TEMA 15 – Een plan om hemel toe te gaan

Leer by Jesus wat jy moet doen. In sy verhaal in Lukas 16 het Abraham die ryk man baie gou laat verstaan dat sy saligheidsplan nie aanvaarbaar is nie. Net so, binne vyf minute na die dood, sal talle mense wat op aarde baie selfgeregverdig was, uitvind: God se saligheidsplan was die enigste plan.

Binne vyf minute na die dood sal lou Christene hulleself begin verwyt wanneer hulle besef wat dit beteken het toe die Here gewaarsku het dat Hy lou mense uit sy mond sal spoeg. Binne vyf minute na die dood sal die ateïs en die agnostikus wéét: Daar ís ’n God. Binne vyf minute na die dood sal hulle glo!

Binne vyf minute na die dood sal hulle wat op aarde gedink het dat geld wat stom is, kan regmaak wat krom is, uitvind dat geld daar niks kan vermag nie. So is daar baie mense wat in hierdie lewe spottend verwys na die mense wat na hulle mening te ernstig met die Bybel of hulle godsdiens is.

Mense se planne het een eindpunt: die hel

Die jongste tendens in ons sekulêre gemeenskap is die siening dat alle godsdienste in wese dieselfde is en dat ons almal eintlik dieselfde God aanbid. Hierdie siening, het nie baie geduld en ruimte vir enige eksklusiwiteit in godsdiens nie – die wagwoord is “akkommodering” en “verdraagsaamheid”.

By die mense wat só glo, is daar egter nie baie verdraagsaamheid teenoor dié wat glo dat daar net één ware God en net één Weg na Hom toe is en dat daar net één manier is om in die hemel te kom nie. Jesus is die Weg, Hý is die Deur. Elke mens sal dit binne vyf minute na die dood vir seker weet.

Binne vyf minute na die dood sal dié mense wat altyd so gou was om te sê: “Ek het my kerk,” en: “Ek het my predikant,” uitvind dat nie jou kerk en ook nie jou predikant daar ’n verskil kan maak nie.

Binne vyf minute na die dood sal dié wat as naamchristene, maar met ’n onweergebore hart, onnadenkend die nagmaalsbeker aan hulle lippe gedruk het, die beker van God se toorn begin drink.

Binne vyf minute na die dood sal dié wat hulle eie idees oor redding en saligheid gehad het, uitvind: ’n Mens kan hel toe gaan volgens jou eie idees, maar hemel toe gaan jy volgens God se plan en manier en reëls.

Daar is net een plan wat jou hemel toe neem

Daar was deur die eeue baie verwringing van God se saligheidsplan. Hierdie saligheidsplan van God het nog nooit verander nie. Die postmoderne mens word nie op ’n ander manier gered as die mense van 2 000 jaar gelede nie.

Die hemel het nie ’n Plan B nie. Die ryk man se persepsie dat hy deel van ’n uitverkore verbondsvolk was en dat alles daarom wel was, lê nou wreed voor sy oë versplinter.

Ander word in ’n valse gerustheid gesus deur ’n fatalistiese uitverkiesingsleer dat God by voorbaat sommige uitverkies en ander verwerp het. Nog ander is mislei deur ’n predikant of priester of sogenaamde oudste wat deur die een of ander rituele of sakramentele handeling of ’n magiese oopsluit van die hemel onder ’n valse gerustheid verkeer het.

Niemand anders as jy self kan die verantwoordelikheid vir jou saligheid dra nie. Moenie tot vyf minute na die dood wag om dit uit te vind nie!

Binne vyf minute na die dood sal dié wat so vermetel geword het om dele van die Bybel weg te laat, tot hulle skok agterkom dat hulle name uit die boek van die lewe weggelaat is. Dit is ’n lewensgevaarlike praktyk. Sommige gaan dit te laat agterkom.

Binne vyf minute na die dood sal die mense wat altyd tot later wou uitstel, uitvind dat hulle nou die limiet oorskry het, dat hulle een keer te veel uitgestel het. Dit is een van daardie onverklaarbare dinge …

Die meeste mense wéét hulle saak met God is nie reg nie, hulle is nie gereed om hulle Maker te ontmoet nie, tog stel hulle uit om hulle met God te versoen. As jy een van hierdie mense is – moenie langer wag nie!

Jy hoef niks te vrees as Jesus jou Verlosser is

 Binne vyf minute na die dood sal diegene wat ’n tweede kans na die dood verkondig, uitvind daar is nie eers meer ’n halwe kans nie, want dit is vir die mens bestem om een maal te sterwe en daarna die oordeel (vgl. Heb. 9:27).

Binne vyf minute na die dood sal dié wat leer dat die siel van die dooie vernietig word of in ’n onbewuste toestand verkeer, uitvind dat hulle siele wakkerder is as ooit tevore.

Binne vyf minute na die dood sal hulle wat geleer het dat die hel nie ’n brandende plek van ewige lyding is nie, maar ’n toestand van vernietiging of totale “niebestaan”, uitvind dat Hy wat sowel die hemel as die hel voorberei het, bedoel het wat Hy oor die hel gesê het.

Dis nie maar net bangmaakstories aan mense verkondig het nie. Binne vyf minute na die dood sal die selfverwyt begin; sal talle mense hulle oë opslaan en uitroep: “Ag, as ek tóé maar gehoor gegee het, as ek tóé maar geluister het!”

Binne vyf minute na die dood sal mense die oordeel van God begin ervaar en uitvind dat die God van liefde ook ’n God van geregtigheid is en dat Hy dié wat sy groot liefde geminag het, nou met ewige oordeel ontmoet.

Daar is min volksgroepe waar iemand nie op die een of ander manier die evangeliesaad gesaai het nie. Dít is die hoofrede waarom hierdie kursus die lig gesien het – om te help verhinder dat mense daardie eerste vyf minute na die dood hulle oë in daardie plek van vlamme en smarte oopmaak.

Daar is vele paaie hel toe; daar is baie maniere om verlore te gaan; die breë poort het ruimte vir baie opsies. Elkeen kan sy of haar keuse maak. Daar is egter net één pad hemel toe – en dit is smal.

JOERNAAL

As jy Jesus Christus aangeneem het, hoef jy nie die eerste vyf minute na die dood te vrees nie. Baie mense kry dit reg om sonder God te leef. Die vraag is: Sal jy sonder Hom kan sterf? Leef jy reeds daagliks saam met Hom?