TEMA 21 – Wat tussen dood en wederkoms gebeur

Laat ons begin deur kortliks weer te kyk na die drie fases of stadiums van ons bestaan. Die eerste stadium is die aardse stadium. Dis die periode tussen konsepsie en die dood.

Die belangrikste gebeure vir enige mens in hierdie stadium is wanneer jy “ja” sê vir God se roepstem en Hom vra om jou aan te neem as sy kind op grond van Christus se plaasvervangende dood aan die kruis.

Die tweede stadium begin by die dood. Dit word die “tussentoestand” of “tussenstaat” genoem. Dit is hierdie fase wat ter sprake kom wanneer ons oor die hemel nadink. Dit is die toestand of plek waar die gelowige hom- of haarself binne vyf minute na die dood bevind. Hierdie fase eindig met die Wederkoms van Christus.

 Die derde stadium begin met die Wederkoms van Christus en die opstanding uit die dood. Dan sal die oorskot van elke gelowige wat reeds gesterf het, opgewek en verheerlik word. Die derde stadium het geen einde nie.

Vir die kinders van die Here wie se siele/geeste reeds in die paradys of hemel is, asook vir diegene wat nog lewend op aarde is, wag daar dan die Nuwe Aarde. Die Nuwe Jerusalem sal neerdaal op die Nuwe Aarde om die uiteindelike en finale hemel te wees (Open. 21:1-5).

Wat gebeur dan nou tussen die dood van mense en die Wederkoms?

Die vroeë kerk was aanvanklik onseker hieroor

Daar was ’n geloof en verwagting dat Jesus spoedig sou terugkom sodat die gelowiges nie sou sterf nie. Paulus het blykbaar navrae van die gemeente in Tessalonika ontvang oor gelowiges wat gesterf het. Wat word van hulle?

Hy skryf hieroor in 1 Tessalonisense 4:13-18 om aan hulle die versekering te gee dat dié wat reeds gesterwe het nie benadeel sal wees op die dag van die Wederkoms nie:

Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterf en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring.

 Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die Wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.

 Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.

Om op grond van die Bybel te weet hoe dit met jou geliefdes gaan vyf minute na hulle dood, kan groot vertroosting bring. Indien die Wederkoms nie voor ons dood plaasvind nie, is dit die pad wat ons almal sal loop.

Ons hoef egter nie te treur soos hulle wat geen hoop het nie.

Die hemel gaan verander na die Wederkoms

Op hierdie punt is dit nodig om kortliks en eenvoudig die verskil te probeer verduidelik tussen die plek waarheen die gelowige direk na sy of haar dood heen gaan en die plek waar ons ná die Wederkoms sal wees.

Dit is moontlik dat jy dit nie geweet het en nog nooit daaraan gedink het nie: Daar is ’n verskil tussen die hemel waarheen ons na ons dood gaan en die plek waar ons sal wees na die Wederkoms van Jesus.

In die lig van die verwysing na die drie stadiums van ons bestaan, praat ons hier onderskeidelik van die tweede en derde stadium. Die tweede stadium sal logies uitgeskakel word indien die Wederkoms van Jesus tydens ons leeftyd plaasvind.

Terwyl die gelowige se woonplek na die dood in die Bybel hemel of paradys genoem word, blyk dit dat daar duidelike verskille tussen die hemel in die tweede stadium en die hemel in die derde stadium van ons bestaan sal wees.

Die plek waarheen ons gaan direk na die dood, is waarskynlik in ’n ander geskape werklikheid. Dis in ’n ander dimensie, die onsienlike wêreld van Kolossense 1:16.

Die Bybel is baie duideliker oor die aard en aktiwiteit van die hemel in die derde stadium van ons bestaan. Die laaste twee hoofstukke van die Bybel (Open. 21 en 22) is geheel daaraan gewy.

Die profeet Jesaja verwys ook ’n hele aantal kere na daardie plek, die Nuwe Aarde. Lees net weer die duidelike ontvouing van hierdie derde stadium vir die gelowige:

En ek het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ’n bruid wat vir haar man versier is.

 En ek het ’n groot stem uit die hemel hoor sê: “Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God” (Open. 21:1-3).

