Daar is Christene wat aan die vaevuur glo. Die vaevuur is dan ’n soort tussentoestand tussen die dood en die hemel. Dit is ’n plek waar gestorwenes bly nadat hulle gesterf het en voordat die oordeelsdag aanbreek.
Die gestorwenes kan hier gereinig word totdat hulle waardig genoeg vir die hemel is. Hulle word gereinig deurdat hulle pyn verduur. Dit is dus ’n louterings- of reinigingsproses waardeur hulle gaan.
Die Latynse woord wat vir die vaevuur gebruik word, is purgatorium (’n mens kan die Engelse woord purge – “reiniging”, “skoonmaak” – hierin herken). Die vaevuur “reinig” dus die persoon sodat hy of sy geskik kan word vir die hemel.
Die woord purgatorium het egter eers in die twaalfde eeu na vore gekom. Voor daardie tyd vind ’n mens ook nie die totale spektrum van die leer oor die vaevuur in teologiese geskrifte nie. Die elemente en die gedagtes wat aanleiding tot hierdie leer gegee het, kan jy heel vroeg reeds uitwys.
In etlike apokriewe geskrifte is daar die lering dat daar verskillende streke en groeperinge van regverdiges in die hemel is, en so ook verskillende streke of groepe ongelowiges in die hel. Hierdie verskillende groepe mense in die hemel en hel korreleer dan min of meer met hoe goed of sleg die mense op aarde was.
Daar is dus grade van redding en van straf. Mense wat slegter as ander geleef het, moet dan langer foltering verduur voordat hulle gereinig is en kan voortgaan na die hemel toe.
Is daar Bybelse bevestiging dat die vaevuur bestaan?
Die Bybelvers wat dikwels gebruik word om hierdie lering te staaf, is 1 Korintiërs 3:12-13, waar daar van toets deur vuur gepraat word.
Die grootste probleem wat ek met hierdie lering van die vaevuur het, is dat dit ’n streep trek deur Jesus se sterwe aan die kruis. 1 Johannes 2:2 sê: … Hy is ʼn versoening vir ons sondes, en nie alleen vir óns sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.
As ek glo dat ek steeds in die vaevuur ’n bietjie moet ly en pyn moet verduur om my van my sondes te reinig, ontken ek eintlik dat Jesus se dood regtig genoegsaam was om my van ál my sondes te reining.
Dan perk ek Jesus se redding in en moet ek steeds self iets doen, naamlik ly, om gered te word.
By hierdie standpunte, wil ek graag iets byvoeg oor die ter elfder ure redding van die misdadiger aan die kruis langs Jesus. Sy redding het betrekking op die dwaalleer oor die vaevuur.
Die gekruisigde rower het in die laaste ure of dalk minute van sy lewe uitgeroep: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom (Luk. 23:42b).
En die laaste ding wat Jesus gedoen het voordat Hy gesterf het, was om aan ’n verlore sondaar te dink. Hy sê vir hom: … vandag sal jy saam met My in die Paradys wees (Luk. 23:43c).
Die vaevuur (purgatory) word deur die Roomse Kerk gesien as ’n plek van reiniging en suiwering vir diegene wat nie regverdig of heilig genoeg is om dadelik na hulle dood hemel toe te gaan nie. Terme waarmee die vaevuur in Roomse geledere beskryf word, is onder andere: “die hemel se voorportaal” en “die hemel se waskamer”.
Wanneer ons egter na die geval van die rower aan die kruis kyk, trek dit ’n streep deur die leer van die vaevuur.
Hier is ’n man wat ’n veroordeelde misdadiger en groot sondaar was. Geen regverdigheid of enige goeie dade het in sy guns getel nie. Op nommer nege-en-negentig klop hy aan God se genadedeur – totaal onwaardig.
En daar is geen vaevuur of enige addisionele reiniging nodig behalwe die bloed wat van die Man langs hom afgedrup het nie. Die prys vir sy sonde en skuld was ten volle betaal. Genade onbeskryflik groot, was heeltemal genoeg om hom binne vyf minute na sy dood saam met Jesus in die paradys te bring.
Waarheen gaan mense wat nie gedoop is nie?
Vir baie eeue lank het teoloë gedebatteer oor die vraag waarheen ongedoopte babas gaan wanneer hulle sterf. Augustinus het gesê dat sulke babas nie hemel toe kan gaan nie vanweë hulle erfsonde wat volgens hom nie afgewas is nie omdat hulle nie gedoop is.
Maar hy het bygevoeg dat hulle ook nie hel toe gaan nie, omrede hulle nog nie persoonlike sondes gehad het nie. En so is die idee van die limbo gebore, ’n plek tussen die hemel en die hel.
Daar is geglo dat babas wat sterf voordat hulle gedoop is, na die limbo gaan. Dit is ook ’n plek waar babas ewige geluk sal ervaar, maar God is nie daar teenwoordig nie. Hoewel dit nie ’n amptelike leerstuk van die Rooms- Katolieke Kerk was nie, is dit wel deur etlike teoloë verkondig.
Op 19 Januarie 2007 het Pous Benedictus XVI hierdie leerstuk oor die limbo verwerp. Hy het bygevoeg dat daar inderdaad “ernstige” redes is om te glo dat kinders wat nie gedoop is nie, tog hemel toe kan gaan.
Die pous se opmerkings dra nie die gewig van ’n pouslike brief of dekreet nie, maar die feit dat dit op die internet geplaas is, toon wel dat hy bedoel het dat dit wyd gelees moet word.
Wat antwoord ons dan oor wat van babas (en volwassenes) word as hulle sterf voordat hulle gedoop is? Eerstens dat die doop nie daaroor gaan dat dit erfsonde afwas nie. Moet dus nie dink dat gedoopte mense sonder erfsonde is en ongedoopte mense erfsonde het nie. Die Bybel leer dit nêrens nie.
Die doop red ook niemand nie. Lees weer wat in Lukas 23:42-43 gebeur. Lees wat die misdadiger vra en lees wat Jesus hom antwoord. Dit is onwaarskynlik dat hierdie misdadiger gedoop was, tog sê Jesus vir hom dat hy saam met Hom in die paradys sal wees.
Ouers wat ’n baba aan die dood afgestaan het, het genoeg hartseer om te verwerk. Nooit mag ons hulle hartseer vererger deur hulle onder die indruk te bring dat hulle kind onaanvaarbaar vir God is omdat hy of sy nie gedoop is nie. Dit is ’n onbybelse lering.
JOERNAAL
Maak jy genoeg erns met die Woord van God? Doen jy genoeg moeite om jou standpunte en dit wat jy vir ander mense van God sê op die Bybel te begrond? Bely jy gereeld jou afhanklikheid van die Heilige Gees se leiding en vra jy daarvoor? Kan jy terugkyk oor jou lewe en sien hoe jy gegroei het in jou kennis – maar veral in jou vertroue op genade?