Die dood is die één gebeurtenis wat alle mense raak, maar dit is die laaste item op die agenda van elkeen se lewe hier op aarde.
Sommige mense begeer die dood, soek selfs daarna. Dis egter nie die normale nie. Die meeste van ons, selfs dié wat opreg in die Here en in die wonderlikheid van die hemel en die lewe na die dood glo, is gewoonlik nie haastig om dood te gaan om daar te kom nie.
Tog is dit interessant dat gelowiges wat naby die einde van hulle lewenspad kom – selfs al is hulle nie noodwendig ver gevorderd in jare nie, partykeer ’n gevoel van ’n “voltooide lewe”, ervaar. Die gedagte aan die dood bring nie by hulle vrees of angstigheid nie, maar rustigheid en vrede.
Dit het niks te doen met depressie of fatalisme nie, en hulle praat dikwels nie veel daaroor nie. Dis gewoonlik eers na hulle dood dat hulle geliefdes sekere woorde of insidente herroep wat hulle laat besef dat die persoon op ’n manier ’n “voorgevoel” gehad het dat sy of haar tyd op aarde einde se kant toe staan.
Niemand kan meer maak of die dood ver is nie
Daar is baie min mense wat nog nie deur die dood geraak is nie. Dit is waar dat ons as gevolg van die media en moderne kommunikasie daagliks met die dood gekonfronteer word – tot so ’n mate dat ’n mens soms daardeur afgestomp raak.
Maar net totdat die dood aan jou eie familie en vriende se deur kom klop; wanneer hulle aan jóú kant van die bos kom kap; wanneer die skaduwee van die dood ook oor jóú kom val.
Dan is daar natuurlik jou eie dood. Vir die grootste deel van jou lewe begroot jy nie regtig daarvoor nie. ’n Groot deel van ’n mens se lewe gaan verby voordat die herinneringe aan die dood al hoe meer gereeld verskyn. Soms gaan daar weer baie min tyd verby omdat ongelukke en siektes nie na ouderdom kyk nie.
Al hoe meer bekendes en tydgenote, familie en vriende, sterf. In jou eie liggaam word die tekens van veroudering al duideliker … of jy besef jou nog-nie-so-oud-nie liggaam is ook in die spervuur van siektes en ongelukke.
Sonder om fatalisties te raak of om op te hou om voluit te lewe, besef jy: Die dood is onverbiddelik op pad. Jy kan dit nie onbepaald uitstel of systap nie. Die dood laat ’n mens broos, weerloos en kwesbaar.