TEMA 22 – Die hiernamaals is werklik en feitelik

Dit moet benadruk word dat die hemel nie net ’n geestelike staat of toestand is nie. Dit is ’n plek, ’n letterlike plek. Al die letterlike verwysings na die hemel in die Skrif kan nie maar net vergeestelik word nie.

Dit is besonder moeilik om die hemel as deel van ons fisies waarneembare heelal te bedink. Daarom dink ons aan ’n ander dimensie, ’n parallelle geesteswêreld. Vanuit ons bestaande begrip en lewenskonteks klink dit onwerklik en onmoontlik. Tog is daar oorvloedige bewys uit die Bybel dat so ’n wêreld regtig bestaan.

Glo en vertrou in wat jy nie kan sien nie

Hierdie anderdimensionele wêreld kan nie onder normale omstandighede met ons vyf sintuie waargeneem word nie. Daarom is dit vir mense wat geen ruimte maak vir die bestaan van God en ’n geesteswêreld nie, moeilik om die bestaan van hierdie dimensie en die hemel te aanvaar.

By diesulkes is daar nie plek en ruimte vir geloof nie. Net dit wat fisies waarneembaar is en wetenskaplik bewys kan word, word as werklikheid aanvaar. In hierdie kringe word daar dikwels negatief na mense verwys wat ook ’n ander werklikheid as die sintuiglik-waarneembare aanvaar.

Aan die ander kant kan dit eweneens as benepe, eng en beperkend beskou word om die fisies waarneembare as die een en enigste werklikheid te aanvaar. Natuurlik verg die aanvaarding van ’n parallelle dimensie geloof. Ons glo dit omdat die Bybel ons duidelik van hierdie wêreld vertel.

Vir mense wat iets beleef het van die werking van die Heilige Gees en sy gawes, is die besef van die werklikheid van ’n onsienbare geesteswêreld ’n gegewe.

Kan die geesteswêreld ook letterlik verstaan word?

Die Bybelskrywers wat ’n gesig of ’n profetiese openbaring van die hemel gehad het, het dit waarskynlik moeilik gevind om te beskryf wat hulle sien. Paulus sê immers dat dit wat God vir sy kinders berei het, is dinge wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet (1 Kor. 2:9).

Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet … Dink net daaraan!

Mense het nog nie eers daaraan gedink nie! Daar bestaan nie so iets op aarde nie, want die oog het dit nog nie gesien en die oor nog nie gehoor het nie. Daarom is ons afhanklik van die openbaring van God. Dit is dan ook wat 1 Korintiërs 2:10 sê: Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar.

God het inderdaad veel van die hemel aan ons geopenbaar. Natuurlik sou ons veel meer wou weet, maar wat wel aan ons bekendgemaak is, is betrouenswaardig en wonderlik – iets om na uit te sien!

Wanneer die Bybelskrywers vir ons probeer weergee wat hulle gesien het, gebruik hulle begrippe soos ’n tuin, ’n stad en ’n koninkryk. Dit is terme en begrippe wat ons kan verstaan en ’n beeld van kan vorm.

Dis nie nodig om hierdie begrippe te vergeestelik of figuurlik te probeer verstaan nie. Die hemel sál waarskynlik (onder andere) soos ’n pragtige tuin lyk, maar baie mooier en meer asemrowend as wat ons ooit kan dink. 

Is dit nie opmerklik nie dat die meeste mense – selfs hulle wat hulself andersins nie as baie godsdienstig beskou nie – iets van ’n heimwee, ’n verrukking en ’n Goddelike verinniging ervaar wanneer hulle hulself midde-in die een of ander buitengewone natuurtoneel bevind?

Die mens kom immers uit ’n tuin, die Tuin van Eden, en hy is op pad na ’n tuin, die paradys. Is dit nie ’n soort instinktiewe aanduiding van God se algemene openbaring wat ons daarop attent maak dat daar vir ons iets soos dit aan die ander kant van ons aardse bestaan wag nie?

Sonder om kanoniese gesag daaraan te verleen, is dit net interessant dat baie mense wat ’n positiewe na- of nabydood-ervaring gehad het, idilliese belewenisse van ’n tuin gehad het.

Lewe na die dood is ’n realiteit, werklik, feitelik

Dis nie moeilik om sulke letterlike beelde te assosieer met die Nuwe Jerusalem en die Nuwe Aarde waar ons na die Wederkoms sal wees nie. Maar wat van die hemel (paradys) waarheen ons direk na ons dood gaan? Ons gaan immers nie liggaamlik daarheen nie!

