Terwyl die skadu van sy eie dood oor Hom gehang het, het Jesus in Johannes 14:1-2 van troos gepraat. Terwyl Hy geweet het dat Hy enkele ure later in die ongenadige hande van die owerpriesters en Romeinse soldate sou wees, het Jesus dié woorde gespreek:
“Julle moet nie onsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie.”
Dit is van die mees vertroostende woorde wat ooit die ore van bang en ontstelde mense in die Dal van Doodskaduwee kan bereik.
Daar is baie dinge wat ’n mens in hierdie lewe kan ontstel. Feit is dat die dood (veral vir hulle wat agterbly) in vele opsigte een van die mees onstellende en traumatiese gebeure op aarde is. Hoe meer voortydig die dood van ’n geliefde is, hoe groter is die onsteltenis, hoe meer is die vrae.
Jesus sélf was ontsteld na die dood van sy vriend, Lasarus: Toe Jesus haar dan sien ween en die Jode wat saam met haar gekom het, ook sien ween, het Hy geweldig bewoë geword in sy gees en Hom ontstel … (Joh. 11:33).
Jesus het self die pad van die dood gestap – die wreedste dood denkbaar – maar Hy is ook uit die dood opgewek. Dit is juis sy opwekking uit die dood wat ons ontsteltenis by die dood temper.
Paulus stel dit so duidelik in 1 Korintiërs 15:19-20: As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense. Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het.
Daarom kan Jesus vir ons sê dat ons selfs met die skadu’s van die dood wat oor ons val, nie ontsteld moet wees nie. Binne vyf minute na die dood sal elke gelowige weet waarom nie.
Jesus se trooswoorde is nie soos die magtelose vertroosting van mense wat dit goed bedoel, maar wat self nie die antwoord ken of die oplossing het nie. Jesus kon praat soos iemand wat uit ondervinding praat, nie soos iemand wat maar net ’n opinie gee nie. Hoeveel vertroosting bring dit nie wanneer Hy vir ons sê: “In die huis van my Vader …”
Binne vyf minute is sy huis ook óns huis
Ek en my vrou stap by een van die grootste en pragtigste huise in ons omgewing verby. In die wandelpad voor die huis was ’n dogtertjie van so drie, vier jaar met haar oppasser. Ewe kontant wys die kleinding na die indrukwekkende, duur huis en sê vir ons in geen onduidelike terme nie: “Hier’s my huis!”
Haar ouers het die huis laat bou en ook betaal. Maar intussen het sy aangekom en nou kan sy heel korrek sê: “Dis my huis!” Haar pa en ma se huis het ook háár huis geword.
Binne vyf minute na die dood sal ek en jy ook ons Vader se huis, “ons” huis kan noem. Wat ’n huis, wat ’n woning moet dit nie wees nie!
In hierdie hemelse huis is daar baie woonplek. Aardse woorde, begrippe en voorbeelde kan kwalik reg laat geskied aan hierdie wonderlike plek. Jesus wil sy volgelinge onder geen illusie laat nie – daar sal geen woningsnood in die hemel wees nie.
Dis wonderlik dat Jesus ons daardie versekering gee, want God se familie is baie groot. Openbaring 7:9b praat van … ’n groot menigte … wat niemand kon tel nie. Hulle was van elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam gestaan.
Soms, wanneer ons ’n paar vriende na ons huis wil nooi, moet ons ons uitnodiging beperk. In ons hart is daar plek vir baie, maar daar is nie in ons huis soveel plek nie.
God het egter genoeg plek in sy hart én in sy huis. Daar is plek vir elkeen wat wil kom. Sy huis sal eers vol wees wanneer die laaste een ingekom het.
Jesus het alles bedoel wat Hy gesê het. “As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie”(Joh. 14:2b). Hoekom sal ons Hom dan nie glo nie?
JOERNAAL
Wat beteken dit vir jou in jou rouproses wanneer jy dink oor Jesus se ontsteltenis en sy trooswoorde? Kan jy hieruit iets leer wat jy ook vir ander mense mee kan troos? Gun jy jouself die ruimte om jou menslike emosies voor God uit te stort? Gun jy ander mense om hulle pyn en smart eerlik en openhartig met jou te deel – al is dit iets waarmee jy ongemaklik is?