Ek was verbouereerd en toe verlig, die dag na my eerste baba se geboorte. Die verpleegster het laatoggend half-beskuldigend, half-verbaas gevra of ek dan nog nie my baba vandag gebad het nie.
My stom skok dat ek nooit eers daaraan gedink het nie, en toe die vrees dat sy soos ’n eksaminator gaan toekyk of ek dit volgens die boek doen, het net as stommigheid by haar geregistreer. Toe het sy vir Idalise sonder ’n woord opgeraap, en haar tot my verligting self gaan bad.
Ook maar beter so want ek was ten spyte van voorgeboorteklasse nie opgewasse vir die taak nie! Nie almal van ons is of voel ewe gereed vir wat die ooievaar so skielik aflewer nie. My moederinstink het baie vertraag ingeskop.
Daarteenoor ken ek ’n jong kinderlose paartjie wat met grasie vier pleegkinders – almal onder ses jaar oud! – gelyk ingeneem het met omtrent ’n halwe dag se kennisgewing. Almal was teen sesuur op die eerste aand gevoer, gebad en uitgevat tot by pantoffels en kamerjassies!
Party van ons berei voor vir ouerskap, en ander wil oorbegin, en berei nou voor vir beter ouerskap. As jy reeds ’n ouer is, en hoop om uit hierdie kursus meer as kitsreseppies te kry, dan is dit omdat jy soos ek al ervaar het hoe moeilik ouerskap kan wees.
Gereedheid vir ouerskap is soveel meer as om ’n stootwaentjie en karstoeltjie gereed te hê of ’n spaarplan te open vir jou ongebore kind se universiteitsjare. Dit breek nie aan die oomblik wanneer die babakamer se nuwe gordyne gehang is nie.
Dit begin baie dieper in ons. Gereedheid vir ouerskap begin by basiese volwassenheid – die ingesteldheid om nie meer net vir eiebelang te leef nie maar vir ’n erfenis. Om te belê in iets (iemand!) wat ons gaan oorleef.
Elizabeth Stone het gesê die besluit om ’n kind te hê is monumentaal. Dis die besluit om jou hart vir altyd buite jou lyf te laat rondloop. Ouerskap kan inderdaad jou hart met tye uit jou bors ruk, maar dit kan ’n mens se hart ook neem na dieptes en hoogtes wat net in die avontuur van ouerskap te vinde is.
Ons kinders leer ons die grensloosheid van liefde en die eindeloosheid van die opofferings wat dit kan vra.
Hoe kan ons onsself op beter ouerskap voorberei?
As ouerskap dan so ’n groot uitdaging is, moet ons sekerlik onsself daarvoor voorberei deur te lees en klasse by te woon, ja, maar ook deur ’n paar dieper dinge vir onsself uit te klaar.
As ons van die soort ouers is wat weet hoe ontoereikend ons in al ons “wysheid” kan wees, moet ons ’n paar gedagtes vasgryp en daarmee werk, veral as ons gereed wil wees vir die beste ouerskap moontlik.
As ons die voorbereidingswerk aan die hand van sekere gedagtes doen, kan ons beter vaar as wat ons ooit sou dink!
Gedagte 1: Ons het vorming net so nodig soos ons kinders
Ons eerste vraag tydens ouerskap is gewoonlik: Wat moet ek met hierdie kind doen? Eintlik moet die vraag wees: Wat moet ek vir hierdie kind wees?
Ons vergeet die groter prentjie wanneer ons so besig raak met mooipraat, preek, raas, piets, straf, soebat, dreig, kwaai kyke gee, omkoop, kamer toe stuur en nog baie ander dingetjies. Dit is egter nie in al hierdie “tegnieke” waar die suksesvolste aspek van goeie ouerskap opgesluit is nie.
Die sleutel tot goeie ouerskap lê in ons wese. Hoe innig kan ek liefhê? Hoe gou kan ek vergewe? Hoe geduldig kan ek wees? Hoe maklik kan ek jammer sê? Hoe diep is my toewyding aan my taak as ouer? Wat is ek bereid om van myself te gee?
As die antwoorde op hierdie vrae my laat bloos, is dit mos ’n seker teken dat ek ook gevorm sal moet word!
Ons het vorming net so nodig soos ons kinders. Ek glo vas dat net gebuigde ou bome jong boompies sal kan buig. As ons self verstok en hardkoppig is, kan ons kwalik ons taai jong boompies hanteer sonder dat hulle en ons takke gaan kraak!
Die Here gee nie net aan kinders ouers vir die kinders se beswil nie, maar ook kinders aan ouers vir die ouers se beswil! Ons kinders buig ons dalk amper net soveel as wat ons hulle buig – net op ander maniere.
Voordat ons van ons kinders iets in ruil verwag – naamlik goeie gedrag – gee ons vir hulle die beste van onsself. Die Here het daardie voorbeeld gestel deur ons eerste lief te hê. Wanneer ons aan Jesus verbind is, en die Vader se snoeiwerk in ons lewens ontvang, dra ons vrugte wat sal hou. Ons kinders is hopelik ingesluit by die oes!
As ek sal toelaat dat die Groot Tuinier aan my snoei terwyl ek my saailinge snoei, en my buig terwyl ek my jong boompies buig, word die dissipelskapproses van ouerskap ’n realiteit. Dan volg ons en ons kinders saam die voorbeeld van Christus.
Ons hoef dus nie altyd die regte ding te doen nie, maar ons moet daarna streef om die regte ingesteldheid te hê. Wie is buitendien die perfekte voorbeeld vir hulle kinders?
Wanneer ons fouteer, is ons nie ’n goeie voorbeeld nie, maar dit diskwalifiseer ons nie van ouerskap nie, mits ons ’n baie belangrike ding verstaan: ’n Lewe van oorgawe aan Jesus is ’n beter voorbeeld as ’n lewe van valse foutloosheid, net soos ’n verroeste bordjie wat in die regte rigting wys, beter is as ’n blink gevryfde padwyser wat ’n skewe koers aandui.
Wanneer ouerskap ’n spieël voor ons oplig, en ons met al ons tekortkominge konfronteer, kan ons dik grimering bo-oor die vlekke en plooie plak of ons kan na die waarheid oor onsself kyk, en met die Here se genade weer probeer.
Ons moet eerder ’n lewe leef wat vertel van val, gebrokenheid en vergifnis, van vordering en vrug, as om onsself te probeer voordoen as die volmaakte voorbeeld. Ons leer ons kinders daardeur hoe hulle ook kan val en opstaan.
Die enigste Voorbeeld wat waardig is om voorgehou te word, is Jesus. Ons beste voorbeeld vir ons kinders is daarom een van opregte Jesusnavolging.