TEMA 23 – Wat aan die ander kant gebeur

Lukas 16:19-31 vertel wat met mense gebeur net ná hulle dood. Kom ons kyk weer na Lasarus. Wat het hy in die paradys/hemel beleef? Mag jy terwyl jy dit lees, vertroos word wanneer jy dink aan jou geliefde(s) wat ook reeds gegaan het.

Wat die verhaal oor Lasarus en die ryk man so merkwaardig maak, is dat niemand minder as Jesus sélf hier aan die woord is nie. Hy is die Een wat méér as enigiemand anders behoort te weet wát in die hemel aangaan en hóé dit daar lyk.

Al sou ’n apostel of profeet of engel vir ons hierdie inligting gegee het, sou dit steeds die waarheid wees, maar nou is dit Jesus sélf. Hy kom immers van die ander kant en sou spoedig weer daarheen terugkeer.

Daarby is Hy ook die Skepper van die sienlike en die onsienlike: … want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte – alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape (Kol.1:16).

 Jesus gee ware feite oor die lewe na die dood

Op die vraag of ons kan glo wat in ’n gelykenis staan, wil ek weer kortliks my standpunt verduidelik dat Lukas 16:19-31 nie ’n gelykenis is nie.

Onthou dat die opskrifte van die verskillende perikope (Bybelgedeeltes) nie deel van die oorspronklike teks is nie, maar deur die Bybelvertalers ingevoeg is om telkens vir ons die tema van die gedeelte te gee.

Gewoonlik wanneer Jesus ’n gelykenis vertel het, was dit deel van die oorspronklike teks, iets soos: “En Hy het vir hulle ’n gelykenis vertel … ”

’n Duidelike aanduiding dat Jesus hier nié ’n gelykenis vertel nie, is die feit dat Hy ’n persoon se naam noem, naamlik Lasarus (vgl. v. 20). In ander gelykenisse verwys Jesus altyd na denkbeeldige persone en geen name word genoem nie.

Sy verteltrant hier verwys ook duidelik na ’n spesifieke geval: En daar was ’n ryk man … En daar was ’n bedelaar … (v. 19, 20).

In elk geval sou dit geen verskil aan die gesag en waarheid van hierdie verhaal gemaak het as dit ’n gelykenis was nie. Jesus het immers nooit leuens in gelykenisse vertel nie. ’n Gelykenis is tog net ’n eenvoudige storie of voorbeeld om ’n dieperliggende heilsfeit of geestelike waarheid vir gewone mense duidelik te maak.

Wat kan ons by Lasarus leer oor die paradys ?

Lukas 16:22 sê: “En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra …” Die een oomblik was Lasarus nog in smart, pyn en vodde, die volgende oomblik in heerlikheid.

Ons lees van geen begrafnis nie, van geen draers wat sy uitgeteerde lyk weggedra het nie. Ons lees wel van hemelse wesens, engele, wat die ware Lasarus, die een wat binne hierdie verinneweerde tentwoning gewoon het, die mens van God, weggedra het na sy hemelse woning.

Lasarus was tuis. Die tentwoning was verflenter, die erdekruik het sy doel gedien, dit het stukkend in die put gelê. Die skat ín die erdekruik, die pelgrim ín die tent, dié het gearriveer.

Eendag, met die Wederkoms van Christus, sal die stof, die oorskot van Lasarus se liggaam, opgewek en verheerlik word om vir ewig en volmaak, sonder enige gebrek, op die Nuwe Aarde saam met Jesus te wees.

Die gelowige se pyn stop onmiddellik by die dood

Hoe dramaties anders was Lasarus se eerste vyf minute in die hemel in vergelyking met sy laaste vyf minute op aarde! Engele in die plek van honde! Van ’n arm bedelaar tot ’n eregas, ’n kind, in die paleis van sy Vader, die ewige Koning.

Binne vyf minute was hy nie meer buite die poort van ’n ryk man nie, maar binne die poort van die hemel, in sy eie hemelse woonplek, in sy Vader se huis (Joh.14:2). Binne vyf minute in die hemel was die arm bedelaar die rykste en gelukkigste mens wat ooit gelewe het.

Binne vyf minute in die hemel het Lasarus gewéét dat die Here hom nooit vergeet het nie. Nou wéét hy vir seker: God het my nie begewe en my nie verlaat nie (Deut. 31:6 en 8).

So is dit: Alles sal verander in die hemel. Johannes het dit duidelik gehoor: … ’n groot stem uit die hemel het gesê: “Kyk, Ek maak alles nuut …” (Open. 21:3a en 5b).

