TEMA 14 – Hel toe gaan, is mense se keuse!

In Lukas 16:27 gebeur iets wat jy dalk nooit met die doderyk sou assosieer nie. Die ryk man begin bid. Gebede in die vlamme van die doderyk? Word daar in die doderyk gebid?

Inderdaad! Die doderyk is waarskynlik die godsdienstigste plek wat daar is! Dis die plek waar die meeste gebid word! O, ek weet mense het biddeloos en goddeloos daar aangekom, maar vyf minute in die vlamme van die doderyk is genoeg om die hardste, onverskilligste sondaar te laat bid.

Dink maar aan al die ruwe godloënende sondaars wat sonder vergifnis gesterf het. Ek beloof jou: Hulle bid nou! Vyf minute in die vlamme van die doderyk sal regkry wat ’n duisend preke nie kon regkry nie – hulle sal glo!

Dit is waarom ek sê dat die doderyk die godsdienstigste plek in die heelal is. (Ek sluit die hemel hier uit, want die hemel is vir my meer as net ’n godsdienstige plek. In die hemel sal God alles en in almal wees.)

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Mense mag ongodsdienstig en goddeloos en ongelowig wees wanneer hulle in die doderyk aankom. Maar dit is nie langer as vyf minute die geval nie. Daar is niemand in die doderyk wat nié in God glo nie – maar te laat.

Die doderyk/hel is volgens 2 Tes. 1:8-9 waarskynlik die één plek in sy skepping waar die alomteenwoordige God afwesig gaan wees. Dis eintlik ironies dat die één plek waar God waarskynlik nié is nie, die plek is waar mense bid en glo.

Ironies omdat hulle al die jare op aarde te midde van sy liefdevolle alomteenwoordigheid nooit ’n keuse vir Hom gemaak het nie. Nóú bid die ryk man. Helaas – te laat!

Sendingbewustheid in die doderyk is heeltemal te laat

’n Mens kan nie anders as om geraak te word deur die gebed en smeking van die ryk man in die doderyk nie. Welwetende dat daar niks meer vir hom gedoen kan word nie, dink hy nou aan sy broers – vyf van hulle, wat blykbaar in hulle ouer broer se voetspore volg.

Ooreenkomstig die patriargale kultuur van daardie tyd was hulle waarskynlik nog deel van die patriarg (hulle pa) se huishouding. Hoor die ryk man se gebed in vers 27: “Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur – want ek het vyf broers – om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie.”

Kyk net hoe het hierdie man se waardes verander! Gedurende sy eie lewe op aarde het hy hierdie belangrikste prioriteit nagelaat. Slegs vyf minute in die vlamme van die doderyk het hom egter radikaal tot ’n ander insig gebring.

Ongelukkig kon hy ook niks van die “ander kant” af doen om sy broers op hulle rampspoedige vaart te keer nie. Abraham sê vir hom in vers 29: “Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister.”

Daar sal geen spesiale uitsonderings gemaak word nie. God het Hom deur sy Woord geopenbaar. Niks meer as dit is nodig nie. Wat Hy vir die mens wou sê oor hóé om in die hemel te kom, is duidelik in die Bybel uitgespel. Spesiale sendings uit die doderyk is nie deel van God se plan nie.

Dit is duidelik dat die werklikheid van die lewe na die dood mense se perspektief op die ewigheid verander. Om te dink dat selfs ’n verlore sondaar kort na sy dood so besorg kan wees oor sy broers se verkeerde koers!

Ek het egter ’n idee dat dit nie net die geval is met hulle wat in die doderyk beland nie.

Wat van ons wat Jesus aangeneem het en deur sy genade die werklikheid en heerlikheid van die hemel sal smaak, en dan skielik sal dink aan die mense wat ons op aarde geken het wat op die verkeerde pad is en aan wie ons nie vertel het dat daar vir hulle ’n alternatief is omdat God hulle so liefhet nie?

Ek wil glo dat daar in die hemel nie negatiewe emosies en verwyte gaan wees nie. Ek weet ook nie presies wat dit alles beteken dat God in die hemel nog van ons trane sal afdroog nie (vgl. Open. 7:17; 21:4).

In my menslikheid en aardse begrip kan ek na aanleiding van hierdie verhaal in Lukas 16 maar net probeer dink aan ons gedagtes en emosies wanneer ons aan hulle op aarde sal dink.

Dink net ’n oomblik – deur God se genade het ek dit gemaak, die hemel is nie meer ’n veraf droom nie. Maar my buurman, my vriend, my kollega, my familielid is nie gereed om God te ontmoet nie.

En daar is nou niks wat ek daaraan kan doen nie. Ek kan nie getuig nie, ek kan nie waarsku nie, ek kan nie vir hulle bid nie, ek kan nie eers een rand vir sendingwerk gee nie.

JOERNAAL

Vriend, vriendin, as die Here met jou hieroor praat, is dit nóú die tyd om ’n verskil te maak. Wat jy vir die Here en sy werk kán en wíl doen, moet jy doen terwyl jy dit nog kán doen – aan hierdie kant van die graf, aan hierdie kant van die hemel.

Die hemel is die wonderlikste plek, maar jou roeping en verantwoordelikheid op aarde sal jy nie dáár kan vervul nie. Doen dit hier en nou. Binne vyf minute na die dood sal dit te laat wees.

Skryf jou planne en die aksiestappe wat jy gaan neem, neer en onthou om datums by te voeg. Jy hoef nie groot te begin nie! Begin net …