Die feit dat ’n mens van hierdie ander dimensie as die geesteswêreld praat, beteken nie dat dit nie ’n letterlike plek is nie. “Letterlik” is nie die teenoorgestelde van “geestelik” nie, maar wel van “figuurlik”.

“Letterlik” beteken dat iets ’n feitelike gegewe, ’n werklikheid is. Die hemel, of die geesteswêreld is nie iets figuurlik nie. Dit is net so werklik, feitelik en letterlik as ons huidige fisiese wêreld.

Natuurlik kom geloof hier ter sprake. Op grond van die Bybel en dikwels ook op grond van eie ervarings, aanvaar die gelowige dat feite ook buitesintuiglik kan wees. Iets kan dus net so letterlik en feitelik wees sonder dat dit deel van ons fisiese wêreld is.

God sélf is waarskynlik die duidelikste en mees volmaakte voorbeeld hiervan. Die hemel – ten minste die tussentydse hemel – kán dus letterlik en werklik wees sonder dat dit fisies is.

Inderdaad het ons hier met ’n misterie te maak wat moeilik te verstaan is. Die misterie word egter verhelder deur duidelike voorbeelde in die Bybel. Hier dink ons byvoorbeeld aan die gevalle van Elisa en Gehasi wat ’n hemelse leërskare met waens en perde van vuur gesien het.

Net soos met die geval van Stéfanus wat die hemel geopend gesien het, was dit duidelik geen droom of verbeelding nie, maar die waarneem van ’n ander, bestaande en normaalweg onsigbare realiteit.

Jesus kon deur ’n muur beweeg én kos eet

In hierdie verband sal dit help om te dink aan Jesus ná sy opstanding tydens die veertig dae wat Hy nog op aarde was. Iets van die saambestaan van bogenoemde twee wêrelde kom hier duidelik na vore.

Eerstens is dit duidelik uit die Skrif dat die normale natuurwette en aardse beperkinge na sy opstanding nie meer op Jesus van toepassing was nie. Hy kon byvoorbeeld uit die niet aan die Emmausgangers verskyn en net so skielik verdwyn (Luk. 24:15 en 31).

Die dissipels het dit eweneens ervaar (Luk. 24:36). Dit impliseer dat die normale natuurwette van ons huidige fisiese wêreld nie bindend op Hom was nie.

Binne ons begrip en definisie van ’n fisiese drie-dimensionele wêreld is daar geen moontlikheid dat materie (Jesus wat tasbaar is en saam met sy dissipels geëet het) deur ’n muur of ’n toe deur kan beweeg nie.

Ek kan dink dat dit vir ’n ongelowige skeptikus en veral iemand wat nog nooit ’n ervaring met God gehad het nie, moeilik is om te aanvaar.

In die geval van die dissipels het hulle die bonatuurlike verskynsel beleef dat ’n geslote deur Jesus nie uit hulle midde kon weer nie (Joh. 20:19 en 26). Tog was daar die onverklaarbare werklikheid dat Hy saam met hulle kon eet (Luk. 24:42-43 en Joh. 21:5 en 15) en dat sy liggaam nie ’n illusie of blote skyn was nie (Luk. 24:39).

Hy het immers vir Tomas genooi om na die spykerwonde in sy hande te kom kyk en selfs met sy vingers te voel (Joh. 20:27). Uiteindelik is Hy voor hulle oë weggeneem (Hand. 1:9b), en kan ons aanvaar dat Hy onmiddellik aan die ander kant, in die hemel, was.

Daar is nog voorbeelde in die Bybel wat die letterlikheid en unieke bestaanswerklikheid van hierdie ander dimensie bevestig. Hulle gee ’n mens die duidelike indruk dat die tussentydse hemel ’n letterlike plek is waar mense herken kan word. Dit is ’n kwessie waaroor ons met onvolkome begrip en met stamelende lippe praat.

JOERNAAL

Waaraan dink jy as jy aan die hemel dink? Watter beeld(e) kom voor jou geestesoog op? Dink jy aan ’n pragtige stad met strate van goud? Of dink jy aan ’n tuin, ’n rustige stroom, bome en blomme? Gee jou verbeelding vrye teuels! Hoe laat dit jou voel oor jou eie dood? Kan jy jou geliefdes sien in jou gedagtes in hierdie hemelse mooi plek?