleer nie. Die beginsel wat hier ter sprake is, is dat daar in die hemel niks sal wees wat onvolkome en onvolmaak is nie, geen gebrokenheid meer nie. Daarom hoef ons nie daaroor te wonder en te spekuleer nie – die belangrikste is dat ons mekaar sal herken en met mekaar verenig sal wees.

Oor ons geslagtelikheid in die hiernamaals hoef ons nie hare te kloof nie. Jesus sê in Matteus 22:30: “Want in die opstanding trou hulle nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos engele van God in die hemel.”

In hierdie aardse dimensie waarin ons nou leef, is dit vir ons moeilik denkbaar en verstaanbaar. Let wel dat Jesus nie sê dat ons engele gaan wees nie, maar “soos engele.”

Die belangrike is dat ons mekaar daar sal herken! Dit is die heerlike wete en troos waarmee die gelowiges op aarde telkens hulle geliefdes wat hulle vooruit gaan, kan groet.

Ons het die salige hoop en die heerlike verwagting dat daar ’n plek is waar ons geliefdes op ons wag – ten minste dié wat in Christus ontslaap het. Binne vyf minute in die hemel sal ons met hulle verenig word.

Sal ons saam met mense uit die Bybel wees?

 Dit is nie net ons eie dierbares wat ons daar sal herken en ontmoet nie. In die hemel sal ons die heiliges deur die eeue, ook die bekende Bybelfigure, ontmoet.

Kom ons kyk na enkele voorbeelde in die Bybel waar mense wat reeds dood is en wie se liggaam al vergaan het, by spesiale geleenthede of verskynings herken is.

Dink byvoorbeeld aan Saul en die medium van Endor. Toe die Here toegelaat het dat Samuel, wat toe al ’n geruime tyd dood was, verskyn, was hy herkenbaar (1 Sam. 28:12).

Die drie dissipels wat saam met Jesus op die Berg van Verheerliking was, het Moses en Elia wat aan Jesus verskyn en met Hom gepraat het, onmiddellik herken (Luk. 9:30-33).

In die verhaal van die ryk man en Lasarus, is dit onomwonde duidelik dat mense mekaar aan die ander kant sal herken. Van Lasarus lees ons in Lukas 16:22 dat hy onmiddellik na sy dood met Abraham verenig was.

Daar is talle ander verwysings in die Nuwe Testament na gelowiges uit die Ou Testament wat reeds op daardie stadium in die paradys was. Hulle het nie soos druppels water in die groot oseaan verdwyn nie, maar het hul name en identiteit behou en kon herken word.

Dink maar net aan Dawid (Hand. 2:29) en die lys van geloofshelde wie se name in Hebreërs 11 genoem word. Dit sou sinloos wees om na hulle aan die ander kant by naam te verwys indien hulle nie herkenbare indiwidue was nie.

Johannes verwys meer as een keer in Openbaring na die verlostes in die hemel – onder andere dat hulle uit elke stam en taal en volk en nasie is (Open. 5:9). Die term verlostes impliseer spesifieke indiwidue. Dit sou betekenisloos wees indien die hemel vol onherkenbare, ongeïdentifiseerde “geeste” sou wees.

In die hemel sal ons saam met hulle wees – Abraham, Moses, Dawid, Elia, Jesaja, Petrus, Johannes, Paulus. Dit is meer as wensdenkery. Dit is deel van die heerlike vooruitsig wat ek en jy het – omdat ons deel van die groot familie van God is.

Die hemel is die ewige reünie van God se familie – van Adam tot by die laaste een wat aangesluit het.

JOERNAAL

Watter Bybelse persoon sien jy uit om in die hemel te ontmoet? Hoekom? Wat kan jy by hierdie persoon of persone leer wat jy nou in die hier en nou kan uitleef in jou verhouding met God en in jou verhoudings met ander mense?

Troos dit jou om te dink dat jou geliefdes in die hemel ook die vreugde smaak van ontmoetings met hulle rolmodelle in die Bybel? Praat jy met jou mense hieroor sodat hulle weet wie jou rolmodelle is?