TEMA 16 – Die groter blydskap van die hemel

Vir die gelowige is een van die troosrykste gedagtes oor die eerste vyf minute na die dood die wete dat daar ’n blye weersiens gaan wees. Elkeen, sonder uitsondering, wat as kind van die Here sterf, gaan na die dood na dieselfde plek – die hemel.

Daar is by my geen twyfel dat ons ons afgestorwe dierbares sal ontmoet nie – binne vyf minute na die dood. Hoe ouer ’n mens word, hoe groter word jou familie- en vriendekring in die hemel. Hier dink ons nie net aan ouer geslagte wat ons vooruit gegaan het nie.

Wat van die mense wat kinders aan die dood afgestaan het? Ek het geen twyfel dat ma’s wat hulle babas vóór geboorte, byvoorbeeld deur ’n miskraam, verloor het, hulle dáár weer sal sien nie – binne vyf minute na die dood!

Dieselfde geld vir kinders wat gesterf het voordat hulle die ouderdom van onderskeiding bereik het waar hulle bewustelik op die roepstem van die Here in hulle lewe kon reageer.

’n Vraag wat dikwels opkom, is: In watter stadium (watter ouderdom) van ons lewe sal ons in die hemel wees? Sal dié wat as bejaardes gesterf het, daar steeds bejaard wees? Sal babas steeds babas wees? Dit is sinloos om hieroor te spekuleer. Ons sal in ’n ander dimensie wees waar tyd en ouderdom nie meer sal bestaan nie. Ook nie die fisieke soos ons dit hier ken nie.

Ons sal in ’n ander dimensie wees waar tyd en ouderdom nie meer sal bestaan nie. Ook nie die fisieke soos ons dit hier ken nie. In hierdie aardse dimensie waarin ons nou leef, is dit vir ons moeilik denkbaar en verstaanbaar.

Die belangrike is egter dat ons mekaar daar sal herken! Dit is die heerlike wete en troos waarmee die gelowiges op aarde telkens hulle geliefdes wat hulle vooruit gaan, kan groet.

Nie net jou familie en vriende wag vir jou nie

Dit is egter nie net ons eie dierbares wat ons daar sal herken en ontmoet nie. Binne vyf minute na die dood, sal ons die heiliges deur die eeue, ook die bekende Bybelfigure, daar ontmoet. Dit is deel van die heerlike vooruitsig wat ek en jy het – omdat ons deel van die familie van God is.

Al die ontmoetings wat ek genoem het, sal wonderlik wees. Dit sal egter niks wees in vergelyking met die grootste en heerlikste van al die ontmoetings nie. Die ontmoeting met Hom wat dit moontlik gemaak het dat gebroke, verlore mense gered kon word en die hemel kon beërf.

Ek praat natuurlik van Jesus Christus. Dit is Hý wat die hemel hemel maak.

’n Paar duisend mense het die voorreg gehad om Hom te sien toe Hy 2 000 jaar gelede op aarde was. Maar ek en jy het Hom nog nie gesien nie. Net beleef. Sy teenwoordigheid ervaar. Sy liefde gesmaak. Sy leiding beleef.

Daar is by my nie eers een persent twyfel dat Hy ’n werklikheid is en dat Hy leef nie. Al het ek Hom nog nie gesien nie. Maar dank God! Daar kom ’n dag dat ek Hom sal sien soos Hy is. Die Een wat ek die graagste wil sien. Dít is waarna ek die meeste uitsien.

Ek hoop, ek glo, nee, ek wéét Hy sal die Een wees wat ek en jy heel eerste sal sien die dag wanneer ons die poort van die dood deurgaan! Hy wag vir ons! Binne vyf minute na die dood!

Hoe sal ons Jesus herken en weet dis Hy?

 Daar sal ’n paar maniere wees waarop jy Hom sal kan uitken. Hy sal die Een wees aan die regterhand van Hom wat op die troon sit – die Vader. Hy is die Een voor wie engele en serafs neerval en roep: “Heilig, heilig, heilig!”

Hy is die Een vir wie die heiliges aanbid en aan wie se voete hulle hulle krone neerwerp. Hy is die Een vir wie die bloedgewastes ’n nuwe lied sal sing.

Daar sal egter nog een onfeilbare manier wees om te weet: Dis Hy! Kyk na sy hande en sy voete.

Dit sal die enigste hande en voete in die hemel wees wat die merke van spykers vertoon.

Trouens, dis ál wat jy in die hemel sal sien wat op die aarde gemaak is – die merke van die wonde aan sy hande, sy voete en sy sy.

Die Bybel vertel dat die gelowiges op die groot dag van die opstanding ’n verheerlikte liggaam sal ontvang. Dit beteken ’n bonatuurlike liggaam wat nie onderworpe sal wees aan die beperkings van die aardse dimensie waarin ons nou leef nie. Dit sal ’n liggaam wees wat niks van die aardse gebreke, letsels of ou operasiemerke sal dra nie.

Wat dan van Jesus se merke aan sy verheerlikte liggaam? Die Bybel sê eksplisiet dat Jesus na sy opstanding steeds die merke van die spykers en van die spies in sy sy gedra het.

Die onmiddellike rede waarom die wondmerke aan sy verheerlikte liggaam behoue gebly het, was waarskynlik om tydens sy laaste 40 dae op aarde as onweerlegbare getuienis te dien dat Hy regtig opgestaan het en dat hulle nie iemand anders vir Hom aangesien het nie.

Is dit nie merkwaardig dat die Emmausgangers Hom die hele middag onderweg na Emmaus nie herken het nie, totdat hulle die aand die brood uit sy hand ontvang het. Dit was waarskynlik toe die eerste keer dat hulle die merke in sy hande opgemerk het.

Dit is opmerklik dat Jesus ook in die hemel erken en geëer word as die Lam wat vir ons geslag is. In die volmaakte hemelland waar daar niks sal wees wat ons aan hierdie onvolmaakte wêreld sal herinner nie, is dit aangrypend om te dink dat die enigste iets in die hemel wat op die aarde gemaak is, die merke van die wonde aan Jesus se verheerlikte liggaam sal wees.

Indien Jesus in die hemel steeds die merke van sy wonde dra, wat sou die rede en doel daarmee wees? Kan dit dalk wees dat dit die Bybel se manier is om ons hier in ons aardse konteks te verseker dat die Here ons nooit kan vergeet nie?

Kan die merke in sy hande dalk ons name verteenwoordig en aan ons die versekering gee dat die Here ons nooit kan of sal vergeet nie? Daardie merke dien egter nie net om Hom aan ons te herinner nie.

JOERNAAL

Dink net daaraan – elke keer wanneer ons in die hemel na Hom kyk en ons in daardie land van absolute volmaaktheid die merke sien, sal ons onthou, sal ons weet, sal ons Hom aanbid.

Verstaan jy nou waarom ek sê dat jy binne vyf minute na die dood vir Jesus sal sien en Hom sonder enige twyfel sal herken?

Hoe laat dit jou voel? Hoe verander dit jou pyn en smart wanneer jy dink aan iemand wat reeds by Jesus is? Kan jy hieroor praat en getuig?