TEMA 13 – Die werklikheid van hemel en hel

Alhoewel die “die eerste vyf minute in die hemel” my fokus is wanneer ek oor die hiernamaals skryf, wil ek nie daardeur te kenne gee dat dit nie ook nodig is om oor die werklikheid van die hel te skryf nie. Eintlik het Jesus meer oor die hel as oor die hemel gepraat …

Kliek hier vir die video, Wat jy moet weet oor die hel.

Trekkrag van die hemel is groter as helse vrees

Dit was my ervaring dat selfs mense wie se saak en verhouding met God nié reg is nie, dikwels en meer spontaan hulle lewe met die Here reggemaak het na ’n boodskap oor die hemel as een oor die hel. Vir baie is die wonder en “trekkrag” van die hemel kragtiger as die vrees vir die hel.

Dit was en is steeds die primêre doel van my gedagtes: dat hulle sal bydra om die hel armer en die hemel ryker te maak! Dis immers bo alles waarom Jesus Christus aan die kruis kom sterf het.

Daarbenewens is die vertroostende en bemoedigende boodskap van hoop wat die werklikheid van die hemel aan treurendes bring, onvergelykbaar. Ek glo God het dit so bedoel. “Hemel” is die mooiste trooswoord.

Die vooruitsig van die hemel het geensins die bedoeling om bloot die spreekwoordelike geelwortel aan mense voor te hou nie (á la Karl Marx se beskuldiging van ’n “pie in the sky”).

Dit gaan nie oor ’n ontvlugting van die werklikheid nie, maar oor die salige hoop wat so pertinent in die Skrif aan ons voorgehou word.

By die bruilof in Kana (Joh. 2) het Jesus, in teenstelling met die bruidegom, gewys dat Hy die beste vir laaste hou. Dit maak nie saak wat jy al van God gesien of beleef het nie, jy het nog nie die heel beste gesien nie.

Lewe in blye verwagting vir dit wat nog kom

Wanneer jy die kelk van die Here in jou hand neem, teug jy nooit eerste aan die beste wyn nie. In die Christelike lewe is daar dikwels eers die bitter en daarna die soet. Wanneer ons tot bekering kom, is daar eers die smart en sondebelydenis wat met berou gepaardgaan. Maar dit maak plek vir die vreugde van sondevergifnis.

Eers is daar die selfverloëning en die kruis wat ons opneem, maar dan volg die heilige vrede wat ons hart vul. Eers moet die beker van die eie ek geledig word en dan vul die Here ons beker met sy goeie wyn.

Daar is nooit ’n eindpunt wanneer dit kom by die seëninge van die Here nie. Daar is altyd méér, altyd iets wat nog wonderliker is. Nooit sal ons kan sê “Ons het die beste gehad” nie.

In enige menslike aktiwiteit kom daar ’n dag wanneer ons moet sê: “My beste dae is nou verby.” Op die pad van die Here lê die beste altyd nog voor. Dit gaan van krag tot krag, en van heerlikheid tot heerlikheid.

Die pad van die Here is nie ’n pad van ontnugtering, teleurstelling en antiklimakse nie. Dit is ook nie ’n pad van vrees en onsekerheid oor jou eindbestemming nie. Nee, dit is ’n heerlike pad, want Jesus hou die beste wyn vir laaste: die lewe by Hom in die hemel.

Ek glo in daardie plek waar ons vir ewig saam met Jesus sal wees.

JOERNAAL

Glo jy in die hemel waar ons vir ewig saam met Jesus sal wees? Of is jy meer bang vir die hel se smarte? Waaroor praat jy met ander mense? Is daar iets in jou verstaan van die Bybel en in jou geloofsverhouding wat jy moet verander? Kan jy getuig van die heerlike wete en sekuriteit wat jy het in jou kindskap van God deur die verlossing van Jesus Christus?