Wat jy van die Nuwe Hemel moet weet

 Daar is ’n aantal vanselfsprekende en voor die handliggende feite in bogenoemde paar verse in Openbaring opgesluit. Alhoewel hierdie boek nie primêr oor die Nuwe Hemel en die Nuwe Aarde handel nie, is dit tog nodig om sover moontlik verwarring te voorkom en kortliks hierna te kyk:

  1. Dis duidelik dat ons hier met die finale woonplek van die gelowiges te maak het. Openbaring is die eind-openbaring wat Johannes gesien het. Dit word heel laaste en reg aan die einde van die Bybel beskryf.

Uit die voorafgaande hoofstukke van Openbaring is dit duidelik dat alle ander eindgebeure reeds afgehandel sal wees – tot die laaste oordeel (Open. 20:11-15).

  1. Die benaming Nuwe Hemel en Nuwe Aarde in Openbaring 21:1 bevestig ondubbelsinnig presies dít. Hier is ’n ander, opvolgende, nuwe hemel ter sprake. Dit sê ook dat daar ’n nuwe aarde sal wees.

Of dit ’n totale nuwe skepping impliseer of net dat die huidige aarde gesuiwer en bevry sal word van alle gevolge van die sondeval en vloek, weet ons nie. Dit gaan egter ’n nuwe aarde wees. Hy sê immers want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan (v.1).

  1. ’n Pragtig-versierde stad, die Nuwe Jerusalem, het op die Nuwe Aarde uit die hemel neergedaal. Die stad is duidelik deur God (Jesus) vir die verlostes voorberei, en word dan ook met die bruid, die kerk, geassosieer (v. 2).
  1. Die tabernakel was van meet af sinoniem met God se woonplek. Dit gaan deel wees van die Nuwe Jerusalem op die Nuwe Aarde – Hy sal by hulle woon. Die hemel gaan dus as ’t ware hervestig word op die Nuwe Aarde.

Dit bevestig weereens dat God se teenwoordigheid die essensie en kern van die hemel gaan wees. Dit gaan die hemel definieer. Die Nuwe Aarde met die Nuwe Jerusalem daarop gaan dan in der waarheid die hemel wees, ons finale en ewige eindbestemming.

Die hemel tussen die dood en die Wederkoms

Intussen, tot daardie dag van sy Wederkoms aanbreek, gaan ons wat in Christus ontslaap, hemel toe, onmiddellik, in ’n oogwink. Ons verwys na die hemel in hierdie periode tussen die dood en die Wederkoms (ook genoem die “tussen-toestand” of “tussenstaat”), as die “tussentydse” of “intermediêre hemel” (intermediate heaven).

Dit is teologiese begrippe wat gebruik word om die hemel waar ons tussen ons dood en die Wederkoms sal wees, duideliker te stel. Die terme kom weliswaar nie in die Bybel voor nie. Die Bybel praat net van die hemel of paradys.

Al is die Nuwe Jerusalem ons finale bestemming, moet ons nie vir ’n oomblik dink dat die tussentydse hemel nie ’n wonderlike plek is nie. Dis so wonderlik dat Paulus in Filippense 1:23b sê dat hy … ’n verlange het om daarheen te gaan omdat dit verreweg die beste is.

Wanneer ons van die hemel praat, moet ons altyd in gedagte hou dat die hemel God se woonplek is. Die hemel is waar God is en waar God is, is die hemel. Daarom is die tussentydse hemel waarlik hemel en sal die Nuwe Jerusalem eendag ook hemel wees. God definieer die hemel. Dis hemel omdat Hy daar is.

JOERNAAL

Die oomblik as die gelowige sterf, is hy of sy by die Here. Vir altyd. Ons sal by Hom wees in die tussentydse hemel sonder ons aardse liggaam. Ons sal weer eens saam met Hom wees met ons opgewekte, verheerlikte liggaam in die Nuwe Jerusalem op die Nuwe Aarde wat uit die hemel sal neerdaal (Open. 21:2).

Kan jy op grond van hierdie wete treur met hoop? Hoe verander hierdie hoop jou gedagtes, gevoelens en jou daaglikse optrede? Bring dit verdieping in jou geloof en groter vrede?