TEMA 17 – Bybelse troos oor gelowiges se dood

Voor ons besin oor wat ons ná die dood kan verwag, wil ek saam met jou kyk na ’n paar Skrifte waar die dood van die gelowige in oënskou geneem word.

Jou dood is kosbaar in die oë van God

Jy het dalk al die woorde van Psalm 116:15 gelees of gehoor: Kosbaar is in die oë van die Here die dood van sy gunsgenote (1953 Vert.).

Wie is hierdie gunsgenote? In die grondtaal dui dit op hulle wat die voorwerp van sy liefde is en positief daarop gereageer het. Die dood van sy geliefdes is nie vir die Here ’n geringe saak nie. Vir hulle en vir Hom is dit ’n belangrike aansluitingspunt op ons ewige lewenspad.

Dis belangrik om te verstaan dat dit nie vir Hom kosbaar is dat hulle dood is nie – soos ’n jagter wat selftevrede by sy prooi staan nie. Vir God hou die dood iets gans anders in as wat dit vir ons inhou.

Vir ons is die dood van ’n geliefde ’n verlies. Ons “verloor” ’n geliefde. Wat God betref, is dit anders. Ons dood is nie vir Hóm ’n verlies nie. God “verloor” nie ’n geliefde nie. Dis nie ’n “totsiens” sê vir Hom nie. Dis die omgekeerde!

Dis ’n persoonlike reünie, ’n vereniging met Hom; dis ’n “dagsê” vir God. Daarom is ons dood nie vir Hom ’n tragedie, ’n terugslag, ’n verlies nie – dis kosbaar.

Dalk maak dit nie vir jou sin nie, verstaan jy dit nie, want ons dink anders oor die dood as God.

Vir ons beteken die dood: afskeid, afwesig wees, vaarwel, weg wees, tot niet gaan. Ons keer van die graf af terug en ons dink by onsself dat ons ons geliefde daar “agtergelaat” het. In werklikheid is hy/sy nie die agtergeblewene nie – óns het agtergebly.

Natuurlik moet ons in dié verband ’n totale onderskeid tref ten opsigte van die ongelowige. Die dood van die ongelowige is iets vreesliks – ook vir God. Hieroor sê die Bybel herhaaldelik dat God geen behae in die dood van die goddelose het nie, maar eerder dat hy hom bekeer (o.a. Eseg. 18:23 en 33:11).

Dit is die grootste oorwinning wat Satan in enige mens se lewe kan behaal – om jou God se genade en vergifnis te laat weier totdat jy sterf. Vir so ’n mens was Jesus se dood aan die kruis tevergeefs.

Aan die ander kant en in ’n sekere sin, is die dood van die gelowige die duiwel se grootste en finale nederlaag in ons lewe. Tydens ons lewe op aarde kan die duiwel ons teister en intimideer, hy kan ons verwond en verneder.

Maar die oomblik wanneer jy as gelowige sterwe, het Satan verloor. Selfs al is jy soos ’n maraton-atleet wat oor die wenstreep kruip, struikel, val – Satan verloor. Selfs al sterf jy bloeiend met die wonde van die lewe, het Satan die geveg teen jou permanent verloor.

In die geveg van die lewe wen die duiwel soms ’n rondte teen die gelowige, laat hy ons soms stukkend en bloeiend, maar deur God se genade sal hy die geveg sekerlik verloor!

Na die dood sal hy jou nooit, nooit weer kan versoek, in stryd kan dompel, laat ly, laat vrees, laat huil, laat sondig nie. Al sy pogings was tevergeefs. Deur God se genade het jy dit gemaak. Dis “kosbaar” vir die Here! Jy is veilig. Tuis. By Hom.

Gelowiges wat sterf, betree in die volste sin van die woord die Ewige Rus. Dit beteken nie ’n staat van “niksdoen” nie. Daar sal net nooit weer iets wees wat jou sal uitput, vermoei of dreineer nie.

Ja, ons worstel met vrae wanneer ’n geliefde voortydig sterf. Hoe meer voortydig die dood kom, hoe meer is ons vrae. Tog, al is dit vir ons hoe onverklaarbaar – die dood van sy geliefdes is vir Hom kosbaar.

Alles wat ons aangaan, is vir die Here kosbaar – ons lewe, ons liefde, ons dienswerk, ons aanbidding – maar ook ons sterwe.

Ons dood is soos skape wat kraal toe kom

Dis vir ’n skaapboer kosbaar as hy sy skape daar ver op die veld sien wei. Maar vanaand, as die son sak, is dit vir hom die heel kosbaarste wanneer hulle almal veilig hier by sy huis in die kraal is. Die gevaar van ongediertes en diewe wat in die nag daar in die veld na ’n prooi soek, is dan uitgeskakel.

Vir God is die dood van sy gunsgenote soos die boer se skape wat huis toe kom. Die hemel is God se “kraal”. Die geliefde is nou veilig. Die gevare, bedreiginge en leed het “daar in die veld” agtergebly. Hy of sy is nou by Hom.

Ons dood is soos graan in skure gebring
Net so is die graan wat op die land wuif vir die landbouer kosbaar. Hy het lank daaraan gearbei, dit bewerk en versorg – deur storms en droogtes. Uiteindelik is dit oestyd en wanneer oestyd verby is, is die risiko’s op ’n einde.

So mooi as wat die wuiwende graan op die lande vir die boer gelyk het, is dit egter vir hom die heel kosbaarste as die koring veilig in die skuur gebring is. Netso is ons dood vir Hom kosbaar. Ons is veilig tuis.

Ons dood is soos skepe wat die hawe invaar

Vir die skeepseienaar is dit belangrik wanneer een van sy skepe daar ver oor die wye oseaan vaar, maar dis vir hom die kosbaarste wanneer dit na ’n lang reis oor die gevaarlike see veilig in die hawe van sy bestemming aankom.

Skepe móét die see oorkruis, maar die risiko’s, storms en gevare is altoos daar, net soos in ons lewe. Daarom is die Here bly wanneer ons dit na ’n leeftyd van storms en gevare deur sy genade gemaak het en ons die hawe van rus binnevaar.

JOERNAAL
Verstaan jy waarom dit vir die Here kosbaar is wanneer een van sy kinders na ’n gevaarlike lewenstog, na vele versoekings, gevaar en stryd, veilig in die kraal, in die hawe, in sy ewige arms is?

Glo jy dat die tyd sal kom wanneer jy nooit weer stryd, nooit weer versoekings, siekte en sonde sal ervaar nie? Nooit weer trane, nooit weer pyn? Hoe laat dit jou voel oor die dood van ander om te weet hulle is vir altyd veilig tuis?