TEMA 10 – Wat gebeur wanneer ’n mens sterf?

Kliek hier om eers na die video, Wat sê die Bybel oor die dood, te kyk.

By die dood word ’n grens oorgesteek. Dit is ’n oorbeweeg van een dimensie na ’n ander, van die aardse stadium na die tweede stadium – die tussentoestand.

Terwyl die liggaam agterbly, word die geestelike komponent van die mens – sy of haar gees en siel – oorgeplaas na die “ander kant”. Dan breek jy deur die dimensionele skeiding tussen die “hier” en die “hiernamaals”.

Met die doodsgebeure gaan ’n groot stuk misterie gepaard. Wat gebeur met ’n mens in daardie krisismomente wanneer liggaam en gees skei?

Jesus vertel nie vir ons in Lukas 16:19-31 wat in die laaste oomblikke van Lasarus óf die ryk man se lewe gebeur het nie. Net dat hulle gesterwe het en hulle onmiddellik daarna in ’n totaal ander plek bevind het.

Almal sterf egter nie dieselfde nie. Vir sommige is die dood ’n plotselinge gebeurtenis. Vir ander lyk dit of die “oorgang” minute, selfs ure lank neem. Daar is al baie gespekuleer oor wat in daardie grenssituasie gebeur.

Oor die jare heen is daar talle gevalle gedokumenteer van mense wat klinies gesterf het en enigiets van ’n paar minute tot drie dae lank dood was en dan weer teruggekom het na die lewe. Sommige deur resussitasie, ander deur ’n onverklaarbare wonderwerk.

In baie van hierdie gevalle vertel die mense van boaardse ervarings wat hulle gehad het terwyl hulle klinies dood was en daar dikwels om hulle lewe geveg is.

Alhoewel sommige van hierdie verhale aan die absurde grens, is daar tog merkwaardige ooreenstemming tussen baie van hulle. Hulle val hoofsaaklik in twee kategorieë.

Daar is dié verhale – gewoonlik van mense wat goddeloos en onverskillig geleef het – wat vertel van ’n onbeskryflik negatiewe en skrikwekkende ervaring wat gewoonlik gepaardgaan met ’n duisternis en/of ’n inferno van vlamme, pyn, smart en verwyte.

Aan die ander kant is daar talle verhale van mense wat vertel dat hulle met hulle dood as ’t ware in ’n lang tonnel was met ’n lig aan die einde daarvan. As hulle dan deur die tonnel beweeg het, het hulle hul in ’n wêreld van onbeskryflik helder lig en ’n aura van boaardse vrede en liefde bevind.

Hoe moet gelowiges oordeel oor wat mense vertel?

Eerstens verander sulke mense wat ’n tweede kans op die lewe gegun is, feitlik sonder uitsondering radikaal en dramaties – veral dié wie se lewe nie reg was met God nie. Hierdie mense het diep onder die indruk van God se liefde gekom en is gevul met ’n passie om vir soveel mense moontlik van die Here en sy liefde te vertel.

Tweedens sou dit ook moeilik wees om sulke ervarings bloot aan hallusinasies toe te skryf. Kan iemand wat klinies dood is, hallusineer? Sal so baie mense wat niks van mekaar weet nie, basies dieselfde dinge beleef en sal hulle lewe daarna so dramaties verander?

Derdens kan ons nie mense se sterfbedervarings geringskat nie – of dit ’n skyndood of die finale afsterwe is.

Jy kan aanvaar dat mense op hulle sterfbed nie maskers dra nie. Baie mense dra in hierdie lewe maskers. Die doodsoomblikke stroop mense egter van hulle maskers. Wat jy op die sterfbed sien, is gestroopte mense, mense op hulle broosste, kwesbaarste, swakste – in ’n sekere sin op hul egste.

Alhoewel dit nie in elke geval van toepassing is nie, is daar dikwels ’n verskil waar te neem by die sterfbed van gelowiges en ongelowiges. Daar is menige getuienis dat ’n kind van die Here dikwels ’n ander ervaring op die sterfbed het as die ongeredde.

Hoeveel keer het ek nie al die voorreg gehad om die laaste paar treë saam met gelowiges te loop voordat hulle die poort van die dood deurgegaan het nie.

Dan het ek in diepe ootmoed en verwondering geluister na die kalm rustigheid en geloofsekerheid waarmee kinders van die Here oor die dood en die hiernamaals praat. En dit terwyl hulle voete, by wyse van spreke, reeds in die koue water van die doodsjordaan is.

Waar kom die uitdrukkings van vrede en rus en selfs ’n glimlag op die gesig van talle sterwende gelowiges vandaan? Ek sal nooit die dag vergeet toe ek jare gelede by die sterfbed van ’n vrome ou moeder gestaan het nie. Haar laaste woord voordat sy haar laaste asem uitgeblaas het, was: Jesus!

Ook vir my en jou as gelowiges is dit ’n wonderlike troos om te weet: As jy in hierdie lewe met Jesus gewandel het, sal jy nie alleen deur die doodsjordaan hoef te gaan nie – Hy sal by jou wees!

Sterwende gelowiges het dikwels bonatuurlike ervarings

Dit is opmerklik dat daar talle verhale vertel word van gelowiges wat ’n “engelervaring” gehad of die een of ander hemelse visioen op hulle sterfbed beleef het. Sterfbedverhale behels dikwels dat so ’n sterwende gelowige ’n (engele?)koor hoor sing het. Daar was selfs gevalle waar die sterwende oënskynlik wesens soos engele gesien het.

Wat sien of hoor hulle daar aan die ander kant van die doodsjordaan? Hoe kan dit verklaar word? Is dit dalk moontlik dat die gees van die sterwende gelowige in daardie laaste oomblikke – terwyl daar nog tekens van biologiese lewe is – reeds begin om iets van die werklikheid anderkant die grens van die dood te beleef?

Ek wil weer sê: Ek neem hierdie getuienisse nie ligtelik op nie – mense op hulle sterfbed is nie lus om toneel te speel nie.

Ek glo dat die Here sy kinders regdeur hulle lewe aan die beskerming van sy engele toevertrou. Sal sy engele dan nie dié wat vir Hom die kosbaarste is – sy kinders – ook op hulle laaste tog op aarde vergesel en beskerm nie?

Daarom, kind van God, hoef jy nie vir die doodbang te wees nie. Binne vyf minute na jou dood sal jy weet dat Hy wat jou van die hel gered het, met jou dood nader as ooit tevore aan jou sal wees.

As jy dalk spottenderwys wonder dat ek in ’n postmoderne tyd nog aan engele glo, wil ek sê: Ek kan nie anders nie. Ek kan nie in die Bybel glo en nie ook glo wat die Bybel oor engele sê nie. In elk geval – binne vyf minute na die dood sal ons weet!

JOERNAAL

Het jy al ʼn ervaring met engele gehad? Ken jy iemand wat so ʼn ervaring gehad het? Hoe versterk hierdie verhale jou geloof? Wat leer jy oor God hieruit?

Is daar iemand in jou familie of vriendekring wie se sterwensoomblikke ir ander tot versterking kan wees? Was jy teenwoordig toe iemand hulle laaste asem uitblaas? Vertel die verhaal, skryf dit neer en maak so God se Naam groot. Ook as daar nie iets bonatuurliks gebeur het nie, maar jy iets van God aangevoel het in die stilte of die harwar van ’n noodsituasie.