TEMA 12 – Gaan mense wat selfdood pleeg hemel toe?

Een van die vrae wat gereeld aan my gestel word wanneer daar oor die lewe na die dood gepraat word, is: Wat gebeur met iemand wat selfdood pleeg? Is so ’n persoon vanselfsprekend verlore? Of is daar enige moontlikheid dat so ’n persoon wel in die hemel kan wees?

Hierdie kwessie is so hartverskeurend en so belangrik vir baie mense, dat ek dit omvattend wil aanspreek. Ek wil met ’n direkte antwoord begin en daarna verduidelik waarom ek dit sê.

Ek is oortuig dat die daad van selfdood as sodanig ’n mens nie verlore laat gaan nie.

Met hierdie stelling praat ek op geen manier selfdood goed nie. Die primêre saak is nie die manier waarop die persoon gesterf het nie, maar sy of haar verhouding met die Here vóór die dood – met ander woorde, was die persoon gered, ’n kind van die Here?

Dit is een van die hartseer realiteite van die lewe dat gelowige mense ook soms hierdie radikale en onomkeerbare daad pleeg. Selfs hierdie vreeslike gebeurtenis kan die geredde egter nie uit die hand van die Here ruk nie!

Die groot rol wat depressie by selfdood speel

Eerstens is ek van mening dat baie min mense wat selfdood pleeg, dit nie doen te midde van die donkerte van depressie nie. Wie nie die swart nag van depressie ken of ten minste al iets daarvan beleef het nie, sal dit dalk nie verstaan nie.

Weliswaar kan dit nooit as regverdiging of verskoning gebruik word nie, maar dit bring sekerlik ’n groot mate van begrip. Om iets van selfdood te verstaan, moet ’n mens daarom iets van depressie verstaan.

Depressie vat jou die woestyn in, laat jou onder ’n besembos sit en wens dat jy kan sterwe.

Een van die duidelikste en sekerste tekens van depressie is dat jy by ’n punt kom waar jy die dood bo die lewe verkies.

Waar die dood vir jou ’n welkome ontvlugting word, omdat die lewe nie meer vir jou die moeite werd is nie. So ’n toestand is hoogs onnatuurlik – die mens se begeerte om te lewe is immers sy of haar sterkste natuurlike drang. Vir die mens in depressie kan die dood egter verkiesliker word as die lewe.

’n Gebrek aan begrip en ondersteuning is dikwels die laaste druppel wat die emmer laat oorloop. Inderdaad was daar in die verlede nie altyd die nodige begrip vir mense wat met hierdie ongenadige siekte geworstel het nie.

Daar is natuurlik gevalle van selfdood waar die daad self net die kulminering is van sekere sondige gewoontes en praktyke. Sulke persone kom dan uiteindelik op ’n plek waar die duiwel hulle soos ’n spinnekop in ’n web van sonde en verslawing vasgespin het.

Hulle voel so vasgevang dat hulle geen ander weg daaruit meer sien nie. In desperaatheid en as ’n wanhoopsdaad slaan hulle dan hul hand aan hul eie lewe – dikwels deur ’n oordosis van ʼn afhanklikheidsmiddel te neem.

Selfdood kan vir die een in ’n depressiewe toestand laat voel dat sy of haar probleem daardeur opgelos sal word. In werklikheid skep dit meer probleme en smart vir dié wat agterbly. Dit bring  dikwels oneindige skuldgevoelens vir die mense wat die naaste aan die oorledene was.

Dit is seker een van die wreedste dinge wat jy aan jou geliefdes kan doen. Al sou jy niks meer vir jouself voel nie, moet dit in hemelsnaam nie aan die mense naaste aan jou doen nie!

Hoe gelowiges moet dink oor selfdood en sonde

Is selfdood sonde? Ja, sekerlik. Is dit die onvergeeflike sonde? Nee! Die onvergeeflike sonde is die sonde teen die Heilige Gees. Jy kan dalk vra: Maar wat as die persoon se laaste sonde moord is en hy of sy sterf sonder dat daarvoor om vergifnis kon gevra word?

Eerstens weet niemand wat in die sterwensoomblikke tussen so ’n mens en sy of haar Skepper gebeur het nie. Tweedens gaan ’n mens nie hel toe omdat jy gesondig het en hemel toe omdat jy nié gesondig het nie.

As dít die geval was, moet ’n mens tog so lank moontlik voor jy sterf, probeer om nie sonde te doen nie. Nee! Jy gaan hemel toe omdat Christus vir jou aan die kruis gesterf het en jy deur sy genade alleen aanvaar het dat Hy ook in jou plek gesterf het.

Jy gaan nie hel toe omdat jy – selfs in die laaste oomblikke van jou lewe – gesondig het nie. Jy gaan hel toe omdat jy nie hierdie groot en genadige offer van God se liefde aanvaar het nie.

’n Groot teoloog uit die vorige eeu het iets veelseggends oor selfdood en sonde gesê. Hy sê dat die sonde wat God die meeste haat, die sonde van hoogmoed is. Dit was immers die heel eerste sonde as gevolg waarvan Satan uit die hemel gewerp is.

Hy sê die sonde wat die verste van hoogmoed verwyder is, is selfdood. ’n Mens wat selfdood pleeg, is op ’n algehele laagtepunt. In so ’n mens is daar geen eiewaan, egoïsme of hoogmoed meer oor nie.

Wie weet en verstaan beter as Hý die broosheid en swakheid van een van sy kinders wat tydens so ’n emosionele en geestelike laagtepunt nie meer kans sien om aan te gaan nie? Ek glo sy genade is groter as sonde wat in swakheid begaan is.

 JOERNAAL

Is jy dalk op ʼn laagtepunt? Moet nooit selfdood oorweeg of as ’n opsie sien nie! Dit is nié God se wil vir jou lewe nie! Maak seker jy gaan praat dadelik met iemand wat jy vertrou.

Indien jy dalk iemand op hierdie manier verloor het, dink na oor alles wat ek nou hier gesê het. Mag daar vir jou troos en kalmte wees wanneer jy aan God se groot genade dink. Ons kan dit nooit genoeg vir mekaar beklemtoon nie: God is ’n genadige God. Skryf dit soveel keer neer as wat nodig is, tot dit jou hart ligter maak.

Indien jy iemand anders moet troos wat hierdie groot seer het: Fokus op genade en gebruik my woorde indien nodig.