Ook vir arme Lasarus het alles verander, nuut geword. Binne vyf minute in die hemel het Lasarus verstaan wat Jesus bedoel het toe Hy in Johannes 14:2c-3 gesê het: “Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”

 Binne vyf minute dáár het hy sy stukkende vodde en bedelaarskleed verruil vir die hemelse kleed waarvan ons in Openbaring 19:8 lees: rein en blink fyn linne.

 Binne vyf minute in die hemel het hy nie meer deur ’n spieël in ’n raaisel gekyk nie, maar het hy van aangesig tot aangesig gesien; het hy antwoorde vir sy vrae gehad; sy “waaroms” het “ daaroms” geword en sy vraagtekens uitroeptekens.

Die gelowige kan in die hemel in veiligheid rus

Lukas 16:22 vertel ons waarheen die engele Lasarus weggedra het: … na die boesem van Abraham. Hierdie frase regverdig ’n paar opmerkings.

Eerstens het Lasarus gesterf voordat Jesus as Verlosser aan die kruis gehang het. Jesus plaas dus vir ons die paradys hier in ’n Ou-Testamentiese konteks. Vir die Jode wat vóór die koms van die Messias geleef het, was Abraham, die vader van die gelowiges, die middelpunt van die paradys.

Die uitdrukking boesem van Abraham was vir die Jode van besondere betekenis. Hierdie uitdrukking was vir hulle sinoniem met “paradys”. As die vader van die ou verbond en ook die vader van die gelowiges was Abraham na die dood ongetwyfeld op die “regte” plek!

As jy na jou dood by Abraham was, kon jy wéét jy is veilig. Lasarus was nou tuis, op die plek waar die gelowiges onder die ou verbond versamel is. Aan die boesem van Abraham was vir die Jode die simboliese uitdrukking van volkome rus en troos.

Op aarde was so ’n plek, so ’n toestand Lasarus nooit beskore nie. Daar het hy net swaarkry en ’n stryd om oorlewing geken. Nou kon hy waarlik rus, troos en vrede ervaar. Die woorde wat so hoopvol op talle grafstene gegraveer is: “Rus in vrede”, word nou regtig waar – maar slegs vir dié wat betyds vrede met God gemaak het!

Vir die gelowige vandag en vir ons dierbares wat ín Christus gesterf het, hou hierdie gedagte ook besondere troos in. Die dag toe jy Christus as jou Verlosser en Here aanvaar het, het jy reeds in Hóm ’n sekere “rus” ingegaan. In Christus kan ons rus van ons sonde en skuld, is ons vry daarvan.

As gelowiges is ons hier egter steeds – soos Lasarus – aan die gebrokenheid, pyn, hartseer en onvolmaaktheid van hierdie sonde-gebroke wêreld onderworpe. Maar binne die eerste vyf minute in die hemel, is ons in dié heerlike toestand, die plek van volkome rus en vrede.

In Openbaring 14:13b hoor Johannes ’n stem sê: “Skryf – salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe. Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hul arbeid, en hulle werke volg met hulle.”

In ons huidige onvolmaakte bedeling kan ons ons beswaarlik in hierdie toestand indink – geen duiwel, geen boosheid, geen sonde, geen siekte, geen hartseer, geen teleurstelling, geen trane, geen pyn, geen gejaagdheid, geen afskeid, geen dood nie. Dis deel van die rus, van die volmaaktheid wat op ons wag.

Alles wat gelowiges moes ly, was die moeite werd

Vyf minute in die hemel en ons sal wéét dat al die onvolmaaktheid van hierdie wêreld vir altyd iets van die verlede is. By die dood het die duiwel jou vir die laaste keer versoek.

Nooit weer sal jy enige pyn en hartseer ervaar nie; jy het jou laaste trane gestort. Nooit weer sal daar vir jou ’n siekbed, ’n hospitaal, ’n sterfbed, ’n lykstoet, ’n oop graf wees nie. Alles is dan verby! Nou is dit net rus, God se rus, ewige rus!

Binne vyf minute in die hemel sal ons almal besef dat ons opofferings vir Hom – hoe groot dit ook al was – eintlik gering was en nie kan opweeg in vergelyking met die rus en vrede wat ons nou binnegegaan het nie.

Die wonderlikste is om te weet dat nou, ná die opstanding van Christus, dit nie meer net die boesem van Abraham is wat op ons wag nie, maar Christus self! Vyf minute in die hemel en ek en jy sal weet: Dis waar!

JOERNAAL

Wat ’n wete! So baie van God se kinders beleef smart en pyn en ellende hier op aarde. Die hemel is meer as ’n ontvlugtingsdroom of idealistiese wensdenkery. Daar ís ’n plek van volkomenheid, waar alles volmaak gaan wees. Binne vyf minute in die hemel sal jy dit wéét! Het jou geliefde wat gesterf het dit geweet …

Hoe troos hierdie wete jou en hoe verander dit jou verstaan van lewe en dood?