TEMA 11 – Engele is by gelowiges tot die einde

In Lukas 16:22 kan jy lees: “En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra …”

 Die een oomblik in vodde en smart, die volgende oomblik in heerlikheid. Ons lees van geen begrafnis nie, van geen draers wat sy uitgeteerde lyk weggedra het nie. Maar ons lees wel van hemelse wesens, engele, wat die ware Lasarus, die mens van God, weggedra het na sy hemelse woning.

Wat van sy lyk geword het, het nie meer saak gemaak nie, was nie meer belangrik nie. Of dit op die vullishope van Jerusalem of in ’n armlastige se graf beland het, was van geen belang meer nie.

Lasarus was tuis. Die tentwoning was verflenter (2 Kor. 5:1), die erdekruik het sy doel gedien (Pred. 12:10), dit het stukkend in die put gelê. Die skat ín die erdekruik, die pelgrim ín die tent, dié het gearriveer.

Binne vyf minute na sy dood was daar in plaas van honde … engele by hom!

Honde was al wesens wat hom op ’n manier op aarde van hulp was. Hulle het verligting gebring deur sy wonde te lek. Hulle was sy enigste vriende, die enigste wesens wat naby hom gekom het, wat sy metgeselle was. Saam met hulle het hy die afvalkos van die ryk man se tafel geëet.

Nou is daar in die plek van die honde, engele! Hierdie magtige, heerlike wesens voor wie talle helde al neergeval het, dra nou vir Lasarus na die plek van heerlikheid.

Die gedagte van “wegdra” moenie verstaan word asof Lasarus se gees en siel swaar was nie. Die beeldspraak dui hier op ’n koninklike of hooggeplaaste wat deur diensknegte op ’n draagstoel gedra word.

Hebreërs 1:14 praat immers van engele as … dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe.

Regdeur ons lewe is die engele van die Here in diens van God besig om dit wat vir Hom die kosbaarste is – sy kinders – te beskerm: … Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë (Ps. 91:11).

 Nou, aan die einde van sy aardse pad, is hierdie heerlike wesens ook dáár, by die poort van die dood, om hierdie kind van God op sy laaste tog te vergesel – as ’t ware déúr hierdie poort na sy ewige woning te dra.

Enige finale poging van die vyand om ’n gelowige tydens hierdie kritieke oomblikke van sy lewe te kaap, word onmoontlik gemaak omdat die engele van die Here elke gelowige ook daar begelei.

Ook met my en jou dood sal hulle daar wees. Daarom hoef ons nie te vrees wanneer ons deur die dal van doodskaduwee moet gaan nie.

JOERNAAL

Wat gaan deur jou gedagtes en wat voel jy wanneer jy dink aan jou oorlede geliefde (of jyself) wat deur engele begelei word tot in die arms van ons Hemelse Vader? Is dit net goedkoop troos of is dit iets wat vrede bring bo ons menslike verstand? Het jy al vir God dankie gesê hiervoor?